Nuuskommentaar: Wanneer ‘n land in die (slegte) nuuskollig is

Op een dag het ‘n paar uiteenlopende sake die wêreldnuus in wese oorheers – Iran wat ‘n ooreenkoms aangegaan het dat sy kernaanlegte weer geïnspekteer kan word, en dat die eerste privaat ruimtetuig suksesvol na die internasionale ruimtestasie gelanseer is.

Maar op dieselfde dag word die moordenaar van Eugene Terre’Blanche skuldig bevind, en rig vandale groot skade aan die omstrede skildery aan wat pres. Jacob Zuma op ‘n banale wyse uitbeeld. Die Suid-Afrikaanse nuus moes op die internasionale podium met sterk internasionale nuus meeding. Gelukkig ook.

Binne ure het die vandalisering van die skildery meer as 300 000 Google-trefslae opgelewer. Boonop is daar twee spellings, “vandalized” (Amerikaans) en “vandalised” (Engels) wat hierdie aantal trefslae ongeveer verdubbel. Onder die eerste groot nuusmedia wat die nuus gedra het was onder meer Al Jazeera en die Guardian.

Dit sal stellig gou blyk wat die vandale besiel het, maar as hulle gemeen het om deur hul optrede Zuma enige verleentheid te spaar, het hulle dit mis gehad. Baie mense wat tot dusver nog nie van die skildery geweet het nie, sal nou daarvan weet. Boonop verwys baie berigte oorsee na die feit dat die Zuma-skildery Zuma in ‘n Lenin-houding uitbeeld, wat Suid-Afrika selfs nog meer skade berokken.

En Donderdag volg die hofsaak wat die ANC oor die skildery aanhangig gemaak het, en dit gaan regstreeks op TV uitgesaai word. Dan sal slegs die mees nuusgeïsoleerde mens nog nie van die hele petalje kennis geneem het nie.

Die skuldigbevinding in die Terre’Blanche-moordverhoor het ook enkele ure later reeds byna 90 000 Google-trefslae opgelewer. Weer eens plaas dit die fokus op ‘n onaangename aspek van Suid-Afrika – plaasmoorde.

Word die naam “Zuid-Afrika” in die elektroniese argief van ‘n tipiese Nederlandse koerant ingetik, lewer die jongste trefslae ook nie juis die mooiste resultate op nie. Benewens die lae hou op Zuma en die ANC se reaksie daarop, beklemtoon baie berigte dat dit ‘n swart man was wat Eugene Terre’Blanche vermoor het wat die persepsie in die buiteland voed dat rassepolarisasie in Suid-Afrika akuut is.

Ander tipiese berigte oor die land handel oor die inkomstegaping en arbeidskoste gemeet aan lae produktiwiteit. Die omstrede besluit oor produkte wat as herkoms Palestynse gebiede moet aandui as dit uit Israel kom, geniet ook aandag. Malawi se omgekeerde beslissing oor gay huwelike meld telkemale dat Suid-Afrika tot dusver die enigste land in Afrika was wat dit gewettig het. Die hoë werkloosheidskoers onder Suid-Afrikaanse jeugdiges word sommer ook ingesleep..,

In een week het die ANC baie van die oorblywende post-apartheidskapitaal oorsee verbrand – as daar nog veel oor was om te verbrand.

Kortom, die nuus wat Suid-Afrika nou genereer is ligjare verwyder van die “Suid-Afrikaanse wonderwerk” van amper twee dekades gelede. ‘n Belegger moet ‘n werklik baie goeie beleggingsopsie raaksien om te midde van hierdie nuus enige aspirasie te hê om in Suid-Afrika te belê, waar Numsa se jaarkongres wat nou gehou word nasionalisering op die agenda het, en waar die KVBA verwag dat die stygende aantal stakings as gevolg van loononderhandelings nog verder sal eskaleer.

Trouens, dit is ‘n heel billike vraag of die ANC se besluit om hof toe gaan oor die Zuma-skildery nie die gevolg van advies van sy politieke opponente is nie, wel wetende dat so ‘n saak, wen of verloor, Zuma se gulp by wyse van spreke nog verder sal oopruk. Die taktiek om die saak na die rassevlak af te sleep, is ook baie sleg vir die ekonomie.

Dit lyk of die ANC diplomatieke protokol met post-apartheidskapitaal verwar, en verwag dat die wêreld steeds oor die nalatenskap van apartheid die land en sy leiers spesiale behandeling sal laat toeval. Maar dan, ‘n land wat ‘n wêreldmuishondland soos Kuba met ‘n paar honderd miljoen rand kan uithelp, dra ook nie die beeld uit van ‘n land wat ‘n morele voorkeuraanspraak vir beleggings het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.