Nuuskommentaar: Wen die oorlog en verloor die vrede: Lesse van die Shifta

Min Suid-Afrikaners het waarskynlik van die Shifta-oorlog en Irredentisme gehoor, maar dié kwessie herleef hom op die oomblik in Noordoos-Afrika en hou talryke lesse in.

Die Shifta-oorlog het van 1963 tot 1967 in Kenia se Noordoostelike gebiede gewoed. Dié droë gedeelte word hoofsaaklik deur etniese Somalies bewoon, en hulle is betreklik stief deur die regering van Kenia hanteer. Die Somaliese nomade is in wese in, wat die inwoners as konsentrasiekampe ervaar het, saamgetrek, en kon slegs met passe daaruit beweeg. Al het die etniese Somalies in beginsel die grond besit, was hulle armoedig vergeleke met die relatief min nie-Somaliese inwoners.

Oorkant die grens in Somalië het nasionalisme hoog geloop. In die post-koloniale tydperk is die voormalige Italiaanse en Britse Somalielande in een saamgesnoer. Dit was byna vanselfsprekend dat die etniese Somalies in Kenia ook hul gebied by Somalië sou wou inlyf. Boonop het die Britse regering nog vier dae voor Brits-Somalieland in 1960 onafhanklikheid verkry het verklaar dat alle Somaliese gebiede onder een gesag moet staan. ‘n Opname het bevestig die meeste Somalies in hedendaagse Kenia wou deel van Somalië word, maar die Britte het hierdie onderneming verbreek.

Met die uitbreek van die Shifta-oorlog het baie etniese Somalies na Somalië gevlug. Kenia se propaganda het ingesluit om die oorlog die naam te gee waaronder dit bekend sou staan, waar Shifta skurke, of dan die Engelse woord, Bandid, beteken.

Van kort voor en gedurende die oorlog het Kenia uiters gewelddadig teenoor die inwoners wat verdink is dat hulle ondersteuners van die bevrydingsorganisasie was, opgetree. Dit is nou moeilik om te bepaal hoeveel hiervan waar is, maar verhale sluit in dat inwoners gedwing is om te paddaspring tot by plekke waar hulle doodgeskiet is. Selfs baie jong kinders is glo so doodgeskiet.

Uit onlangse dokumente het dit aan die lig gekom dat die Somaliese regering die oorlog help finansier het. Die skietstilstand is ook uiteindelik tussen Kenia en Somalië gesluit.

Irredentisme – die uitdrukking van nasionalisme waar ‘n volk oor meer as een landsgrens woon – en veral as die een deel hulle as minderheid in ‘n buurland bevind het sterk bly loop en onder meer daartoe gelei dat Somalië die Ogadenwoestyn in Ethiopië probeer verower het. In 1991 het die bewind van die diktator Siad Barre getuimel, en stamme wat kort tevore nog sterk onder een Somaliese nasionalisme saamgesnoer was, het met mekaar oorhoeks geraak en die land het effektief as georganiseerde eenheid gedisintegreer.

Nie net effektief onafhanklike stamentiteite het tot stand gekom nie, maar ook terreurgroepe soos al-Shabaab wat veral bekend was dat dit sterk met Al-Kaïda assosieer. Talle eertydse Kenianaanse Somalies het na Kenia teruggekeer om daar te hervestig, en hulle weer in erge diskriminasie vasgeloop. Talle kry nie verblyfreg nie.

Intussen het die tussentydse oorgangsregering en die Afrika-Unie se vredesmag vordering begin maak, en tydens die droogte met gepaardgaande hongersnood, onder meer daarin geslaag om Al-Shabaab uit die hoofstad Mogadishu te verdryf. Die VSA het met presisieaanvalle deur onbemande vliegtuie ook dié terreurgroep gevoelige verliese toegedien. Hulp, veral geldelike hulp van Somalies in diaspore het begin opdroog. Intussen het honderde duisende Somaliese vlugtelinge ook na vlugtelingkampe in Kenia en Ethiopië gestroom – met beide lande wat histories minder opgewonde was om juis Somaliese vlugtelinge op hul bodem te ontvang.

En toe besluit Kenia om Somalië binne te val.

Dit is teen dié agtergrond dat die Kovsie-hoogleraar, prof. Hussein Soloman skryf dat Kenia ‘n groot flater begaan het, en nuwe lewe in Al-Shabaab geblaas het. Amptelik het Kenia sy buurland ingeval om ontvoerders agterna te sit, en ‘n wêreld wat sat is vir Somaliese seerowers wat mense ontvoer, sou waarskynlik baie verlig gesug het dat Kenia tot dié stap oorgegaan het.

Maar Kenia het sy inval nie mooi deurdink nie. Spoedig het die invallers hulle in die Somaliese reënseisoen bevind, en die konvensionele magte het in die modder letterlik en figuurlik begin vasval. Met Somaliese nasionalisme wat herleef, veral te midde van burgerlike ongevalle aan die hand van die Keniane, het Al-Shabaad weer ‘n toeloop van rekrute beleef, en die toestande pas hul guerrila-taktiek.

Boonop het die onafhanklikheid van Suid-Soedan lewe in nasionalistiese sentimente geblaas wat met die onafhanklikheid van Eritrea van Ethiopië losgelaat is. Skielik was die ou koloniale grense nie meer so onskendbaar soos wat die Afrika-Unie normaalweg getrou oor waak nie.

Soveel van die elemente wat die Oos-Afrikaanse ongedurigheid onderlê is ook in Suid-Afrika aanwesig, dat dit die moeite werd is om die lesse ter harte te neem. Die belangrikste is stellig dat, soos Bismarck geleer het, die vyand nie verneder moet word wanneer vrede gesluit word nie. Waak daarteen om die konflikpotensiaal lewend te hou – ‘n les wat die ANC gerus kan leer uit sy steun aan Malema met die sing van haatspraakliedere.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae