Nuuskommentaar: Wat gesê is en wat nie gesê is nie…

President Jacob Zuma tydens die staatsrede, 2012. Foto: www.sowetanlive.co.za

President Jacob Zuma se staatsrede sal in die annale van die geskiedenis ewe veel onthou word vir dit wat verswyg is, as dit wat gesê is.

As na die krisisse gekyk word wat die land nou kenmerk, was die staatsrede grootliks ‘n oefening in volstruispolitiek.
Kom dit by die oorsake vir die vervreemding wat die Afrikaner ervaar, en selfs die blankes, was die president doodstil, en is al die polariserende elemente soos haatspraak, die bedreiging van onderrig in Afrikaans, die uitsluiting uit blankes met gestremdhede uit ekonomiese bemagtiging, plaasmoorde en plaasaanvalle, was dit nie net tot relevansie gereduseer nie, dis geheel verswyg.

Die feit dat die president hom tot die grondwet verbind het, beteken ongelukkig niks. Hy het immers die ampseed afgelê en trou aan die grondwet uitgespreek, maar verskeie kere sy mond oor die grondwet uitgespoel. Die Afrikaner kan dus nie gerustheid put uit die waarborge wat die grondwet veronderstel is om te bied nie. Die Afrikanerkultuur is ook geheel uitgesluit uit die museumprojekte wat vermeld is, en daar was uiteraard geen verwysing na die voeteslepery met staatsfondse vir die Voortrekkermuseum nie. Die president het wel ‘n hand na die Koisan-gemeenskap uitgesteek.

In die geheel is die nuus oor die skepping van ‘n klimaat van vrede in die land egter bedroewend, en was die verwysings na vredesdoelwitte uitsluitlik op Afrika gerig, met so ‘n vredesarmpie wat oor die Suezkanaal na Israel uitgewerp – maar ook net ten opsigte van Egipte.

Soos verwag is, het die president heelwat aandag aan kwessies soos werkskepping en ekonomiese groei geskenk. Die mees beduidende konkrete aspek hiervan is die R10 miljard wat die NOK oor die volgende vyf jaar beskikbaar sal stel. Waarnemers was gou om die president se versekering dat dit ‘n mededingende mynbousektor voorstaan, as ‘n nekslag vir nasionaliserings-planne te vertolk. Dit is egter nog te gou om te bepaal of dit wel so vertolk kan word, en of dit die deur ooplaat vir ‘n persepsie binne die ANC-alliansie dat nasionalisering nie noodwendigheid mededingendheid in die voet skiet nie. Die president het die waarde van mynbou in die land op $2,5 triljoen gestel.

‘n Interessante aspek is dat by infrastruktuurplanne gekoppel aan nywerheidsontwikkeling, die beginsels van die eertydse desentralisasiebeleid afgestof is. Areas wat hiervoor geïdentifiseer is, is onder meer areas in Noordwes en Mpumalanga, asook die korridor tussen Gauteng en die Durban-Pinetowngebied met die Vrystaat wat skynbaar voordeel kan put.

Die groen industrie en toerisme is ook spesifiek vermeld sonder dat genoeg inhoud gegee is.

Wat die landbou betref, was die enigste beduidende verwysing na die ontwikkeling van die kleinplaassektor, wat landbou basies bloot verder deel van die land se probleme in plaas van die oplossing maak. Dit is ook kommerwekkend dat die president skynbaar die gebrekkige groenskrif oor grondhervorming as finaal aanvaar soos ‘n witskrif beskou. Hy het klaarblyklik nie sy ore vir pleidooie en vermanings uit die georganiseerde landbou en dele van die kabinet uitgeleen nie.

Die voorneme om Eskom se arm vir bekostigbare tariewe te draai, moet verwelkom word. Dit hang dus grootliks af wat Nersa as die maksimum toegewings beskou om steeds Eskom se uitbreidingsbehoeftes te bevredig.

Swart bemagtiging gaan verskerp word, en maatskappye wat swart mense bloot as SEB-fronte gebruik, gaan aan die pen ry. Die doodsklok lui skynbaar vir arbeidsmakelaars as dié praktyk nie die tipe werksomstandighede skep wat die regering en vakbonde in gedagte het nie. Die verbintenis tot die stryd teen misdaad, met korrupsie wat spesifiek genoem is, moet verwelkom word. Die president het egter ook hieroor ‘n skadu gewerp deur te wys op ‘n 5 % afname in ernstige misdaad volgens die jongste statistiek, sonder om te vermeld dat handelsmisdaad – en dus ook korrupsie – steeds jaarliks skerp toeneem.

Die behoefte aan ‘n morele grondslag om die land betreklik misdaadvry die toekoms in te lanseer het geen vermelding gekry nie … ‘n blatante klap wat na gelowiges in die land gemik is.

Die land sal ook duime vashou dat die aangekondigde planne realiseer om staatsuitgawes so te herstruktureer dat dit beter waarde vir geld bied. Dis egter ‘n gereelde belofte wat danksy die regering se kaderbeleid nog strykdeur agteruit boer.

In die geheel beskou was dit ‘n politieke toespraak eerder as ‘n staatsrede wat bo die politiek uitstyg. Dit faal skromelik daarin om nasionale kohesie te bevorder, en die laaste oorblyfsels van die Mandela-reënboog is nou pikswart geverf. Politieke oorlewing in die ANC se magstryd weeg klaarblyklik swaarder as landsbelang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gemsbok ·

Is dit werklik verbasend dat die Mandela-reënboog nou, met die seën van Mandela (Mandela het sy steun vir beide die Mbeki en die Zuma presidentskappe uitgespreek), pik swart geverf is?

Was die Mandela-reënboog nie slegs ‘n “ruse-de-guerre” nie? ‘n Rookskerm gemik om ruimte te skep om Afrikaners uit die veileigheidsmagte (polisie, weermag en kommando) te transformeer, voordat daar voortgegaan sou word om Afrikaners van hul besittings, menswaardigheid en selfs lewens te roof nie?

Natuurlik was dit!

Selfs indien Julius Malema, Peter Mokaba of Chris Hani in 1994 aan bewind gekom het, sou elkeen van hulle, soos Mandela, versoening gepleit het totdat die transformasie van die staat en sy veiligheidsmagte voltrek kon word.

Nou dat die transformasie afgehandel is, is die rede vir versoening ook daarmee heen.

Afrikaners word nou in ‘n stroom geplaas wat al vinniger gaan versnel en waarvan hulle slegs sal kan ontsnap deur weg van die magsfeer van die ANC te kom. Daarvoor is daar slegs 3 opsies:
1) neem as kollektief ‘n eie grondgebied deur eie arbeid en sesessie, of
2) vlug as individu na die buiteland deur emigrasie, of
3) wissel as enkeling die tydelike met die ewige

Herman Toerien ·

Dankie Gemsbok. Ek het geleer om groot waardering vir jou bydraes te hê. Oor Mandela self is daar basies twee sienings, die euforiese waarvan Jakes Gerwel waarkynlik die duidelikste eksponent is, en die ander wat meen Mandela het in baie opsigte die saad gesaai waarvan die land nou die oes pluk, bv geheel onbevoegde ministers soos by Onderwys (Bengu) en Binnelandse Sake – intussen glo baie reggeruk (Buthelezi) ens, en boonop volstruispolitiek as die swak presterende ministers se droogmakery onder sy aandag gebring is. Breyten Breytenbach is een v sy skerpste kritici.
Mandela was waarskynlik suksesvoller as sy opvolgers in die opsig dat hy meer gedoen het om almal deel vd land te laat voel (hoewel baie mense onder sy bewind hul werk verloor het – die uwe ingesluit).
Om bloot te aanvaar dat daar niks in die plek kan kom as daar nie geografiese selfregering is nie, is vir my egter te negatief. Heel toevallig gister weer op ‘n ou verslag vd Staatkundige Komitee vd Presidentsraad afgekom wat in taamlike detail na die korporatiewe aspekte as opsie verwys. Dis eintlik verbysterend as ‘n mens deur die grondwetlike beginsels (wat by Kemptonpark onderhandel is) en die grondwet self lees om te sien hoe baie voorsiening word vir korporatiewe selfbeskikking gemaak. ‘n Groot, praktiese probleem is dat baie van die drywers vd beginsel ras in plaas van volk as vertrekpunt gebruik en dit dus in terme van internasionale erkenning, om nie v erkenning in die regering te praat nie – doodgebore is.
As die korporatiewe beginsel ‘n opsie gaan bly behels dit ‘n bietjie voete optel, want om ‘n kans te staan moet daar (nog) so iets soos die Afrikaner wees, en grootskaalse emigrasie help nie die saak aan nie.

Gemsbok ·

Dankie Herman. Nelson Mandela is vandag so ‘n ikoniese figuur, dat om krities jeens hom te wees net so sleg vir realpolitik is as om groepsregte (insluitend selfbeskikking) op ‘n rassegrondslag te probeer beding.

Nietemin kan die verband tussen die verandering in die prioriteit van versoening, en die verandering in die aard en samestelling van die staatsdiens en veiligheidsmagte sedert Mandela se termyn nie misgekyk word nie. Mense is geneig om hierdie verskraling van die prioriteit van versoening aan die verandering in personas toe te dig, maar ek dink dit is ‘n baie oppervlakkige verklaring wat nie die verskerpte aanval op Afrikanerinstellings soos skole, monumente en plekname, of die verandering in die magsbalans van die land verreken nie.

Die korporatiewe vorm van selfbeskikking bied beslis vir Afrikaners ‘n opsie wat die meeste opbrengs beloof in ruil vir die minste ongerief in terme van wysigings aan Afrikaners se huidige inkomstebronne, bates, ligging ens. en kom daarom vanselfsprekend as ‘n meer aantreklike doelwit voor (dit gee ek graag toe).

Soos alles in die lewe is daar egter twee kante aan ‘n saak. In ekonomie word gepraat van aanbod en vraag of produksie en verbruik. In onderhandelings is dit neem en gee. Dit bring my by die vraag na die wyse waarop Afrikaners korporatiewe selfbeskikking kan beding? Om te wil beding deur onderhandeling sonder om iets in ruil te kan bied (bv. sonder ‘n bepaalde magsbasis) kom neer op bedel, en mense gee gewoonlik bitter min vir bedelaars.

Watter vorme van bedingingsmag bestaan daar vir Afrikaners? Massaprotesaksies en hofsake kon nog nie Pretoria se naam beveilig nie. Afrikaners se pogings tot politieke geweld en terreur het vanaf die dae van die rebellie en later die Ossewa Brandwag nie veel resultate kon lewer nie, om nie eens van die vernedering van die Boeremag te praat nie. Die kwesbare profiel van Afrikaners as klein volkie wat oor die hele land verstrooi is, maak in elk geval die geweldsopsie sinneloos, onrealisties en gewoon te gevaarlik. Belastingweerhouding sal eenvoudig lei tot die sekwestrasie van bates (sal dit nie ‘n jeuglike dag vir die Nasionaliseerders in die ANC wees nie?). Parlementêre aksie is hopeloos, soos gewys deur die lae “joie-de-vivre” van die Vryheidsfront.

Die sentimente rondom ondersteuning van Afrikaans wat vanuit België en Nederland opklink bied dalk hoop. Sal hulle egter ooit meer rede hê om ons te help as wat Engeland gehad het om die boere van Zimbabwe te help? Engeland het al telkemale sy ontevredenheid uitgespreek en streng sanksies teen Zimbabwe laat instel, maar tot vandg toe het dit nie ‘n boer gehelp nie.

Die korporatiewe selfbeskikkingsopsie, hoewel baie aantreklik en hoogs wenslik, lyk vir my baie moeilik om onder die huidige omstandighede te beding. Indien KODESA vandag plaasgevind het, of indien ons nog oor ‘n Afrikanerweermag beskik het, was dit ‘n ander saak.

Ek glo ook nie massa emigrasie is wenslik nie. Ek dink in elk geval dat dit nie haalbaar is nie, want te min Afrikaners beskik oor die vereiste kombinasie van geld, goeie kwalifikasies en jeug om suksesvol te kan emigreer.

Aangesien ek nie graag die dood van individue of ‘n volk wil beleef nie, is sterwe of integrasie nie vir my aantreklik nie.

Dit laat geografiese selfbeskikking. Die voorbeelde wat Kosovo, Suid-Soedan, Vlaandere, Skotland, Suid-Tirool en dies meer stel, dui aan dat die meerderheidsbesetting van ‘n bepaalde gebied deur ‘n bepaalde kultuurgroep, die sekerste manier vir daardie kultuurgroep is om beheer oor die nodige hulpbronne te bekom om outonomie en selfbeskikking te bewerkstellig. Dit is ook ‘n vorm van selfbeskking wat vreedsaam en sonder geweld ontwikkel kan word tot so ‘n mate dat ‘n nuwe werklikheid geskep word wat nie anders hanteer kan word as om erken te word nie. Die meedoënlose groei van Orania ten spyte van amptelike regerings-, media- en Afrikanerestablishmentteenkanting ondersteun hierdie stelling met ‘n plaaslike en praktiese voorbeeld.

Wat beteken dit vir Afrikaners vandag in die lig van die staatsrede? Dit is duidelik dat die falende Suid-Afrikaanse regering nog glad nie teen die planke is nie. Ek dink daarom dat daar genoeg tyd is vir Afrikaners om 5 tot 20 jaar planne op te stel van hoe hulle hulleself by die beweging vir geografiese selfbeskikking gaan voeg.

Ebert ·

Korporatiewe selfbeskikking en geografiese selfbeskikking is natuurlik nie onderling uitsluitend nie.

‘n Beweging wat begin om Korporatiewe Selfbeskikking na te jaag kan oorgaan tot ‘n beweging wat uiteindelik ook Geografiese Selfbeskikking bewerkstellig. In ‘n sin is dit amper soos om te kruip voordat jy loop. Die begin van dit alles is egter selfverantwoordelikheid en selfhelp.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.