Nuuskommentaar: (Vrot)pote in die spervuur

Daar is baie goeie polisielede, maar ‘n ketting is so sterk soos sy swakste skakel. En as daai swak skakel sommer die heel eerste een is, soos wanneer twee agtereenvolgende nasionale polisiekommissarisse in die stof byt, het die land ‘n probleem. Die spreukwoord lui immers dat ‘n vis van sy kop af verrot.

Die stelling van appèlhofregter Leona Theron tydens ‘n konferensie oor korrupsie op die Kovsiekampus dat die polisie naas die verkeerspolisie die mees korrupte instelling in die land is, moet die land regop laat sit en behoorlik kennis van neem.

“Meer as 5 000 formele klagte is in 2011 teen polisiebeamptes ingedien. Daar is duisende klagte wat nié ingedien word nie,” het sy volgens die Volksblad gesê.

In die hoofartikel van vanoggend se Beeld is die minister van polisie een van die kabinetslede in wie se oog ‘n beskuldigende vinger oor die Nkandla-saak gedruk word: “Hulle verwag van ons om te glo dat R206 miljoen se aanbouings by pres. Jacob Zuma se private woning in Nkandla bestee is om Zuma se veiligheid te verseker. Nie ’n sent daarvan is glo aan Zuma se private woning bestee nie. En, terwyl al die ‘veiligheidsverbeterings’ aan die gang was, was Zuma totaal en al onbewus daarvan.  Thulas Nxesi, minister van openbare werke, probeer dié onwaarskynlike storie saam met ministers Jeff Radebe, Siyabonga Cwele en Nathi Mthethwa verkoop nadat hulle ondersoek ingestel het of staatsgeld aan Zuma se private woning bestee is.”

Boonop het die minister ook ‘n stokkie probeer steek voor ‘n kommissie van ondersoek wat die Wes-Kaapse premier na geweld en polisiedoeltreffendheid in Khayelitsha ingestel het, maar in die hof bloedneus gekry.

Onlangs is ook onder die opskrif, “Oud-kommissaris se ‘rassistiese onderrok het uitgehang’” berig dat ‘n voormalige Vrystaatse polisiehoof ‘n lastereis teen ‘n senior regsbeampte van die polsie verloor het. Die landdros het onder meer bevind dat die kommissaris die regsbeampte se bevorderingsgeleenthede deur die laster gesaboteer het, in ‘n geval waar die kommissaris met ander senior polisielede die verkeerde kant gekies het en saamgespan het om die verkeerde mense in ‘n saak te laat arresteer – iets wat in die howe reggestel moes word en die staat baie aan eise gekos het.

Solidariteit voer in sy regsaak  oor die bevordering van Renate Barnard aan dat “naakte rassisme” die versuim verklaar om haar te bevorder.

Op die oomblik is daar kort-kort berigte dat die polisie in die Boeremagsaak bewyse teen die aangeklaagdes gefabriseer en geplant het. Uit leserskommentare is dit duidelik dat dié bewerings soos saad op goed-voorbereide landerye geval het en mildelik ontkiem en groei. Kortom, die vrot appels het gemaak dat baie lede van die publiek bereid is om enigiets onguur oor die polisie te glo.

Vanoggend word berig dat ‘n Britste nuuskanaal, Channel 4, skokkende nuwe beeldmateriaal oor die Marikana-skietery uitgesaai het.

Dit is ou nuus dat negatiewe berigte oor die polisie ‘n daaglikse verskynsel is, van voertuie wat glo nie beskikbaar is nie omdat dit in privaat gebruik is, telefone wat nie beantwoord word nie, en wanneer dit wel by ‘n stasie in ‘n oorwegende Afrikaanse omgewing beantwoord word, die persoon aan diens nie die oproepe in Afrikaans of Engels kan hanteer nie, sterftes in polisieselle, en die weiering om klagtes soos diefstal uit iemand se bankrekening te aanvaar omdat dit glo ‘n siviele aangeleentheid is. In ‘n stadium was daar volop berigte dat die polisie die laaste instansie was wat op die toneel van plaasaanvalle opgedaag het, al was die polisiestasie net om die draai.

‘n Kandidaat vir ‘n laagtepunt was toe ‘n plaasbesetter in die Oos-Vrystaat eenvoudig ‘n plaas oorgeneem en die wettige eienaar afgesit het, en die polisie geweier het om op te tree terwyl die destydse nasionale kommissaris daar naby, in Bethlehem, die langverwagte landelike beveiligingsplan aangekondig het.

In isolasie skep die berigte en kommentaar waarna hierbo verwys word nie die prentjie van ‘n polisiediens waar gemeenskapskakeling, soos GPF’s, ‘n belangrike deel uitmaak nie. Gelukkig is daar ook mooi verhale soos verskeie onlangse sake waar die polisie en die gemeenskap mooi saamgewerk het om plaasaanvalle te voorkom en renosterstropers vas te trek.

Het die tyd nie aangebreek dat die publiek meer aandag skenk aan die identifisering van pligsgetroue en hulpvaardige polisielede, en dat dié geïdentifiseerde lede deur die burgerlike samelewing erkenning daarvoor kry nie? Niemand wil immers in ‘n land woon wat as die wêreld se verkragtingshoofsetel bekend staan, waar die moordkoers onder die hoogstes ter wêreld tel en Suid-Afrika skouspelagtig op die korrupsiepersepsie-indeks agterruit boer nie. Wetsgehoorsame burgers soek nie pote met vrotpootjie nie. Hulle soek ’n polisie na wie die tsotsi’s met ontsag na verwys as die “grype”.

Of gaan die lede wat op dié wyse erkenning kry deur hul minder voorbeeldige kollegas geteiken word, bloot omdat hulle is wat hulle veronderstel is om te wees – geregsdienaars?

Baie dankie aan die geregsdienaars wat is wat hulle veronderstel is om te wees, en dit is omdat hulle dit wil wees.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae