Nuuskommentaar: Vreetsame soustrein

Terwyl die wêreld gister Internasionale dag vir die Uitwissing van Armoede gevier het, het die bedrag geld wat die Suid-Afrikaanse regering glo jaarliks aan spyseniering  spandeer – R5 miljard – opslae gemaak. Die Demokratiese Alliansie het die sweer oopgeprik.

En dit is nie al nie. Kort-kort ruk berigte ‘n land wat noustrop trek van staatskorporasies soos Eskom, en spartelende munisipaliteite wat astronomiese bedrae op onthale, partytjies, sogenaamde spanbougeleenthede en uitstappies spandeer.

Die aandag op wat die parlement spandeer om die parlementslede uitgevreet te hou, is al ‘n dekade gelede uitgewys toe oud-minister Kent Durr gekla het oor die kostafels wat so by elke komiteesitting kreun. Van sy kollegas het hom erg verkwalik.

Die Christen-Demokratiese Party het uitgewys dat die tipe swaargewig-politici wat die land benodig, iets heeltemal anders is as politici wat letterlik ‘n skaal laat kreun.

Indien die syfer reg is, beteken dit dat die staat ‘n jaar lank elke dag 500 000 mense teen ‘n koste van R30 per persoon kan onthaal.

Of anders gestel, ‘n miljoen werkloses elke dag van R15 se meel en brood te kan voorsien.

Die nuus, waarop die regering nog nie gereageer het nie, kom te midde van landswye stakings wat nie al te vreedsaam verloop nie. In groot dele het die wetlike onderhandelingstrukture in duie gestort, en die in prompte onderhandelaars kom met buitensporige eise. Die onderliggende rede is dat die inkomstegaping in die land onhoudbaar groot geword het. Mynbase verdien in enkele dae wat sommige mynwerkers in ‘n jaar verdien. Min of meer dieselfde verskynsel speel hom in ander sektore soos die bankwese en die pers af. Boonop het die land ‘n groot werkloosheidskoers.

Sosioloë wys daarop dat dit ‘n resep vir revolusie is. Politici op die soustrein is die ekwivalent daarvan dat koningin Marie Antoinette glo gesê het: “As die armes nie brood het nie, laat hulle koek eet.”

Kort voor lank het dit doller as kop af gegaan.

Die probleem is nie uniek aan Suid-Afrika nie, en ook in die VSA verdien die boonste een persent van die bevolking in ‘n week 40% meer as wat die onderste vyfde in ‘n jaar verdien. Suid-Afrika se gaping is egter groter, en die land word deur ‘n party regeer wat daarop aanspraak maak dat dit by uitstek die belange van die armes bevorder.

‘n Kleptokrasie en plundermentaliteit dien nie beste belang van die staat nie, en nuus oor Nkandlagate en Zumaville wat nou beide in die visier van die Openbare Beskermer is, breek ook die beeld af van ‘n regering in belang van die armes. Trouens, dit breek die beeld af van ‘n regering in algemene belang, en lyk na iets wat slegs die soustrein voed. Dat daar nou klagtes  teen die Openbare Beskermer is wat potensieel tot haar afdanking kan lei, help ook nie.

Die TLU SA het onlangs syfers bekend gemaak om te toon hoe dun die basis tussen die voedselketting in die land, en hongersnood is. Net ses persent van die landbouers produseer 95 persent van die land se kos, en grondhervormingsplanne rig steeds gulsige oë op die suksesvolle boere se grond. Die afgelope twee jaar het die aantal hongerlydendes in Afrika suid van die Sahara van 170 miljoen tot 234 miljoen toegeneem, en baie van hierdie mense beland ook hoopvol in Suid-Afrika.

MaroelaMedia berig dat die doel van die Internasionale Dag vir die Uitwissing van Armoede is om bewusmaking te skep oor die belangrikheid daarvan om armoede uit te roei. Die land se getal werkloses staan volgens Statistieke SA op 4,47 miljoen mense.

Volgens die Suid-Afrikaanse Kamer van Handel en Nywerheid (SAKHN) is hierdie vlakke steeds heeltemal te hoog vir volhoubare ontwikkeling. Dié organisasie het sy kommer uitgespreek dat byna elke tweede Suid-Afrikaanse volwassene werkloos is.

Solidariteit se Helpende Hand glo dat opheffing-deur-opleiding die antwoord is om armoede volhoubaar uit te roei. Die skep van ’n welsynstaat bied nie ’n langtermynoplossing vir armoede nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae