Nuuskommentaar: Weer woeste winde van wilde verandering

Meer as 52 jaar gelede het die destydse Britse premier, Harold MacMilllan sy bekende “winde van verandering”-toespraak in die Suid-Afrikaanse parlement in Kaapstad gehou.

Die raakvlakke tussen MacMillan se toespraak en die lesing van Mary Robinson is haas ongelooflik. Robinson is ‘n voormalige Ierse president, maar het meer internasionale bekendheid verwerf as die VN se Hoë Kommissaris vir Menseregte. Sy word steeds as een van die grootste stryders vir menseregte beskou.

Soos met MacMillan se besoek, het haar skerp woorde in Kaapstad in die teenwoordigheid van vername Suid-Afrikaanse regeringslui geval, toe sy in  die Nelson Mandela-gedenklesing aangebied het.

Sy het ‘n breë spektrum sake aangespreek, soos die noodsaak om die land se enorme ongelykhede te pak, en ook die land ruim geloof oor hoe probleme al in die verlede aangepak is.

Wat egter die meeste aandag getrek het, was haar skerp woorde oor die voorgenome snoerwet. Wat meer insiggewend is, is dat sy juis daardie aspekte aangeval het as wat minister Trevor Manuel pas tevore ergerlik verdedig het.

Manuel het die kritiek op die wetsontwerp grootliks op die media se brood  gesmeer wat nie regverdig daaroor sou berig het nie. Volgens Manuel voldoen hierdie muilbandwetsontwerp tot die letter aan die bepalings van die grondwet. Hy het verder gesê die wet sal nooit gebruik word om korrupsie toe te smeer of om fluitjieblasers mee te takel nie.

Robinson, ‘n regsgeleerde, verskil duidelik hiervan. Sy het ook die impak op die lot van fluitjieblasers belig, en gesê as dié wetsontwerp wet sou word, sal korrupsie in die land skerp toeneem.

Manuel is kort na sy eie toespraak in die nabygeleë Stellenbosch met eier in die gesig gelaat.

Die vraag bly dus steeds onbeantwoord: As dit nié die regering se doel is om korrupsie onder die mat te vee en fluitjieblasers te jag nie, hoekom dan so internasionale kritiek trotseer om by ‘n bewoording te hou wat dit moontlik sal maak?

Om, terwyl Suid-Afrika so vinnig op die korrupsiepersepsie-indeks agteruit boer dat die land Griekeland binne twee jaar gaan verbysteek, in wese ‘n beroep op Suid-Afrikaners te doen om die regering  te vertrou met dié wetgewing, skaad net Manuel se beeld. En juis nou, op die vooraand van die uitrol van sy ministerie se nasionale ontwikkelingsplan, is dit nodig dat die minister geloofwaardigheid moet hê. Trouens, die fokus is skerper op Manuel omdat hy ‘n minister in die presidensie is, en die president self volgens peilings nie die nodige vertroue en geloofwaardigheid vir so ‘n plan inboesem nie.

Die beskerming wat fluitjieblasers nou ingevolge bestaande wetgewing geniet, is heeltemal ontoereikend – nie net in Suid-Afrika nie maar volgens Transparency International op enkele uitsonderings na bykans die hele wêreld. En soos destyds met MacMillan se toespraak, swem Suid-Afrika teen die stroom op.

Die vraag is hoe die regering op Robinson se lesing gaan reageer. MacMillan het vir ‘n hele paar jaar na sy toespraak na ‘n baie swak profeet gelyk.

Robinson se profetiese vermoëns sal moontlik nooit getoets word nie. Die wetsontwerp sal, as dit geteken word, bepaald ‘n draai voor die grondwetlike hof gaan maak, en dit is moeilik om te sien hoe die krapperighede die toets van grondwetlikheid sal oorleef as die beslissing suiwer op regsgronde geneem word.

Maar sou skeptiese kundiges se vrese bewaarheid word dat die grondwetlike hof moontlik ‘n politieke besluit kan neem, sal Robinson se voorspellings deeglik aan die werklikheid getoets word.

Maar selfs al sou die regering hom hou by Manuel se beloftes, sal dié wetgewing soos ‘n albatros om die land se nek bly hang. Dan gaan die regering nie net winde van verandering voel nie, maar woeste winde.

Dié wetgewing, volgens Verslaggewers Sonder Grense, het reeds die land erg op die persvryheidsindeks agteruit laat boer, en dis nog nie eens op die wetboek nie. Of, soos Die Burger dit in sy hoofartikel stel: “Elke universiteit, elke regsgenootskap, elke groot vakbond, elke groot kerk, die openbare beskermer, die hele opposisie, demokratiese handelsvennote, baie ander waarsku só, en nou ook Robinson. Alle eer aan haar omdat sy kaalkop die waarheid praat, juis toe die land dit baie nodig het. Mag die ANC luister!”

In dié stadium lyk die of die regering se antwoord op die waarskuwings van woeste winde van verandering bloot is: “Julle kan traai, maar die wind waai wes.” Of liewer oos, waar nuwe vennootskappe gebou word met lande wat self min vryhede ken en self erg onder korrupsie deurloop.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Trix ·

Ek weet eerlik nie wie die meeste gevrees behoort te word nie. Mary Robinson is net nog ‘n agent vir die Verenigde Nasies se Agenda 21. Haar verwysing na die belangrikheid onder meer na klimaatsverandering en menseregte is ‘n gevaarteken vir burgers wat ‘n vrye bestaan wil he. Die Verenigde Nasies is teen ‘n geweldige spoed besig om mense onder ‘n sosialistiese eenwereld regering te versamel . Aan die ander kant is daar die ANC … Nou wat nou?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.