Nuuskommentaar: “We are marching to Nkandla” – foefie, flater, benodig of briljant?

Die foto is deur @ewnreporter op Twitter gelaai.

Al sê die ANC-ondersteuners ook wat – in ‘n demokrasie was dit die DA se reg om te gaan kyk hoe belastingbetalersgeld aan die president se privaatwoning aangewend word, selfs sal sou dit meer as publisiteitsfoefie bedoel gewees het as erns om werklik agter die kap van die byl te kom.

Of die optrede dalk bloot Zuma se kanse tot herverkiesing die einde van die jaar verstrek het, is ‘n ander.

Die nuwe sensusverslag toon duidelik dat die regering oorheersend in rasterme dink en reageer. Hierom konsolideer die ANC sy magsbasis, hiermee word sy foute toegeverf, en hiermee word beleid bepaal. Hoe langer die ANC die persepsie kan bestendig dat dit ‘n geval is van die ANC wat swart belange dra, teenoor die DA wat wit belange bevorder, hoe langer is die ANC van sy vrypas verseker.

Die DA, daarenteen, het ‘n wesenlike belang daarby om die persepsie af te takel dat dit ‘n party vir wit belange is. Die party het dus nie net swart lede en ampsdraers nodig nie, maar het ook nodig dat die breë publiek  deeglik kennis neem daarvan dat die party ook ‘n swart gesig het – of meer politiek korrek uitgedruk, nie-rassig is.

En dié persepsie kan net behoorlik inslag kry as die party ook die tipiese terreine betree wat die ANC en ander swart partye as ‘n eksklusiewe domein opgeëis het.

Al wil die ANC dit nie weet nie, is dié soort optogte nie vreemd aan minstens ‘n deel van die DA se DNS nie. Verskeie van die elemente waaruit die DA deur fusie tot stand gekom het, was deel van die UDF, byvoorbeeld die Black Sash waarvan die leier, Helen Zille lid was, en die ou Progressiewe Party se jeugvleuel. Daar is skouer aan skouer optogte gehou saam met mense soos Trevor Manuel.

Die ANC het nog selde goed gereageer as dit op eie domein aangedurf word. Die Shellhouse-skietery met die IVP weerklink nog. Die slag van Braamfontein se stof het kwalik gaan lê.

Nkandlagate trek weer ‘n nuwe streep in die sand.

ANC-ondersteuners het na berig word weer die lied, “Skiet die Boer” gesing, pas na ‘n ooreenkoms tussen die ANC, AfriForum en die TLU-SA ‘n bevel van die appèlhof gemaak is.

Provokatief of nie, in ‘n demokrasie moet die meerderheidsparty daarmee verlief neem, en in ‘n grondwetlike demokrasie soos Suid-Afrika word dié reg grondwetlik gewaarborg, solank dit vreedsaam is. Die bedoeling is dat die optoggangers vreedsaam moet wees, net soos die veronderstelling was dat die myn- en vervoerstakings vreedsaam moet wees.  Beeld, in sy hoofartikel, maak dit ook duidelik dat die DA eerder die aandag wou trek as werklik ondersoek wou instel: “Die ANC weet goed die DA wil die kollig plaas op ondemokratiese vergrype waarin honderdmiljoene van belastingbetalers se geld aan die president se private huis bestee word, terwyl miljoene Suid-Afrikaners sukkel om kop bo water te hou en terwyl welsynorganisasies nie naastenby genoeg geld het om armes te help nie.”

In die proses is die redes wat die DA vir die opmars na Nkandla opgee en die redes wat die Zuma-ondersteuners opgee oor hoekom dit teengestaan is, irrelevant – die persepsies is dat die DA spiere in die simboliese hart van die ANC – Nkandla – wou gaan bult. Dit is ‘n aspek van stratkom (strategiese kommunikasie) waarmee die ANC vertroud is – destyds met die verklaarde noodtoestandgebiede waar die regering dit met ekspo’s en ander projekte duidelik gemaak het dat dit enige tyd op enige plek sy regeervermoë kan demonstreer. So is die psige-sosiologiese effek van sogenaamde “no go”-gebiede in mense se gedagtes afgetakel. Van hier werk dit in beginsel soos ‘n oliekol wat al wyer uitkring.

Die wyse Salomo het egter ook geskryf die verwaande woorde van die dwaas bring vir hom straf; die woorde van wyse mense beskerm hulle.

Lank na die Noord-Ierse vredesverdrag is daar jaarliks nog skermutselings wanneer Protestante die tradisionele Oranje-optog deur ‘n Rooms-Katolieke buurt hou. Dit is hul reg, maar die Rooms-Katolieke beskou dit as uittarting, en elke jaar word die optoggangers se wysheid bevraagteken.

Dit is duidelik dat die ANC gevoelig is oor presies hoe die vurk met Nkandlagate in die hef steek. Dit het ‘n lang aanloop, toe reeds in die Shabir Shaik-verhoor getuig is die bouwerk is begin met omkoopgeld wat Shaik van ‘n Franse maatskappy ontvang het om in die wapenskandaal se fondse te kon skep. Juis nou woed ‘n regstryd nadat die Nasionale Vervolgingsgesag nie by ‘n spertyd deur die appèlhof gestel, gehou het om materiaal wat betrekking het op die NVG se besluit om vervolging teen Zuma op te skort, aan die DA te oorhandig nie. Die materiaal is aan Zuma oorhandig.

Daar is soveel wurms in die donker kas waarvan die kieserspubliek kennis moet neem, wat beteken dat die buitewêreld ook kennis neem. Juis nou het  Zuma en verskeie regeringslui onder meer die media verkwalik oor daar ‘n minder positiewe beeld van Suid-Afrika in die buitewêreld geskets word wat die land op verskeie indekse laat agteruitboer.

Waar die ANC beslis, volgens demokratiese spelreëls, die bal misslaan, is dat die oplossing nie toesmeerdery is nie, maar dat dit wat verkeerd is reggemaak moet word. Regmaak beteken ook nie dat net politieke teenstanders soos Jackie Selebi gegryp word, soos die NVG-bande blykbaar toon nie.

Deursigtigheid en verantwoordbaarheid is sleutelaspekte van ‘n oop demokrasie. Eens was dit mildelik deel van die ANC se woordeskat.

Slegs die tyd sal leer wie die Nkandla-onderonsie met punte gewen het.

Nkandla hét nou gebeur, of daar beter maniere was of nie, en met die punt van die mat nou gelig, moet deurgedruk word om die hele mat op te rol.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louis du Plessis ·

Netjies Herman! Die doel is inderdaad om die hele mat op te rol!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.