Nuuskommentaar: Vrouedag op koers?

Op 16 Desember vanjaar sal dit presies 100 jaar wees sedert die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein onthul is. Bykans 30 000 vroue en kinders is in die Anglo-Boere-oorlog dood, baie van hulle in konsentrasiekampe.

Dié gebeure is egter nie die begronding van Nasionale Vrouedag wat vandag in Suid-Afrika gevier word nie. Maar ontrafel van die politieke wortels, kan daar min twyfel wees dat Suid-Afrika ‘n vrouedag verdien. Daar kan op verskillende maniere na die behoefte gekyk word – die aanspreek van die vrou as slagoffer, soos byvoorbeeld dat Suid-Afrika die verkragtingshoofsetel van die wêreld is, dat vroue dikwels in die werkplek aan seksuele teistering blootgestel word, dat vroue gereeld in terme van veral bevordering, nog gereeld diskriminasie ervaar…
Soms is daar vordering, soos die nuus dat Suid-Afrika 57 howe vir seksuele misdrywe kry.

In Suid-Afrika mag mans met meer as een vrou trou (en dan nog skynbaar reperkussieloos rondloop ook), maar ‘n vrou het nie die “voorreg” nie. Veral onder die druk van die huis van tradisionele leiers is wetgewing voorberei wat, sou dit wet word veral plattelandse vroue se regte, soos in die regspraak, tot Middeleeuse vlakke sou terugsleep.

Of vroue kan in die konteks van hul prestasies gemeet word. Vroue wat as regters aangestel word en ‘n sukses daarvan maak, vroue wat beroepsprestasies behaal, en vele meer. Onlangs moes die Vlaamse Geneeshere-vereniging sy naam verander omdat die meeste, 80 persent, nuwe dokters nie meer (genees)here is nie, maar vroue.

In sekere kerkverbande is daar (nog) weerstand oor die toelating van vroue tot sekere ampte, met die argument dat uit die Bybel afgelei word dat dit lyk of die Here wel ‘n onderskeid tref tussen bepaalde funksies wat vir die man en die vrou gereserveer word.

Prestasies kom dikwels ook teen ‘n prys, waar die vrou die primêre broodwinner word, en daar ook gevalle voorkom waar die man sy beroep moet prysgee om kinders te versorg, juis omdat die vrou ‘n groter inkomste verdien. Nuwe verwysingsraamwerke ontstaan, en dit gaan nie altyd maklik nie as ‘n man deur wat hy as gemeenskapsdruk ervaar, minderwaardig begin voel en in enkele gevalle sy frustrasie uiting gee deur aanranding, hetsy fisies of deur geestelike aftakeling.

Daar bly baie onbeantwoorde vrae, wat dikwels die grens tussen die reg tot vroulikheid met gelyke regte, en die reg tot feminisme toets. Word vroueregte beskerm of geskend deur die reg te ontwikkel om sekswerkers te wees? Verander die eufemistiese naam sekswerker bo prostituut, of selfs erger, hoer, werklik enigsins aan die uitbuiting, selfs onder gekontroleerde omstandighede, van vroue?

Gaan bekende feministe in Suid-Afrika hul goedkeuring verleen aan die modus operandi van die Europese groep, Femen, wat opslae maak met hul bostuklose protes teen alles wat as ‘n onreg teen vroue vertolk word – met konserwatiewe Moslem-geestelikes in Europa as gewilde teiken? Soos oupagrootjie altoos gesê het, ‘n mens moet nooit te te wees nie.
En nee, die gerug dat die Europese polisiemanne lootjies trek om te bepaal wie die “voorreg” het om die volgende rondte arrestasies van Femen-betogers uit te voer, is nie waar nie.

Enkele jare gelede het die destydse Openbare Beskermer – deur die grondwet ingestel – gekla dat sy salaris kleiner is as die salaris van die voorsitter van die Jeugkommissie, wat nié deur die grondwet aangestel is nie. Die analoog is dat die owerheid inderdaad op die oog af meer waarde aan die jeugstrukture, soos die NYDA, skenk as aan grondwetlike liggame waarvan die Kommissie vir Geslaggelykheid een is. Die jeugstrukture het in weinig meer ontwikkel as strukture waar ANC-jeugleiers reuse salarisse verdien, en nog meer geld uitmors. Hierteenoor was die Kommissie vir Geslagsgelykheid periodiek erg gekortwiek deur vakatures. Op ‘n manier kan dit as disrespek van die regering teenoor die grondwet vertolk word.

En die gevaar besaan dat stereotipes kan ontwikkel. Nie alle vroue is engeltjies nie, al is vrouetronke veel minder bevolk as manstronke. En daar is vroue wat ydel ‘n hoër premie op hul gereelde besoeke aan skoonheidsalonne stel, as om ‘n rol in die gemeenskap te speel.

Kaalvoet oor die Drakensberge, haglike omstandighede in konsentrasiekampe of amper net sulke moeilike omstandighede as “wilde vroue” op vlug voor die kakies, as staatmakers in kerke en die gesin … Ons vroue verdien nie iets anders as die beste nie

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Hoofnuus, Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae