Nuuskommentaar: Vryheid

Minister Angie Motshekga se dreigement om die wet te verander om ‘n appèlhofuitspraak om te keer oor ‘n skoolbeheerliggaam se toelatingsbeleid word nou uit talle oorde gekritiseer. In wese wil sy magte vir die staat opeis waar dit nie hoort nie, en so burgerlike vryhede help erodeer.

Hierteenoor maak die einste staat bokspronge om die skuld vir die padslagting te verplaas. Dit is nie ‘n swak padveiligeidsveldtog of selfs slaggate en ander swak padtoestande se skuld nie – dis die motoriste s’n.

In ‘n staat wat nog nie grondwetlike of staatkundige volwassenheid bereik het nie, word dikwels ervaar dat die term vryheid min of meer simplisties verstaan word soos wat vryheid vir ‘n gevangene basies net een ding beteken – om die oop tronkdeure te sien en daardeur te kan stap.

Om bloot oor stemreg te beskik beteken lank nie vir almal vryheid nie. ‘n Party wat in ‘n vry en regverdige verkiesing aan bewind kom, is nie die hoogtepunt van vryheid nie. Die party moet eers leer om nie net in belang van sy ondersteuners te regeer nie, maar om in algemene belang te regeer voor begin kan word om demokrasie en vryheid in dieselfde asem te noem. As ‘n regerende party dit nie doen nie, noem politieke wetenskaplikes dit ‘n diktatuur van die meerderheid. Die ANC se beleid van kaderontplooiing is ‘n teksboekvoorbeeld hiervan.

‘n Tweede eienskap van ‘n onvry, of onvolwasse demokrasie is as die staat sy gesag ook laat geld waar dit nie tuishoort nie, soos in die gesin, die kerk, die sake-onderneming, die huwelik, klubs, skoolbeheerliggame en selfs politieke partye. Die Nederlandse regsfilosoof het die vryheid wat ander lewensfere van die staat geniet, soewereiniteit in eie kring genoem.  In so ‘n staat sal die hof, wanneer hy genader word om ‘n onmin in so ‘n liggaam te besleg, in wese net oordeel of die liggaam reg ingevolge sy eie grondwet opgetree het.

Dooyeweerd het egter ook die beginsel van universaliteit in eie kring geken. As ‘n kerk begin planne beraam om lidmate wie se dankoffers agter raak op te hang – om ‘n absurde voorbeeld te noem – sal die staat ingryp. Die staat sal so ook die plig hê om by gesinne met gesinsgeweld en kinderverwaarlosing in te gryp.

Die regte waaroor die samelewingstrukture beskik is inherent, en nie iets wat deur die staat gedelegeer, en sommer weer ingetrek kan word as dit die staat behaag nie.

Wanneer daar ‘n morele krisis in die land is, kan die staat nie opdrag aan die kerke gee om dit aan te spreek, en dan self met hande gevou agteroor te sit nie. Die kerk is nie ‘n verlengstuk van die staat nie. Die kerke behoort dit uit eie beweging te wil doen, en staan as Evangeliese roeping bekend. Die staat, en sy leiers, kan wel so ‘n aksie steun en onder meer self ‘n voorbeeld stel.

Outonomie van skoolbeheerliggame

Net so het ‘n skool se ouerbeheerliggaam oorspronklike gesag, Die appèlhof het wel die kwalifikasie toegevoeg dat die gesag van so ‘n liggaam toeneem soos die persentasie van die ouers se geldelike bydrae tot die skool se bedryfskostes toeneem.

Dit is hierdie vryheid wat die minister wil intrek, skynbaar sonder om te besef dat sy hiermee ‘n presedent skep waarmee die staat heel demokraties die ganse vryheidspektrum kan ondermyn.

Maar selfs by skole wat ten volle deur die staat gefinansier word, kan die beginsel nie wegneem word dat skole eintlik verlengstukke van die gesin is waar die beheerliggame hul gesag van die ouers kry nie. Die rol van beheerliggame by die aanstel van onderwysers is dus nie ‘n aalmoesie wat van die staat kom nie, dit is ‘n voortsetting van die ouers se reg om die beste opvoeding vir hul kinders te verseker.

