Nuuskommentaar: Vryheid van uitdrukking vs. geloofsvryheid

Foto: AFP

Daar is ‘n rede waarom die mens twee ore en twee oë het, en net een tong. Is daar iets soos ‘n mensereg wat hoër of belangriker as ‘n ander reg is? Wat hiermee saamhang is die mate waartoe so ‘n reg, soos alle ander regte, beperk mag word. Alle regte word immers begrens.

Die vraag is nou wêreldwyd aktueel na ‘n derderangse film wat Mohammed beledig die rondte begin doen, en radikale Moslems laat amok maak het.

In Suid-Afrika word die vraag gereeld gevra, soos met die skildery wat pres. Jacob Zuma se skaamdele ontbloot het en die skuldigbevinding van Julius Malema aan haatspraak. In Europa kook dit nou oor ‘n toekomstige koningin se titels wat voortydig in ‘n tydskrif beland het.

Om te probeer vasstel watter reg die heel belangrikste sou wees, is soos om vas te stel watter sintuig iemand sou kies, as hy net een sou kon kies. Die meeste sou waarskynlik kies om te kon sien, terwyl mense met ‘n groot liefde vir musiek waarskynlik sou wou kon hoor. Waarskynlik net die grootste babbelbek in die laerskool sou kies om te kon praat, as spraak ‘n sintuig sou wees.

Tog is ‘n reg wat algemeen as die belangrikste voorgehou word, die reg van vryheid van uitdrukking, wat onder meer in spraakvryheid en mediavryheid manifesteer. In Suid-Afrika word die stryd om te voorkom dat dié reg beperk word deur onder meer die Freedom of Expression Institute gedryf.

Die aandrang op die beperking van die reg op vryheid van uitdrukking word deur verskeie regte gelei, waaronder die reg op waardigheid, die reg op godsdiensvryheid, die reg op veiligheid wanneer haatspraak mense of groepe se lewens begin bedreig en vele maar. Vryheid van uitdrukking word egter ook deur gewone wette beperk, soos lasterwette en landsveiligheid.

Die ironie is dat liberalisme in die praktyk dikwels juis neig om onverdraagsaam teenoor vryheid uitdrukking te wees as daardie vryheid inligting oplewer wat nie die liberale saak ondersteun nie. Die rubriekskrywer, Rhoda Kadalie het al na politieke korrektheid verwys as die diktatuur van die liberalis. ‘n Goeie voorbeeld nou is die wyse waarop ‘n deel van die media Solidariteit se Woolworths-veldtog hanteer, waar die inspan van verswyging, wanvoorstellings en onwaarhede kenmerkende elemente is.

Trouens, dié aspek speel op die oomblik ‘n ewe belangrike rol daarin dat Suid-Afrika ‘n betreklik power 42ste plek op Verslaggewers sonder Grense se persvryheidsindeks beklee, as wat die regering se voorgenome snoerwette daarin speel. Dit is verstaanbaar dat akademici uit die liberale dampkring meen Suid-Afrika verdien ‘n beter posisie.

Ideologie en die belangrikheid van menseregte maak soms moeilik sin, soos om die reg op privaatheid as belangriker as die reg op lewe te beskou en sodoende aborsies te regverdig.

Maar behoort “vryheid van uitdrukking” werklik die “hoogste” reg te wees vanuit ‘n liberale perspektief?

Liberalisme, soos sosialisme, is deel van die humanistiese uitkyk, dus waar die mens sentraal staan. Liberale grondwette soos dié van Suid-Afrika neig dus om aspekte soos gelykheid, die reg op menswaardigheid, die reg op veiligheid, die reg op privaatheid en die reg om nie aan slawerny en gedwonge arbeid onderwerp te word nie vroeg op die lys van regte te plaas. In die Suid-Afrikaanse grondwet word selfs die reg om ‘n godsdiens te beoefen, voor die reg op uitdrukking gestel.

Dit is ook insiggewend dat die Suid-Afrikaanse grondwet die reg op opinie saam met die reg op godsdiens en oortuiging lys, en die reg van opinie en die reg op vryheid van uitdrukking van mekaar skei.

Wat die reg op godsdiensbeoefening in staats- en ander openbare instellings betref, laat die Suid-Afrikaanse grondwet dit toe, onderhewig aan sekere voorwaardes soos dat bywoning vrywillig moet wees. In Duitsland is na die Tweede Wêreldoorlog besluit om die aanbied van godsdiensonderrig op skool verpligtend te maak om te voorkom dat ‘n toestand van immoraliteit weer posvat wat aan die Nazi’s vastrapplek gegee het. Maar hoewel die aanbied verpligtend was, was die bywoning daarvan nie. Enkele jare gelede, weens die toestroming van baie Moslems, kon leerders ook begin kies tussen Christelike godsdiensonderrig, en onderrig oor die Islam.

In die VSA is ‘n ander benadering gevolg, waar godsdiens in wese uit die openbare domein geweer is. Dit het eventueel gelei tot die bekende gevalle waar ‘n regter aangesê is om ‘n beeld van die Tien Gebooie uit sy kantoor te verwyder, en ‘n oorlogsgedenkmonument gelas is om ‘n Christelike kruis wat deel daarvan uitgemaak het, te verwyder. Uiteindelik is die veldtog om godsdiensvryheid met effektief geen godsdiens gelyk te stel tot absurde vlakke gevoer, en ‘n belangrike keerpunt was toe ateïstiese aktiviste ‘n kerk verkla het omdat ‘n Christelike simbool in die kerk se agterplaas, vyftig meter van die straat af en sigbaar as deur die hekke geloer word, “aanstoot” sou gee. Die hofstryd tussen groeperings wat deel is van die veldtog om, soos dit gestel word, die VSA vir die Here terug te wen, en groepe wat enige godsdiensuitdrukking buite die kerkmure as ‘n skending van vryheid van geloof beskou, woed nou van hof tot hof in die VSA.

Die posisie in die internasionale reg is op die oomblik dat iemand nie oor die godsdiens wat hy beoefen beledig mag word nie. Pakistan het enkele jare gelede ‘n voorstel by die VN se Menseregteraad goedgekeur gekry wat die belediging van ‘n godsdiens self tot haatspraak verklaar het. Dié posisie het egter onhoudbaar geblyk te wees vanuit godsdienste self. Dit sou onder meer Christene en Moslems se aanspreek van satanisme inkort. Sendelinge sou hul woorde besonder versigtig moes kies om iemand te oortuig hoekom hy hom tot ‘n ander godsdiens moes bekeer. Kritiek op animistiese gebruike soos poligamie, die rituele slag van diere en voorvaderverering sou op haatspraak neerkom en strafbaar wees.

Trouens, die kerke sou leeg en die tronke vol wees oor die woordestryde wat binne die Afrikaanse susterkerke woed.

Die feit dat godsdienste self beledig mag word, maak dit egter nie noodwendig ‘n wyse ding om dit te doen nie. Daarom is politieke sosioloë geneig om krities te wees oor die opeis van die reg tot meningsvryheid om onder meer die Islam te beledig, soos nou met die omstrede film gebeur het, en voorheen met Salman Rushdie se boek, Satanic Verses en later die Mohammed-spotprente.

Europese en Amerikaanse koerante plaas nou lang artikels om te probeer ontleed hoekom daar so ‘n heftige reaksie op die film is. Groot sorg word in die proses aan die dag gelê om te onderskei tussen die radikale Islam van die Ajatollas en die neo-Salafiste aan die een kant, en die gematigde Islam aan die ander.

Mense wat die reg opeis om die Islam te beledig hou dikwels nie rekening met die lot van Christene in Islamitiese lande nie. Die geval van die verstandelik-gestremde Christenmeisie in Pakistan wat aangekeer is vir godslastering na sy, as bitter arm kind, papiere opgetel het om kos mee gaar te maak, en die papiere toe geblyk het heilige Moslemverse te bevat, het opslae gemaak. Boonop het ‘n geestelike onthul dat die Imam wat die klag gedryf het, die “bewysstukke” vir die polisie geplant het. Die nuwe aanklaer wat die borg teengestaan het, het beweer die meisie maak deel van ‘n internasionale komplot teen die Islam uit.

Die wag voor die mond, en die omsigtige inspan van die tong word deur die Bybel as Christelike deugde voorgehou.

Die mens het twee ore en twee oë, en net een tong, maar as na die ekstreme kyk waartoe vryheid van uitdrukking gekyk word, lyk dit nie so nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Geen kommentaar

william ·

Daar het niks gekom van FW De Klerk se wigte en teenwigte nie. Wanneer gaan die witman sy vryheid kry eens en vir altyd?

william ·

In Suid Afrika het die kriminele meer regte as die slagoffers.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.