Nuuskommentaar: Watter geskiedenis, Blade?

Blade Nzimande

Wie ook al regeer, skryf die geskiedenis. Hierdie spreekwoord het gister by my opgedoem toe ek lees dat dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, vra dat Suid-Afrikaanse geskiedenis “herskryf” (oftewel “hervertolk” – wat tegnies nie dieselfde konsep is nie) moet word. Volgens hom is groot dele van die Suid-Afrikaanse geskiedenis nog nie vertel nie en op ‘n baie eensydige manier aangebied.

Hierdie herskrywing moet gebeur om, volgens hom, die uitwerking van kolonialisme op intellektuele produksie reg te stel. Sonder om verdere besonderhede te gee, maak hy asof hy reeds weet wat “eintlik gebeur het”, daar nog nooit goeie en gebalanseerde geskiedenis-oeuvre oor SA gepubliseer is nie en praat hy met ‘n sekerheid so asof hy self daar was toe als gebeur het. Genugtig, waarvoor het ons dan nog historici nodig as ons hom het?

Om sy stelling behoorlik te ontleed, moet mens vra hoe gewone mense hul geskiedenis lees en leer. Eerstens is dit op skoolvlak, waar dit tot gr. 9 verpligtend is. Tweedens as vak op universiteit, waar dit meestal as ‘n stopvak geneem word en die belangstelling daarvoor besig is om vinnig te kwyn – wat vir my as sosiale wetenskaplike ‘n tragedie is. Laastens ook deur middel van ensiklopedieë en kommersiële boeke. Laasgenoemde kan egter net gebruik word as dit die leser se belangstelling wek, as daar genoegsame toegang daartoe is en daar ‘n voldoende leeskultuur in die land – in hierdie geval Suid-Afrika – bestaan. Hierdie faktore is egter almal grotendeels afwesig in Suid-Afrika en geskiedenisboeke wat oor die land handel word net deur ‘n klein groepie hoofsaaklik ouer wit, middelklas mense gekoop en gelees.

Dan oor na die skole. Ek het ‘n ruk gelede ‘n navorsingsverslag oor die skoolkurrikulum vir geskiedenis opgestel en as Blade sy sin kry en die geskiedenis word verder op skoolvlak verdraai, gaan dit niks anders as blote politieke indoktrinasie wees nie. Afrikaner-kinders so jonk as 12 leer merendeels dat hul voorvaders ‘n spul misdadigers was wat slegs genadeloos met swartmense gewerk het, dat die ANC se struggle slegs goed en edel was sonder dat daar ten minste konteks oor die ontstaan van apartheid en wit vrese gegee word, en dat die Westerse wêreld slegs vir kolonialisme onthou word.

Altesaam 7 uit die 15 kontakure van die eerste kwartaal van die gr. 7 (st. 5) sillabus word byvoorbeeld aan die onderwerp “slawe en meesters aan die Kaap” afgestaan. Hierdie tema word opgedeel in subafdelings wat verduidelik hoekom slawe Kaap toe gebring is, waar slawe vandaan gekom het, hoe dit was om ‘n slaaf onder die Nederlandse “setlaars” in die Kaap te wees, slaweweerstand en die erfenis van die slawe (soos Islam). ‘n Verdere drie ure word daarna aan die gevolge van Nederlandse nedersetting gewy met grondonteiening wat sentraal staan en dan ook die trekboere se verspreiding na die binneland met hul slawe en bediendes wat negatiewe aandag kry.

Slawerny en die verhoudinge tussen die Nederlanders en die slawe word op ‘n oorvereenvoudigde wyse aangebied. Dit is ‘n subtiele regverdiging vir hedendaagse grondonteiening en regstellende aksie en wek skuld by wit kinders oor hul voorsate se behandeling van bruin en swart mense.

Maar in geskiedenis is dit is nie slegs dit wat skeef vertel word wat saak maak nie, maar ook dit wat uitgelos word. Min of geen tyd word in die gr. 7-kurrikulum gewy aan die positiewe rol van die Nederlanders in Suid-Afrika, soos die bring van Westerse praktyke en hul vordering met infrastruktuur-ontwikkeling, die skep van werk asook die kersteningsrol wat hulle gespeel het nie. Die enigste Suid-Afrikaanse deel in die gr. 8-kurrikulum handel oor die ontdekking van diamante in Suid-Afrika. Iets soos die konteks van die Tweede Anglo-Boereoorlog kon beslis ingesluit gewees het in hierdie tydvak se geskiedenis, maar dit is nie.

