Nuuskommentaar: Wapenondersoek of inkwisisie van Zuma-teenstanders?

Gripen-vegvliegtuig vlieg verby die Uniegebou in Pretoria

Vir amper ‘n dekade en ‘n half hang die omstrede wapentrasaksie van 1999 steeds soos ‘n albatros om die land se nek. Die omstredenheid het verdiep namate stappe skynbaar geneem is om die ondersoek te laat sneuwel, of minstens belangrike politici skotvry daarvan te laat afkom.

Die eerste omstredenheid was toe die Heath-kommissie verhinder is om die transaksie te ondersoek, en dit is opgevolg toe dit later geblyk het dat ‘n verslag wat toe wél deur verskeie instansies opgestel is, erg deur die kabinet “geredigeer” is.

Slegs enkele persone het wel vir aksies wat na die randjie van die transaksies teruggevoer kon word, tronkstraf gekry, maar ook daar was omstredenheid. Tony Yengeni het ‘n helde-begeleiding op pad tronk toe gekry, met minister Lindiwe Sisulu onder die optoggangers – die einste minister wat nou ‘n teen-korrupsie-eenheid in die staatsdiens instel en sterk uitsprake teen korrupsie maak. Yengeni se heen en weertjie tronk toe is gevolg deur die een senior ontplooiing na die ander.

Shabir Shaik, wat volgens die regter in ‘n korrupte verhouding met die toe nog adjunk-president Jacob Zuma gestaan het, was ook vir ‘n heen en weertjie tronk toe voor hy op omstrede wyse op mediese parool vrygelaat is. In 2009, tien jaar na die transaksie, is alle aanklagte teen Zuma op omstrede wyse laat vaar. Die Hong Kongse saak waarop die destydse waarnemende direkteur van Openbare Vervolging sy besluit gebaseer het, is daarna onder appèl omgekeer.

Die Seriti-kommissie is ingestel na ‘n gewone landsburger pres Zuma voor die grondwetlike hof gesleep het om so ‘n kommissie in te stel. Zuma het kort voor die uitspraak buite die hof geskik.

Dié kommissie was sommer vanuit die staanspoor in omstredenheid gedompel. Dit word baie netjies in ‘n artikel hier uiteengesit. Seriti was na wat berig word die regter wat die meeluistering van telefoongesprekke gemagtig het, wat, toe die besaan daarvan aan die lig gekom het, die gedagte aan ‘n sameswering (deur oud-pres. Thabo Mbeki) teen Zuma gelei het, en bygedra het tot die terugtrekking van die aanklagte teen Zuma. Die DA het die howe genader en daarin geslaag dat die Nasionale Vervolgingsgesag inligting rakende die terugtrekking aan dié party moet oorhandig, maar die Vervolgingsgesag het in plaas daarvan om die transkripsies aan die DA te oorhandig, dit aan Zuma se regsverteenwoordiger oorhandig. Dit is nou weer in die proses van litigasie. Intussen was daar verdoemende lekkasies.
Intussen het een van die regs-ondersoekbeamptes van die kommissie, Mokgale Norman Moabi, uit die kommissie bedank en aangevoer die kommissie het ‘n tweede agenda, wat ook die werklike oogmerk daarvan is, naamlik om die saak toe te smeer. Moabi is indertyd as ‘n gerespekteerde regsgeleerde beskryf.

Intussen het die koerante baljaar in die omstredenhede van die kommissie en veral die voorsitter, soos ‘n berig dat Seriti sy vrou saamgeneem het toe hy in die buiteland gaan ondersoek instel het.

Die Kommissie se voeteslepery (die ondersoek kan volgens die kommissie self drie jaar duur), en halsstarrige weiering om die ANC as getuie oor die saak te roep, laat ook wyd ‘n slegte smaak.

Die kommissie het egter pas sy nuwe lys van eerste twaalf getuies bekend gemaak. Daar is nie fout met die name op die lys nie, maar die ooglopende weglatings laat ‘n nasmaak.

Die getuies wat nou op die sogenaamde “eerste lys” is, sluit in oudpres. Thabo Mbeki, Trevor Manuel, Mosiuoa Lekota en Ronnie Kasrils, destydse minister en adjunk-minister van verdediging, Alec Erwin, oudminister van handel en nywerheid, die departement van verdediging, die departement van handel en nywerheid en die nasionale tesourie. Na wat berig word, word hulle geroep om te verduidelik hoekom die transaksie aangegaan is, en indien dit so is, sal dit nie veel lig werp oor wat agter die skerms gebeur het nie – en dit is wat sal bepaal of daar wydverspreide korrupsie was en deur wie.

Van die mense wier se name oor jare opgeduik het vir beweerde korrupte betrokkenheid, soos oud-ministers Joe Modise en Stella Sigcau, is reeds oorlede.

Die eerste lys van getuies wat verlede jaar bekend gemaak is, maar nou almal weggelaat is, het veel meer sin gemaak as na die kern van die saak deurgedring wou word. Hulle sluit in David Maynier, Patricia de Lille, genl. majoor Hans Meiring, kolonel Johan du Plooy, Paul Hoffman, Terry Crawford-Browne, dr Richard Young, Gavin Woods, Andrew Woods, Andrew Feinstein, Paul Holden, Raenette Taljaard, en Fana Hlongwane, maar ook daardie lys het volgens Crawford-Browne weglatings wat erg in die oog spring.

Byna al die name wat nou op die lys van eerste getuies is, was onlangs in die nuus op maniere wat vertolk kan word as dat hulle die vinger in Zuma e oog gedruk het.

Daar is volop rede hoekom Zuma graag vir Mbeki aan die pen sal wil laat ry. Maar Mbeki se naam het ook net te veel in ‘n negatiewe konteks in berigte oor die wapentransaksie opgeduik, soos ‘n notule wat aandui dat Mbeki ‘n omstrede vergadering bygewoon het – een eers aan die hand van sy dagboek ontken het dat hy daar was, en later dat hy nie kan onthou dat hy daar was nie.

Lekota het na Mbeki se onttroning Cope gestig eerder as om onder Zuma se leierskap te dien.

Manuel word as Mbeki-man gereken, en het ook eers ‘n ruk lank gedink voor hy besluit het om onder Zuma te dien. Hy het egter, kort na Zuma weer apartheid vir alles geblameer het, in ‘n lesing gesê apartheid is nie vir alles te blameer nie. Manuel het ook Jimmy Manyi se uitlatings oor “oorverteenwoordige bruin mense in die Wes-Kaap” geopponeer, maar Manyi het die ANC se standpunt weergegee soos blyk uit die vasberadenheid om dié standpunt in die Solidariteit-DKD-saak te verdedig.

Kasrils het onlangs die ANC gestriem oor inhaligheid, eerder as ingesteldheid om dienste te lewer.

Of die Seriti-kommissie inderdaad sy aktiwiteite “sinchroniseer” met volgende jaar se verkiesing, sodat Zuma se politieke opponente veral in die slegste moontlike lig gestel word, en ander getuies eers na die verkiesing aan die beurt kom, sal net die tyd leer.

Seriti het egter werklik baie om te doen voor sy geloofwaardigheid herstel gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.