Nuuskommentaar: Warmbroeiery van persepsies

Twee kabinetslede is na Genève gestuur om Suid-Afrika se saak voor die VN se Menseregteraad te stel, spesifiek  oor Suid-Afrika se grondwet en spesifiek die handves van menseregte. Mnre. Andries Nel en Marius Fransman het juis dit probeer doen, maar tien van die belangrikste lande het Suid-Afrika gestriem oor die voorgenome inligtingswet, ook in die handel en wandel bekend as die snoerwet. Onder hulle tel die VSA, Noorweë, Kanada, Switserland en twee voormalige Oosbloklande, Tsjeggië en Pole.

Elkeen van hierdie lande is deel van ‘n groter groepering, met veral Navo en die Europese Unie wat verteenwoordig is, terwyl Switserland in die reël streng neutraliteit handhaaf. Die Suid-Afrikaanse verteenwoordigers het ‘n heel ander prentjie van presies dieselfde werklikheid geskets as die lande wat Suid-Afrika laat riemspring het.

Dat mense wat op die oog af meer met mekaar deel, soos in ‘n kerkverband, so heftig van mekaar oor presies dieselfde saak kan verskil, is ‘n kenmerk van die samelewing. Dit is die gevolg van sosialisering, waarbinne selfs die mees verregaande persepsies van die werklikheid deur onderlinge warmbroeiery as die absolute waarheid uitgebroei word. Die politieke sosiologie erken verskeie drywers vir die vorming van hierdie persepsie, soos die politieke magskonteks, die gesin, massamedia en vele meer. Die rol wat die internet en sosiale media speel om alternatiewe persepsies deeglik ingang te laat vind, moet nog verreken word. Maar intussen kyk sommige internetgebruikers in stomme verbasing na die hoeveelhede handtekeninge wat reeds onderaan petisies aangebring is voor dit by hulle aanland. En dié ontvangers beskou die gestelde feitebasis as die toppunt van iemand se verbeeldingsvlug, en boonop gelaai met ‘n goeie skoot kwaadwilligheid.

En hoe meer bereid die een groep is om die ooglopende absurde as die waarheid te verslind, wat op ontsettende diepgewortelde wantroue dui, hoe skerper reageer die ander kant. Wanneer die skeuring wel plaasvind, kyk beide groepe terug en kan nie verstaan dat hulle nog enkele jare tevore skynbaar naatloos verbind was nie.

Dié verskynsel is nie werklik slegs ‘n kenmerk van die moderne samelewing nie. Hoe meer die argeoloë in die Heilige Land met opgrawings vorder, hoe meer word ontdek oor die verdelingslyne tussen Israel en Juda, selfs toe dié twee groepe skynbaar in harmonie dieselfde God en konings gedien het. Selfs die twee groepe se weergawes van die Pentateug verskil in belangrike sake, soos waar gelowiges moet aanbid.

Suid-Afrika is ‘n klassieke voorbeeld van waar persepsies oor dieselfde werklikheid erg uiteenloop. Opnames toon dat sowat 80 % van alle swart mense glo dat blankes hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel. Min blankes, bruin mense en Indiërs, selfs na amper twee dekades van nuwe leerplanne, deel dieselfde mening. Dit verklaar hoekom dr. Pieter Mulder se geskiedenisles oor oorspronklike grondbesetting so negatief in die parlement ervaar is, en selfs volgens rasselyne deur ander politieke party gesny het.

Die tien lande wat Suid-Afrika se voorgenome snoerwet so erg gestriem het, staan nie alleen nie. Belangrike internasionale instansies, soos Verslaggewers Sonder Grense, het Suid-Afrika se posisie op die persvryheidsindeks al erg die kreeftegang laat gaan. Waar Suid-Afrika in 2003 nog die mees persvrye land in Afrika was, deel dit nou die sewende plek op die kontinent, met onder meer Tanzanië en Ghana wat beter vaar. Freedom House het Suid-Afrika tot slegs gedeeltelik persvry herklassifiseer. Beide instansies het die snoerwet, asook planne vir ‘n mediatribunaal, as vernaamste redes vir die agteruitgang aangedui.

Daar is lankal reeds tekens dat die ANC se regeer-vakansietyd, dit wil sê die tyd wat die wêreld die ANC gegun het om sy voete met die regeer van die land te vind, verstryk het. In die internasionale magspolitieke konteks is dit nie ‘n eenvoudige of eenvormige proses nie, soos die steun toon wat Mugabe steeds uit sekere muishondkringe in die wêreld kry, maar as die groot kanonne in harmonie begin veroordeel, moet na die skrif teen die muur gekyk word. Die een boodskap is dat dit nie meer werk om alles wat verkeerd loop voor die deur van olie apartheid te lê nie.

‘n Duidelike teken dat Suid-Afrika uit pas met die wêreld begin beweeg is sy kreeftegang op ander indekse, soos die korrupsiepersepsie-indeks waar die land vroeër vanjaar op een slag met tien plekke teruggesak het en ook daar deur verskeie Afrikalande uitgestof word, en pas ook op die wêreldvredesindeks tot baie na-aan die onderpunt teruggesak het.

Terwyl die indekse en sekere optredes op ‘n snelbaan na ‘n piesangrepubliek dui, verklaar die president en ministers dat hulle meen hulle vaar goed. Dit word klaarblyklik deur ‘n groot groep kiesers geglo, en dit is byvoorbeeld geen uitgemaakte saak dat Zuma se kop die einde van die jaar gaan rol nie, en min mense verwag dat die ANC binnekort die knie in ‘n verkiesing voor ‘n gematigde opposisiekoalisie sal buig. Trouens, die grootste opmars is skynbaar nou aan die radikale linkse kant soos uit Numsa se taal van anargie blyk. In die oordosis inligtingsvloei is dit te verstane dat mense hulle in denk- of ideologiese veilige hawens sal probeer verskans waar hulle gedagtes en idees met die ander in daardie laers deel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae