Nuuskommentaar: Weerlig op die openbare beskermer

Die openbare beskermer, Thuli Madonsela. Foto: GCIS

Sedert dit duidelik geword het dat die huidige openbare beskermer (OB), adv. Thuli Madonsela, haar grondwetlike taak ernstig opneem, is die vraag gevra hoe lank die ANC dit sal duld. Sy het immers getoon dat sy onreg sal ondersoek waar dit ook al mag voorkom.

Van die sogenaamde hoofstuk 9 grondwetlike instellings was dit nog net die ouditeur-generaal wat werklik vertroue ingeboesem het. Jaar vir jaar is die ANC langlippie en vol verskonings, en selfs beskuldigings, oor die ritse verdoemende verslae van die ouditeur-generaal (OG), en jaar vir jaar word maar min vinger getrek om dit reg te stel. Daar is immers ‘n regstreekse verband tussen die  ANC se kaderbeleid en heelwat van die goggas wat uit die OG-verslae kruip.

Die ander liggame, soos Pansat, die Menseregtekommissie en die Kommissie vir Geslagsgelykheid in die gedaante van ‘n vrouekommissie, gaan almal deur fases van swak aanstellings of snoepery deur die regering om hul impak te verminder.

Hoe minder oor die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Taal-, Godsiens- en Kultuurgemeenskappe gesê word, hoe beter. Hier het die ANC die volle spektrum aangewend om te sorg dat die kommissie nie doeltreffend kan wees nie – van misplaaste wetgewing waarmee dit ingestel is, swak aanstellings tot onvoldoende kapasiteit. ‘n Gefrustreerde burgerlike instelling het so ver gegaan om die kommissie by die menseregtekommissie gaan verkla – en dit sal verbasend wees as dié klag nie ook in die doofpot beland nie.

En dan is daar Madonsela.

Maar die OB as instelling was nie altyd op die peil wat Madonsela stel nie. Die openbare beskermer is reeds deur die hof gelas om sy ondersoek na die staatsteater te voltooi, en die verslag is toe ná die hof se sperdatum voltooi. In nog ‘n geval is die finale verslag steeds uitstaande na die voorlopige verslag reeds in die 90-gerjare bekend gemaak is. Geen poging kry die OB so ver om die finale verslag bekend te maak nie.

Die OB is egter nie die enigste plek waar so iets gebeur nie. Elke paar jaar stof opposisiepartye en die Volksblad die feit af dat die Vrystaatse kantoor van die Menseregtekommissie steeds nie verslag gedoen het oor die Vrystaatse nommerplaatkwessie nie, na die hoofkantoor dit in 1998 na sy kantoor in Bloemfontein verwys het. Dit was na Pansat in daardie jaar bevind het die gebruik van slegs FS op die provinsie se nommerplate is ongrondwetlik, en die destydse LUR vir vervoer dit op “appèl” na die Menseregtekommissie verwys het.

Madonsela was, soos haar voorgangers, ‘n politieke aanstelling uit die ANC-dampkring. Trouens, die manier waarop die OB as politieke kommissaris aangestel kan word, is ‘n swakplek in die grondwet, en die ANC het dit tot dusver mildelik benut. Daar is ook geen rede om te glo dat die ANC aanvaar het dat Madonsela soos haar voorgangers, en veral Lauwrence Mushwana, ‘n die indruk van ‘n politieke lakei sou wek nie. Beeld stel dit in sy  hoofartikel onomwonde dat  Mushwana voortdurend soos ’n skoothondjie voor die ANC gekruip het. Mushwana is na sy termyn as OB en na ‘n reuse meevaller as voorsitter van die Menseregtekommissie ontplooi.

Hierteenoor is beide Beeld en Volksblad vol lof vir Madonsela – omdat sy haar werk doen.

Om Julius Malema, wat by die ANC-ringkoppe in onguns verval het, en die DA-beheerde Midvaal te ondersoek is skynbaar vir die ANC in die haak, maar toe Mandonsela na Nkandlagate begin kyk, was die vet skynbaar in die vuur.

Sy is by die parlementêre portefeuljekomitee vir Justisie verkla vir onder meer dat sy eensydig besluite sou neem, maar veral dat sy sagkens met die DA sou werk in haar ondersoek na Midvaal.  Sy het dit reeds ontken.

Die meeste klagtes wat teen haar by die voorsitter van die komitee vir openbare rekenings ingedien is, is naamloos, maar ‘n beduidende uitsondering was dié van Madonsela se adjunk, Mamiki Shai. Shai beklee die pos sedert 2005, en was voor haar aanstelling regsadviseur in die departement van onderwys, en daarna kuns en kultuur. Sy was voorheen hoof van ‘n regsfirma wat haar naam dra.

Dat Shai se klagtes die Midvaal-ondersoek insluit laat die vermoede ontstaan dat politiek onderliggend aan die klagtes kan wees. Of Shai ‘n funksionerende politieke kommissaris van die ANC in die kantoor van die OB is wat nou geaktiveer is om Madonsela tot ‘n val te bring, is nog nie duidelik nie.

Hoewel die proses om die openbare beskermer aan te stel gebrekkig is, is die proses om van die bekleër ontslae te raak minder problematies. Die OB kan net deur ‘n tweederde meerderheid in die parlement afgedank word, en dit het die ANC nie.

Hoewel dit uit berigte lyk of Madonsela reeds met vlerkies toegerus moet wees, is die harde werklikheid dat niemand volmaak is nie. Om haar egter nou te midde van ‘n kleptokrasie te gaan vervang met ‘n politieke lakei, is die laaste ding wat die land kan bekostig. As haar bestuurstyl gebrekkig is, sal dit egter ook nodig wees dat sy die nodige aanpassings maak. Die land verdien ‘n doeltreffende, gemotiveerde OB met ‘n ewe doeltreffende en gemotiveerde span wat almal saamtrek.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae