Nuuskommentaar: Vryheid van uitdrukking versus die reg op waardigheid

Dáárdie skildery

Leke bied dikwels spraakvryheid as ‘n onbeperkte reg in Suid-Afrika uit, maar die reg op uitdrukking, ook spraak- en mediavryheid, word soos alle ander regte in Suid-Afrika beperk.

Dié kwessie het pas weer in die saak rondom die omstrede skildery van pres. Jacob Zuma ter sprake gekom, maar dit duik by veel meer geleenthede op. Van die bekendstes is Julius Malema se verweer teen die lastersaak wat Helen Zille teen hom aanhangig gemaak het, dit is ook basies sy reeds verwerpte verweer teen die haatspraakbevinding teen hom, op die Facebook van die SteedsHervormers is ook vrae oor spraakvryheid gevra na dié kerk se Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (sinode) die oor en weer slegsêery in dié kerk probeer stuit het, en vele meer.

Alle menseregte is beperk

Alle regte in die grondwet word beperk, en op verskeie maniere. Die belangrikste is waar my reg iemand anders se reg ontmoet. Ek mag volgens die grondwet bewegingsvryheid hê, maar as ek gou winkel toe stap kan ek nie kortpad deur my buurman se huis vat nie.

In Pretoria het die reg op veiligheid teen bewegingsvryheid te staan gekom toe sekere dele van woonbuurte beheerde toegang wou instel, en ander gevoel het dit tas hul bewegingsvryheid aan.

Dit is nie om dowe neute nie dat die regspraak in Suid-Afrika as ‘n weegskaal met twee bakkies voorgestel word.

Kom dit by die reg op uitdrukking en spraakvryheid, lyk dit soms of hierdie die primêre regte is waarop ‘n vrye demokrasie gevestig word. Word na die visie en missie van die Freedom of Expression Institute (FXI) gekyk, lyk dit nie werklik of die Instituut aanvaar dat daar beperkings kán wees nie: Visie “A society where everyone enjoys freedom of expression and the right to access and disseminate information and knowledge.” Missie: “To fight for freedom of expression and eliminate inequalities in accessing and disseminating information and knowledge in South Africa and beyond.”

Tog, in ‘n liberale omgewing met ‘n sterk fokus op individuele en selfs minderheidsregte sou ook verwag word dat baie fokus geplaas word op waardigheid, en die reg om nie die slagoffer van haatspraak te wees nie. Die polemiek telkens wanneer die k-woord ingespan is getuig van ‘n behoefte. In hierdie omgewing gebeur dit dikwels nié, soos die kritiek op die Malema-skuldigbevinding.

Boodskap uit die Bybel

Hierdie beskermende individuele regte soos om nie die tong as skeermeslem in te span nie, is dikwels in die Bybel ook ondervang.

“Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met ‘n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry. Daar staan geskrywe: “As iemand die lewe liefhet en ‘n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens.” (1 Pet. 3: 9 -10)

“Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword.” 1 Kor 13: 1

Ander soorte beperkings tree in deur faktore soos wetlike beperkings, soos regstellende aksie wat die verbod op onbillike diskriminasie beperk, en waar die spesifieke reg hom nie daartoe leen om op regspersone van toepassing te wees nie, of wanneer die reg net vertikaal toegepas kan word, dws van staat na burger, en nie van burger tot burger nie. Die goue reël is dat die beperking van ‘n reg, selfs nie tydens ‘n noodtoestand nie, so uitgelê kan word dat dit die oorspronklike reg tot niet maak nie.

Kultuur- en rasimplikasies

Zuma en sy kinders beroep hulle sterk op die skending van waardigheid in hul aansoek teen die galery wat die gewraakte skildery uitstal. Dié interdik word Woensdag bereg, en dit sou voortydig wees om die hof se beslissing vooruit te loop. Intussen is onafhanklike ontleders diep aan die besin oor waar die grens tussen uitdrukkingsvryheid, soos dit ook in artistieke vryheid uiting vind, en die reg op waardigheid mekaar ontmoet.

Die reg op waardigheid word uiteraard ook beperk. Politici, weens die aard van hul werk, is tradisioneel aan die mees robuuste vorm van die oopvlek van hul persoonlike lewe blootgestel. En die wêreld het al verskeie gevalle opgelewer, soos waar die Monica Levinsky-saak en die Profumo-skandaal onder die mees bekende gevalle van die moderne geskiedenis tel.

Die interessantheid is dat konings, en hierdeur later seremoniële presidente, deur ‘n ou protokol en selfs wetgewing teen beledigings beskerm word. Die eerste staatspresidente van Suid-Afrika het dié beskerming geniet, maar sedert die presidentskap in die tyd van PW Botha in ‘n uitvoerende presidentskap omskep is, is dit nie meer die geval nie. Mugabe het egter na die versmelting van die poste op hierdie verskansing aangedring.

In die Zuma-verweer word afgesien van die persoonlike aantasting van dignitas, ook die kwessies van kultuur en ras ingetrek. Die argument is dus dat hy, en ander swart mense, as dierlik uitgebeeld word omdat hulle “tradisioneel leef.”

Weens politieke inkorrektheid gaan die waarheid oor kulturele sake van volke dikwels verlore. Sal daar werklik ‘n deskundige getuie na vore tree en Zuma se aanspraak ver werp en aandui dat sy lewenswyse nié werklik die Zoeloe-kultuur weerspieël nie? Dat sy buite-egtelike kinders en owerspel eerder die gevolg van ‘n wegbeweeg van die Zoeloe-kultuur is, en dat dit eerder tipies is van ‘n kultuur in transito is met talle elemente van ‘n anti-kultuur. Die parlement moes selfs ‘n paar jaar gelede ingryp om die omstrede tradisionele maagdelikheidstoetse van die 16-jarige meisies te verbied, maar die praktyk duur steeds wydverspreid voor omdat maagdelikheid voor die huwelik nie net as bate beskou word nie, maar as beste verweer teen ongewenste swangerskappe en die opdoen van MIV Vigs. Op die oog af staan die elemente van Zuma se kultuur wat nou op die doek verewig is ver van die werklike tradisionele Zoeloe-kultuur.

Die raskwessie is komplekser, omdat dit nie volgens vaste reëls gespeel word nie. By misdade waarby wit en swart betrokke is, soos die bekende leeukamp-voorval, die Reitz-vier, die moord op Eugene Terre’Blanché, die Skierlik-skietery, plaasmoorde, kapings en die insident wat die model tot die k-woord gedryf het, moet die kliniese regsfeite dikwels in die harte van mense terugstaan vir die oorweldigende rassesolidariteit wat ontstaan. ‘n Paar appèlsake het ook al getoon dat voorsittende beamptes hul regsoordeel deur die rassekwessie laat beïnvloed het.

Tydens die vorige bedeling het dit as verswarende omstandighede gegeld wanneer misdaad oor die rassegrens gepleeg is, juis weens die plofbare situasie wat geskep word.

Kuberomgewing

Dit vind in ‘n omgewing plaas waar die internet in Suid-Afrika ook sy eie robuuste karakter ontwikkel het, en webmeesters word baie besig gehou om kwetsende, ook raskwetsende, vitrioel wat skuilnaampapbroeke plaas, te verwyder. Die strome klagtes word al groter en groter hieroor – en selfs die Bybelgenootskap word nie met petisies ontsien nie, wat volgens die Bybelgenootskap van alle waarheid ontbloot is. Godsdiensdebatte raak dikwels gewoon walglik, ligjare verwyder van die saak wat die deelnemers wil dien, en debatte oor die evolusie, selfs teïstiese evolusie, herinner aan ‘n eietydse inkwisisie.

Teen dié agtergrond nader Zuma nou die hof. Afgesien van die regsvrae soos of Zuma weens sy presidentskap minder of meer robuuste houe onder die ken (of is dit nou onder die belt?) as gewone Suid-Afrikaners moet kan vat en of sy lewenstyl die uitbeelding “regverdig”, is veel meer op die spel.

Dié saak kan ook bepaal hoe genormaliseer wit-swart verhoudinge in die land is, ‘n antwoord waarvan Zuma en die ANC dalk nie sal hou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.