Strykdeur word die koloniale periode slegs as ‘n scramble for Africa uitgebeeld met Afrika se hedendaagse probleme wat in sy geheel aan kolonialisme toegedig word. Nêrens word daar melding gemaak van die dwingelandy en outoritêre regimes van Afrika sedert onafhanklikheid nie en die behandelde gevalle van etniese konflik op die vasteland, soos Rwanda, word als aan koloniale owerhede se “voorkeurbehandeling” van sekere groepe toegeskryf. Idi Amin se vergrype en plundering van die staatskas, Robert Mugabe se volksmoord op die Ndebele’s in 1982 en sy huidige vergrype, Mobuto Sese Seko se korrupte regime in die Demokratiese Republiek van die Kongo, die swart-op-swart onderdrukking en etniese geweld in Ethiopië, Somalië, Nigerië, Angola en die Kongo sedert die 1960’s word gerieflikerwys uitgelos. Voorts word “hedendaagse” SA geskiedenis, synde 1994, ook in die skoolkurrikulum geïgnoreer. Die falinge van die ANC op owerheidsgebied, die treurige stand van swart onderwys, misdaad, die val van die lewensverwagting onder die nuwe bewind, ensovoorts is heeltemal uitgelos.

Terwyl mens net Niall Ferguson se Civilization: The West and the Rest hoef te lees om uit te vind watter wrede onregte veral die Franse en Belge in swart Afrika gepleeg het, is dit hoegenaamd nie die volle prentjie nie. En Ferguson se boek skets die ander kant ewe volledig. As ons skoolkurrikulum bekyk word, is dit asof die Westerse slegs geplunder het en geensins paaie, brûe en goeie geboue gebou het nie, nooit die swart massas aan Westerse onderwys blootgestel het en nooit medisyne uitgevind het wat die swart bevolkings in hul kolonies se lewensverwagting, veral in die tropiese dele van Wes-Afrika, verhoog het nie. Die historiese vriendskaplike bande tussen die Europese moondhede en hul voormalige kolonies, veral op ekonomiese, kulturele en linguistiese gebied, word byvoorbeeld heeltemal weggelaat uit geskiedenis wat alle kinders – swart én swart – op in SA skole moet leer.

Dit kan dan met reg gevra word: Wie se geskiedenis word nou vertel? Prof. Fransjohan Pretorius vermeld tereg in die inleiding van die onlangs uitgereikte Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag dat terwyl geskiedenis-onderrig in die vorige bedeling ‘n hagiografie van Afrikaner-geskiedenis was, het swart verset nou die leitmotief van geskiedskrywing geword. Die oorsake van Apartheid soos wit armoede en die feit dat wittes toe reeds ‘n klein minderheid was, die zeitgeist van die tyd waarin dit ontstaan het, naamlik dekolonialisering en wit vrese ná beelde van vlugtende blankes in die Kongo, asook die donker kant van swart verset word aangebied asof daar absolutes in hierdie lewe bestaan en nuanses glad nie. Die Afrikaners het dus net onderdruk en nie die beste staat in Afrika aan die ANC oorgegee nie en die ANC het slegs bevry, nooit by politieke geweld en terreur betrokke geraak nie en nie die geërfde staat tot ‘n Derdewêreld-status regeer nie.

Ons almal het foute gemaak, ons almal het ook gebaat en die lewe en enige era bestaan uit goed sowel as kwaad. Helaas sien Blade en die ANC dit hoegenaamd nie so nie. Ons moet erken dat geskiedskrywing nooit heeltemal objektief is nie, maar dat balans as ‘n allerbelangrike en etiese deug nagejaag moet word. Daarbenewens moet ons almal eerlik omgaan met ons eie groepe se verlede en erken dat ons nie net engeltjies is nie, maar ook feilbaar. Anders raak die geskiedenis bloot ‘n ideologiese speelbal en ‘n instrument vir vyandigheid, en nie vir versoening nie. Dit is daarom belangrik dat ons almal se prestasies en foute vertel moet word sodat daar wedersydse begrip kan wees. Indien nie, gaan geskiedenis as onderwerp en vak later self tot die verlede verdoem word. En dit sal ‘n tragiese gebeurtenis wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae