Nuuskommentaar: Wat ‘n verleentheid!

Nathi Mthethwa

Wanneer na oud-minister Jimmy Kruger verwys word, word byna nooit nagelaat om sy reaksie dat Steve Biko se dood hom koud laat, op te rakel nie. Dié oud-minsiter van polisie, lank reeds heengegaan, se opmerking het die land duur gekos.

In die annale sal verskeie opmerkings van die huidige minister van polisie Nathi Mthethwa ook deel van die opgetekende geskiedenis uitmaak. Die jongste is dat nog ‘n sleepvoorval van iemand deur ‘n lid van die polisie ‘n “verleentheid” is. Dis nie ‘n verleentheid nie, dis ‘n skande en klad op die land en sy polisiediens, finish en klaar.

Onlangs het Mthethwa ná AfriForum se veldtog teen plaasaanvalle as ‘n “publisiteitsfoefie” verwys. Vertel dit aan die naasbestaandes van gister se soveelste plaasmoord – veral die vrou wat pas na haar man vermoor is met ‘n gebreekte arm moes bestuur om hulp te gaan soek na sy self erg aangerand is. Twee selfone is geroof.

Suid-Afrikaanse politici is lank nie die enigstes wat eerder vir hul dwase sêgoed as hul prestasies onthou sal word nie. ‘n Amerikaanse president het kort voor omvattende belastingverhogings nog vir sy gehoor, waaronder joernaliste gesê: “Read my lips, no more taxes.”

Die onlangs gestorwe president van Venezuela, Hugo Chavez, het ‘n opgetekende “rykdom” aan dwase sêgoed nagelaat, terwyl Saddam Hoesein se propagandaminister, die bynaam “Komiese Ali” gekry het weens sy sêgoed.

In Suid-Afrika sit talle middeljariges met min of meer nuttelose kwalifikasies weens ‘n ouer garde politici wat aan die jong mense van destyds die versekering gegee het dat hul kwalifikasies “altyd” in gesonde aanvraag in Suid-Afrika sal wees. Die Staatsleerklasse was eens van die grootste klasse waar sommige universiteite hard probeer het om studente die vreemdste teorieë wys te maak, waaronder die “Christelike wysbegeerte” van die Christelike beleid van apartheid versus die humanistiese beleid van gelykstelling.

Kort na die aanbreek van die nuwe bedeling sit ‘n politikus sy voet behoorlik in sy mond. Die destydse premier Mahlangu van Mpumalanga het te vertelle dat dit maar in die haak is vir politici om kluitjies te bak. Dit het daartoe bygedra dat sy provinsie destyds die bynaam, Mamparalanga kry.

Maar, blyk dit, talle politici het hierdie “wysheid” skynbaar as die volle waarheid gaan sluk. Slag om slag word politici weer en weer vir kafpratery uitgevang: Vigs word nie deur die Vigsvirus veroorsaak nie. Kruie is net die ding vir Vigsbehandeling. Daar is nie soveel armoede as wat die media berig nie, want ‘n mens sien dit dan nie. Boere verkrag en martel hul plaaswerkers. Die SAUK is ‘n gebalanseerde openbare uitsaaier. Afrikanermans, weens hul Calvinistiese opvoeding, beskou hul vroue en kinders as besittings en kan daarom hul lewens neem. Op die oomblik lewer ‘n peperduur webwerf ook heelwat verduidelikings op wat eendag ‘n boek van vreemde uitlatings deur politici opgeteken sal wees.

O ja, en die stroom versekerings oor Nkandla…

En dat dit in die beste belang van Suid-Afrika is dat die land aan die voorgestelde nuwe snoerwet onderwerp word.

Ook pres. Jacob Zuma het al ‘n rits vreemde uitlatings agter die blad, dikwels van ‘n godsdienstige aard wat vergeefs deur die kerklui wat nie deel van die regering se groepie geestelike meelopers is nie, by herhaling skerp veroordeel is. Zuma se “stelling” dat die meerderheid swart grond in die droër dele van die land is, die Davos-uitlatings oor gewelddadige optogte wat wêreldwyd deel van die demokrasie is (maar die media swyg net hieroor) en dat Suid-Afrika nie ‘n gewelddadige land is nie, dat die gewelddadigheid die nalatenskap van apartheid is (laaste apartheidswet is lank voor 1994 al afgeskaf, en sedertdien ‘n wetboek wat deur neo-apartheidswette oorstroom word), en die wreedheid in polisiegeledere wat a-la-Mthethwa ook apartheid se skuld is, is ongelukkig ook juweeltjies vir ouma se dagboek van opgetekende politieke dwaashede.

Verskeie ministers het al ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om nie die “top”-politici so belaglik voor te stel nie, want dit skaad Suid-Afrika se beeld as beleggingbestemming.

As ‘n regering egter aan ‘n sirkus herinner, sal dit die politici loon om ook te onthou dat die mensdom verwag om narre in sirkusse aan te tref. Verduidelikings soos dat buite konteks aangehaal is, en dat “die media lieg” of eensydig berig werk net ‘n paar keer.

Die grootste sirkus is egter die kiesers wat keer op keer stem dat die narre die “show” moet “run.”

Van ‘n onderwyser van die Namakwalandse dorp Calvinia het die volgende wysheid aan ‘n bekkige leerling gekom: “As ‘n donkie sy bek oopmaak val daar kaf uit.”

‘n Wag voor die mond, en die lees van konteks is so belangrik, anders kan ‘n persoon se geloofwaardigheid, en daarmee die instansie waarvan hy ‘n verteenwoordiger is, so maklik en skadelik in die slag bly. Dié naweek is ‘n artikel deur Murray la Vita geplaas oor sy onderhoud met RSG se uitvoerende regisseur van aktiwiteitprogramme. Foeta Krige. Krige sê sy span het nog nooit opdragte gekry om die waarheid oneer aan te doen nie. Die “ander werklikheid” is egter dat baie van die personeel van wie sy programme afhanklik is, deur hul bevelstrukture, wel skeeftrekkende opdragte kry, soos die personeel in streekkantore. Die opdrag dat minder aandag aan plaasaanvalle geskenk moet word, mag dalk verval het, maar het minstens ‘n tyd lank noodwendig RSG se vermoë om hieroor te berig beïnvloed. Streekkantore kry ook opdragte oor welke politieke partye se kongresse, selfs nasionale kongresse wat in die provinsies plaasvind, behoorlike of selfs enige nuusdekking – veral TV-dekking kan kry. Dan gebeur die absurde dat ‘n die kongres van ‘n baie klein party soos die PAC groot dekking kry, terwyl ‘n aansienlike groter party se ooreenstemmende kongres onnuuswaardig bly. Verskeie deelnemers aan die program Kommentaar op RSG, het al op dié program daarna as ‘n “eiland” in die SAUK se gewone aard verwys. Onder hulle was Max du Preez.

Die publiek sien dinge raak. Teen gisteraand het lede van die publiek ook reeds in kommentaar op Maroela Media se bakkiesbladberig oor die jongste plaasaanval geskryf dat die SABC-TV-nuus dié voorval bykans geïgnoreer het, maar groot gewag gemaak het van beweerde wreedhede teen mense wie se weergawes van die gebeure enorme vrae laat.

En net daar het Foeta se versekering ‘n lelike knou weg deurdat hy ‘n tonnel-weergawe opgedis het.

‘n Wag voor die mond…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

vasti ·

Dink maar net…. Die arme polisiemanne is maar ook net mense… en daar is ‘n hele klompie van hulle wit en swart wat passievol is oor hulle werk…. ek dink hulle bereik ook maar breekpunt…. Die polisie is nie die moeilikheid nie… die kriminele is, en hul word mooitjies beskerm deur ‘n kriminele regering

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.