Nuuskommentaar: Waarheen gaan vakbondradikalisering in SA?

‘n Interessante verskynsel is in Costatu aan die ontwikkel. Cosatu is ‘n vakbondfederasie wat uit talle vakbonde bestaan, maar waarvan die National Union of Mineworkers die ruggraat vorm.

Op die oomblik loop NUM, ten spyte van sy radikalisme, hom vas teen nog groter radikalisme van mededingers. Die sigbaarste is veral by die Rustenburg-aanleg van Implats waar NUM baie lede aan ‘n mededinger-vakbond, AMCU, afgestaan het. Dié mededinging het verskeie kere op groot bloedvergieting uitgeloop. NUM het toegegee dat sy sake by dié myn nie in orde was nie, en dat hy mense daarheen gaan ontplooi om verlore veld terug te win.

Die NUM het egter ook teenspoed binne Cosatu-geledere, en weer eens is dit ‘n radikaler vakbond wat teenspoed tot gevolg het, die National Union of Metalworkers, of Numsa. Die NUM het onlangs sy groot kongres gehou, en by dié geleentheid geëis dat Numsa die 7 000 lede wat by Eskom weg van NUM gedros het, “teruggee”.

Of die woordeoorlog werklik oor radikalisering of minder radikalisering handel, is moeilik om te bepaal. Elkeen probeer sy getalle in ‘n nismark vind, terwyl die gewone vakbondlede eintlik net behoorlike verteenwoordiging wil hê, nie verteenwoordigers, of te wel shopstewards, wat soos politieke kommissarisse ontplooi is en meer in hul eie sakke as die werk wat hulle moet doen, belangstel nie.

En eintlik kristalliseer dit uit in wie die einde van die jaar die septer in die ANC gaan swaai. NUM het pas ‘n aanslag van Zuma-teenstanders afgeweer, en die ou leierskap wat lojaal aan Gwede Mantashe, en dus Zuma is, is behou. Trouens, die vakbond het ‘n mosie aanvaar dat dit die bestaande leierskap die einde van die jaar gaan steun, wat egter later gewysig is om in ooreenstemming met Cosatu se direktief te wees, naamlik dat die bestaande leierskap tot die kongres gesteun sal word. Dinge moet darem soms demokraties klink.

Numsa se kongres het maar pas begin, maar die woorde-oorlog het reeds uitgebreek, en die taal is radikaal in die oortreffende trap. Name word nie genoem nie, maar geïmpliseer en dis onmoontlik om nie te sien in wie se oë die vinger gedruk word nie. Numsa gebruik self tipiese radikale kommunistiese retoriek, maar die roede word veral nie vir twee leidende kommuniste, Gwede Mantashe (voorsitter van die SAKP) en Blade Nzimande (sekretaris-generaal) gespaar nie. Ten spyte van die ervare sekretariaat, meen Numsa, is die ANC-SAKP-Cosatu-alliansie vir alle praktiese doeleindes disfunksioneel.

Numsa buit die werklikheid van die land se groot inkomstegaping baie goed uit. Die land gaan waarskynlik binnekort wye munisipale stakings beleef oor die reuse verhogings wat onder meer munisipale bestuurders kry wat reeds astronomiese salarisse en bonusse verdien. In die proses word die ANC verwyt dat sy leiers die landsbelang ter wille van hul eie sakke versaak. Vir die ANC en veral die SAKP is dit nie die soort verwyte wat die skatryk leiers wil hoor nie, wat die stemvee wysmaak dat die nasionale demokratiese revolusie op ‘n beter lot vir almal afstuur. Nzimande het Numsa in geen onduidelike taal nie aangesê om sy neus  uit die SAKP se sake te hou.

Sentraal in hierdie klappe aan almal uitdeel staan NUMSA se heethoofdige algemene sekretaris, Irvin Jim. Sy klappe sterk verder as die ANC-alliansie. Hy verwys na Cope en die DA as ‘n onheilige alliansie, en wil sommer die DA uit die townships verbied, ‘n klaarblyklike obsessie wat bly steek het na die DA se optog na Cosatu-huis.

Die vraag is hoeveel van die lawaai gaan werklik in beleid realiseer? Nzimande het reeds na NUM en Numsa se kant gekap om die nasionalisering van myne af te wys, en NUM het gedienstig ingeval by die ANC se studiestuk oor die onderwerp.

Die grootste gevaar is natuurlik dat NUM oordeel sy beste verweer teen lidmaatskapsverliese is om sy mededingers in radikalisme na die kroon te steek. Met Jim wat soos ‘n valk sake dophou, sal hy gou merk en uitbasuin as Zuma, Mantashe en die ander wat met hierdie groepering geassosieer word, nie saam inspring nie. Zuma gaan al sy politieke vernuf nodig hê om die einde van die jaar nie nog voor die leiersverkiesing baie gehawend daaruit te sien nie. Sy vernaamste strategie, om deur woorde alles vir almal te wees, word nou as boemerang teen hom gebruik.

En sal Numsa werklik vir die ANC ‘n adder aan die boesem word, of gaan dit meer die aard behou van ‘n lawaaierige keffertjie wat net woes tande wys?

Presies wat die twee kongresse en die bysleep van die SAPK met praktykgerigte werkersbelange te make het, is ook minder duidelik. Elke jaar is die gort gaar oor veral bestuurslui in die semi-staatsektor wat, soos ‘n koerant dit al in ‘n hoofartikel gestel het, immorele verhogings kry, en die hand vir die werkers toegehou word. Met al hul invloed binne die ANC kry die vakbonde dit nie gestuit nie omdat, soos Numsa dit stel, die leiers hul self  dik suip by die trog.

Ligjare verwyder van Solidariteit, ook met sy voete gevorm in ‘n mynvakbond, maar wat kundigheid poel, ‘n wye reeks dienste lewer, waarde toevoeg, hard deur die howe slaan wanneer nodig…en met reg daarop kan aanspraak maak dat dit tot die Christelike vakbondwese behoort. Dit probeer nie radikalisme op sy randakker omarm nie, maar hanteer dit met ‘n waardigheid, en daal nie tot die vlak van radikale aanslae teen hom nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.