Slagting op die paaie – wie se skuld is dit?

Elke padgebruiker, van die motoris tot die fietsryer tot die voetganger het ‘n verantwoordelikheid en dit is ook hulle wat vervolg word as daar ongelukke is. Die staat se verantwoordelikhede is egter ook wydlopend en dit kan nie maar net aan die padgebruikers “gedelegeer” word en die hande daarmee gewas word nie.

Op die oog af lyk dit of die Padverkeersbestuurskorporasie (PVBK) te simptomaties optree, en soos die minister van basiese onderwys hul verantwoordelikhede wil afskuif na waar dit nie hoort nie.

Die voorlopige syfers vir padsterftes oor die “feesseisoen” is effens misleidend omdat dit twee dae korter was as die vorige, en boonop ‘n week voor die skole van die kusprovinsies heropen, ten einde geloop het. Volgens die voorlopige syfers is 1 465 mense oor die “feesseisoen” dood, twee minder as die vorige maar twee meer per dag as toe. Die kunsmatige afsny van die “feesseisoen” is duidelik gedemonstreer toe verskeie noodlottige ongelukke op die dag  voorgekom het wat die voorlopige syfers aangekondig is.

Kritiek op die PVBK se veldtog sluit in:

–       Te veel verkeersbeamptes aan diens kruip agter bosse weg en vang net motoriste wat te vinnig ry, wat hul boetes eers later per pos kry. Die doel blyk om munisipaliteite se begrotings te laat klop eerder as om padveiligheid te bevorder. Een motoris het in ‘n brief aan Volksblad geskryf hoe hy vier versteekte spoedlokvalle by Richmond in die Karoo gesien het, met geen wetstoepassers in sig toe motoriste langs die pad gesit en bier drink het nie.

–       Van die dorpe se spoedgrens begin op die kaal haai vlakte kilometers buite die dorp, wat frustrasie laat opbou.

–       Baie motoriste kla oor korrupsie, wat wissel van omkoopgeld om beweerde verkeersoortredings ongedaan te maak, tot omkoopgeld om rybewyse te bekom.

–       Te min, of geen aandag word geskenk aan verkeersveiligheids-opvoeding van jongs af. Een briefskrywer het voorgestel dat Daantjie Kat weer teruggebring word.

–       Leiers moet die voorbeeld stel en blouligbendes moet aan die ban gedoen word. Die voorval waarby Winnie Madikizela-Mandela en twee polisiemanne betrokke was, en hoe dit hanteer word, skep ‘n uiters swak voorbeeld en ondergrawe die publiek se gesindheid om vrywillig mee te doen.

–       Kry vrag wat op die spoor hoort van die paaie af. Een motoris het in spitsverkeer vier vragmotors wat nuwe motors vervoer op die pad met baie bulte tussen Senekal en Winburg aangetref.

In die geheel beskou skep die PVBK die indruk van ‘n liggaam wat van kundigheid gestroop is en die wiel van voor af probeer herontwerp.

Volwasse vryheid

Vryheid is veel meer as individuele vryheid soos duidelik in die Handves van Menseregte uitgespel word, en veel meer as minderheidsregte wat ook uit die grondwet ontrafel kan word. Dit sluit die beperking van die owerheid se mag in waar dit nie hoort nie, en hierdie beperkings word in volwasse demokrasieë as so vanselfsprekend aanvaar dat dit dikwels nie eens grondwetlik, of selfs deur wette omskryf word nie, maar as bindende konvensie bestaan.

Is iemand nog verbaas dat Suid-Afrika 69de uit 123 lande op ‘n gesaghebbende vryheidsindeks geplaas is? Dit terwyl die regering gereeld spog dat die land glo die beste grondwet in die wêreld het?

Vryheid is nie om klippe te gooi en motors aan die brand te steek nie, omdat dit ander regmatige vryheid ontneem. Vryheid behels nie dat die staatskas iemand se privaat eiendom word nie omdat dit die land van sy ekonomiese vryheid beroof.

Vryheid en verantwoordelikheid loop hand aan hand.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae