Nuuskommentaar: Wat lê voor in 2013?

Ten spyte van ‘n ontploffing in inligting en die tegnologie om daardie kennis aan mense beskikbaar te stel, bied die vakgebied, futurologie, nie ‘n volkome akkurate kristalbal nie.

Tog is daar tendense wat heel waarskynlik in 2013 voortgesit sal word en waarvan beplanners en entrepreneurs kennis behoort te neem.

Onder die sake wat wêreldwyd sterk uitstaan in ontledings aan die einde van 2012 is die fenomenale opkoms van windenergie en die druk waaronder die gedrukte media verkeer.

Minder opwindend is die herlewing van die benutting van fosielbrandstowwe en dat die stryd om malaria wêreldwyd hok te slaan nog nie uit die dryfsand kon kom nie.

Elkeen van hierdie sake raak Suid-Afrika.

‘n Interessante verskynsel is om Suid-Afrika se rol in die wêreld minder gereeld as Afrikaland te beoordeel, en meer gereeld as deel van die Brics-lande. Ongelukkig steek Suid-Afrika in die persepsies van die beoordelaars erg af by die ander Brics-lande en veral hul ekonomiese groei, dat hierdie manier van beoordeling Suid-Afrika waarskynlik meer skade as goed doen.

Digitale nuus

Die allerlaaste gedrukte uitgawe van die bekende akualiteitstydskrif, Newsweek, het pas op die winkelrakke gekom. Van 2013 af sal Newsweek, wat 80 jaar lank as gedrukte tydskrif bestaan het, slegs as Newsweek Global in die kuberruim bestaan. Dit sal onder meer vir lees met e-lesers beskikbaar wees.

In die aanloop tot die Amerikaanse presidentsverkiesing het die peilingsinstansie, Rasmussen, reeds bevind dat 40 persent van die volwasse Amerikaners meen die kuberruim is die beste plek om nuus te bekom, 37 persent verkies die TV, nege persent die radio, en net sewe persent koerante.

Suid-Afrika het nog nie dieselfde omvang van internettoegang of leesvaardigheid as die VSA nie, en daarom kan die VSA se syfers nie net so op Suid-Afrika van toepassing gemaak word nie.

Tog het die aktualiteitstydskrif, NuusNou / News Now waarin Media 24 baie belê het, na ‘n kortstondige bestaan vanjaar die wit vlag gehys. Dit was te kort op die mark om werklik waarnemers die ontleedmes te laat nader trek. Dit is dus nie werklik bekend of die digitale era, of onvoldoende marknavorsing die grootste oorsaak was nie.

Die digitale era beteken ook die opkoms van e-boeke, en ‘n hele aantal nuwe skrywers word ontsluit. Die tyd sal leer of dit tot ‘n daling in kwaliteit sal lei, of juis gouer die Suid-Afrikaanse weergawes van JK Rowling (die skryfster van Harry Potter wat lank vrugteloos uitgewers genader het) aan die leserspubliek gaan blootstel.

Windenergie

Te midde van smeltende poolys en natuurrampe soos Sandy wat New York kort voor die Amerikaanse presidentsverkiesing getref het, word wêreldwyd na skoon energiebronne gekyk. Onder die hernubare energiebronne wat reeds in groot industrieë ontwikkel het, is sonkrag en windenergie.

Die gesamentlike Europese windkragvermoë  het in September vanjaar die 100 gigawattvermoë gehaal – genoeg elektrisiteit om die hele Suid-Afrika se huishoudings van krag te voorsien. Die sektor groei dubbel so vinnig as die Europese ekonomie.

China is egter op die voorpunt met die ontwikkeling, terwyl Duitsland nou ‘n turbine ontwikkel het waarvan die lemme so lank soos ‘n Airbus se spanwydte is. Boonop bied dit moontlikhede vir waterherwinning uit die lug. ‘n Prototipe in die woestyn by Abu Dhabi haal 800 liter drinkwater per dag uit die atmosfeer.

Suid-Afrika wek nog op beperkte skaal krag uit sonkrag op, maar die sonverhitters vir warm water wat op groot skaal op onder meer HOP-huise se dakke aangebring word kan ‘n beduidende invloed op die besparing van elektrisiteit uitoefen.

Herlewing van fossielbrandstof

Omgewingskundiges is ontsteld oor die herlewing van fossielbrandstowwe. Dit word onder meer toegeskryf aan die opkoms van skaliegas. Nog ‘n nuwe bron is die sogenaamde teersande waar die ontginning veel meer omgewingsbesoedeling veroorsaak as gewone olie-ontginng, en nuwe olievelde wat bereikbaar word namate die yskappe terugtrek. Verhoogde pryse maak dit vir die ontginningsmaatskappye lonend om nog dieper te boor.

 ‘n Interessante verskynsel is dat daar vroeër vanjaar nog duidelike stemme gehoor is wat beweer dat aardverwarming slegs tot ‘n baie klein mate aan menslike aktiwiteite toegeskryf kan word, en dat natuurlike verskynsels soos sonsiklusse, bekend is kosmoklimatologie, ‘n veel groter rol speel. Die wêreld se nuusmedia fokus egter nou baie sterk op die mens se rol en dra baie kritiese berigte oor die stadige pas waarteen die wêreld se regerings hulle tot onder meer die beperking van koolstofdioksied in die atmosfeer verbind.

Die VSA het ‘n versengende droogte beleef, en 2012 sal in die geskiedenisboeke opgeteken staan as die warmste jaar ooit.

Sirië

Sirië is nie die enigste brandpunt nie, maar het nou reeds as vername “permanente” verskynsel op die wêreldtoneel gevestig. Reeds meer as 45 000 mense is in die konflik dood. Volgens die jongste Israelse ontledings is dit ‘n situasie van waar nie een van die strydende partye die oorhand oor die ander sal kry nie, tensy iets dramaties gebeur.

Al hoe meer berigte doen die rondte dat die regeringsmagte of milisie wat die regeringsmagte steun, chemiese wapens begin gebruik het. Volgens Al Jazeerah is dit waarskynlik die gifgas Sarin wat in bomme geplaas word, maar die wêreldmedia is duidelik nie oortuig dat die konflik hierdie vlak bereik het nie.

Suid-Afrika en Afrika

Die InterPress Service het verskeie verwikkelinge in Afrika as ligpunte die afgelope jaar uitgesonder. Dit is duidelik dat gehoop word dat hierdie ligpuntjies Afrika se toekomspad sal aandui.

IPS stel dit egter duidelik dat die algemene indruk van die kontinent steeds een van hongersnood, korrupsie en geweld is.

Ook Suid-Afrika lewer een van die ligpuntjies op. IPS meen dat pres. Jacob Zuma se terugtrekking van ‘n klag teen die spotprenttekenaar Shapiro oor ‘n spotprent “wat hom nie aangestaan het nie” ‘n klein oorwinning is op ‘n kontinent waar vrye meningsuiting nog te dikwels in die spervuur is.

Ander ligpunte sluit in dat Ghana, Ethiopië en Angola goeie groeisyfers aangekondig het, maar wys daarop dat dit nog nie lank genoeg duur dat die gewone bevolking daaruit voordele put nie.

Ook die amptelike beëindiging van die toestand van hongersnood in Somalië verdien kantlynaantekeninge dat nog ‘n miljoen inwoners vlugtelinge is en 3,8 miljoen Somaliërs hulpbehoewend is.

Mosambiek kry lof dat dié land die grootste seenatuurreservaat geskep het, en Ghana kry ‘n klop op die skouer vir die bou van ‘n sonkragsentrale wat 155 megawatt sal opwek en honderde werksgeleenthede sal skep. Kenia se skouerklop is vir die bou van ‘n geotermiese kragstasie met ‘n kapasiteit van 280 megawatt.

Suid-Soedan se program om kindersoldate oor twee jaar uit te faseer is ook ‘n ligpuntjie.

Onder Afrika se mislukkings tel veral die kontinent se onvermoë om ‘n vaste setel in die veiligheidsraad te bekom. IPS skryf dit veral toe aan korrupsie op die kontinent, soos dit onder meer in Kenia, Uganda en Nigerië manifesteer. Afrika het ook ‘n groot blaps gemaak deur pres. Robert Mugabe as een van die pleitsbesorgers vir die setel voor die VN se algemene vergadering te laat optree. Wat die IPS betref, moet Afrika leer om nie met die semels te meng as hy werklik die blokke aan die been wil afskud nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.