Nuuskommentaar: Weermag en geweld

Met die eskalerende bendeverwante geweld in die Wes-Kaap staan die minister van polisie vas – die hulp van die weermag sal nié ingeroep word nie. In Engeland, waar die Olimpiese Spele binnekort begin, het die weermag pas besluit om bykomende soldate op bystand te plaas vir ingeval die instansie wat vir veiligheid by die spele, Group 4 Securitas (G4S) nie die mas gaan opkom nie.

Minister Nathi Mthethwa se verduideliking hoekom die weermag nie kan ingryp nie is dat die weermag se toerusting en opleiding nie vir dié rol geskik is nie. Gemeenskapsleiers, soos Kevin Southgate, hou egter vol dat die weermag in die verlede doeltreffend daarin geslaag het om die posisie te pasifiseer.

Wat Suid-Afrika betref, is daar natuurlik die weermag en die weermag. Van die vroeëre hoogs doeltreffende soldatemag wat onder meer kommando’s ingesluit het vir landelike beveiliging, is daar nou min tekens oor. Moontlik ten onregte is die meeste nuus wat die publiek nou oor die weermag kry, sake soos die voortslepende wapenskandaal, die vorige minister, Lindiwe Sisulu se nukkerigheid om die parlement in haar vertroue te neem, peperduur vlugte en vliegtuie vir die president en ander kabinetslede, omstredenheid oor die inspan van MIV-positiewe soldate in vredesoperasies waar van die offisiere in die warm water beland weens wangedrag, vlugtende stakende soldate tydens ‘n loondispuut, lang toue oudgediendes wat op ‘n pensioen hoop, ‘n pantoffeldraende senior offisier en vele meer.

Tog, Vrystaat Landbou was bereid om die regering hof toe te sleep om weer soldate op die grens te plaas, nadat die polisie onsuksesvol die SANW daar vervang het. Ook elders in die land het die SANW  weer ingetree nadat renosterstropery in die Krugerwildtuin vanuit Mosambiek hande uitgeruk het.

Nuus oor die polisie is ongelukkig ook baie gemeng – van groot lof vir polisielede wat hard gewerk het om misdadigers soos plaasaanvallers agter tralies te kry, tot telefone wat nie beantwoord word nie, of die polisie wat nie op noodoproepe kan reageer nie omdat hulle nie voertuie het nie (terwyl senior offisiere skynbaar genoeg voertuie het vir privaat gebruik).

Aan die ander kant is daar die publiek. Volgens die grondwet het hulle die reg op veiligheid en om doeltreffend beskerm te word. Bendegeweld op die Kaapse Vlakte kom nie van gister af nie, en is as subkultuur, of anti-kultuur, diep gewortel. Dit is ten diepste met sosiale euwels soos drankmisbruik en die smokkel van dwelms soos tik en dagga verweef.

Dit sleep ook die onskuldiges by. Onder diegene wat nou gesterf het, is ‘n kind wat by sy huis se venster uitgekyk, en deur ‘n koeël in die kruisvuur getref is. Die omvang hiervan is so groot dat dit op die land se voorsyfer reflekteer. Terwyl die Wes-Kaap hom in talle opsigte onder die ander provinsies uitruster, is die moordkoers in hierdie provinsie baie hoër as elders in die land. Die land se gemiddelde moordkoers is 32 per 100 000 per jaar, terwyl dié van die Wes-Kaap meer as 44 is. Die moordkoers onder bruin mans in die Wes-Kaap, wat in ‘n stadium meer as 90 per 100 000 per jaar beloop het, sis as die hoogste vir ‘n identifiseerbare groep ter wêreld aangedui, maar is sedertdien deur die moordkoers onder boere en hul gesinslede in Suid-Afrika verbygesteek, wat volgens die mees konserwatiewe beramings meer as 100 per 100 000 per jaar beloop. Dis ongelukkig moeilik verifieerbaar omdat sulke formele syfers nie bygehou word nie.

G4S het die Britse regering vir 3 500 bykomende soldate gevra, maar die regering het nog nie laat blyk hoeveel hy hiervoor op bystand geplaas het nie. ‘n Risiko-analise het getoon dat die bykomende veiligheidspersoneel by die Heathrow-lughawe onvoldoende is.

Die Britte is senuagtig oor wat voorlê. Onlangs het ‘n vermeende terroris wat met ‘n opsporingstoestel gerek word, die hare laat reis toe hy sy inperkingsbevel oortree, en ‘n hele paar keer deur die Olimpiese gebied gereis het. In Suid-Afrika, waar die land weens geweldsmisdaad bitter swak op die wêreldvredesindeks vaar, is die enigste vredesoperasies waaraan hulle mag deelneem oorsee. Hier sit die regering duidelik die pot mis.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae