Nuuskommentaar: Wêreldbank trap korrupsie vas

Die Afrika-kontinent het sommer met ‘n wanklank weggespring toe die Wêreldbank die eerste instansies se name en die sake teen hulle gepubliseer het, waarteen ‘n wye reeks sanksies in die bank se stryd teen korrupsie en bedrog ingestel is.

Onder die eerstes is twee van Nigerië, waaronder die energiebedryf, en een van Soedan. Die ander is onder meer van die Palestynse gebiede waar met ‘n Deense skenking onsuiwer gehandel is, een van Indië, een van Peru, een van Italië en ook een van China.

Dit is ‘n omvattende proses, aangesien elke saak eers behoorlik ondersoek, en “verhoor” moet word. Die sanksies word vir bepaalde tydperke ingestel waartydens die instansies die wêreldbank kan oortuig dat hulle ‘n nuwe blaadjie omgeslaan het.

Die sanksies is nie heeltemal nuut nie, en die Afdeling Sanksies werk al sedert 1999, en het al sanksies teen sowat 350 instellings ingestel. Nou word die hele saak teen hulle egter gepubliseer, en dit is onwaarskynlik dat iemand nou sake met hulle sal doen.

Een van die hoofredes waarom die Wêreldbank nou so hard toeslaan, is weens die skade wat die beeld van ontwikkelingshulp kry, as dit deur korrupsie of bedrog in die verkeerde hande beland. Daarom beskryf die Wêreldbank korrupsie as een van die grootste oorsake wat hindernisse vorm vir ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling. Deur korrupsie word ‘n land se toekoms gesteel.

Suid-Afrika se 64de posisie op die korrupsiepersepsie-indeks is nie te sleg vergeleke met sy mede-Brics-vennote nie, waar Suid-Afrika beter vaar as Brasilië (73), China (75), Indië (95) en Rusland (143). Die onheilspellende is dat Suid-Afrika in net een jaar met tien plekke teruggesak het.

Boonop styg handelsmisdaad in Suid-Afrika skerp volgens die SAPD se amptelike statistieke. Waar slegs 115 uit elke 100 000 van die bevolking in 2004 / 05 vir handelsmisdaad gevang is, was dit in 2010 / 11 177 per 100 000. Hierdie soort misdaad se statistiek kan misleidend wees, aangesien dit ook op skerper wetstoepassing eerder as ‘n toename in gevalle kan dui.

Volgens KPMG word toenames in bedroggevalle toegeskryf aan gulsigheid en ‘n knypimpak van verskerpte kredietbeheer. Soos ‘n ekonomie versleg, en fiskale dissipline toegepas word, sal bedrog moontlik toeneem. Die oorsake vir die toename in korrupsie is klaarblyklik baie ingewikkelder.

Daniel Teisman van die Universiteit van Kalifornië het ‘n statistiese ontleding van verskeie indekse oor korrupsiepersepsie gedoen en ‘n paar redes, asook ‘n paar moontlike redes gelys. Lande met ‘n Protestantse grondslag, ‘n geskiedenis van Britse regering en wat meer ontwikkelde ekonomieë het, is klaarblyklik minder geneig tot korrupsie. Federale state neig weer om meer korrup te wees, en hoe langer ‘n behoorlike demokrasie in plek bly, hoe minder geneig is die land tot korrupsie.

Heelwat bronne toon egter aan dat korrupsie die gevolg van swak regeerkunde is, terwyl die swak voorbeeld wat leiers stel die wil om korrupsie hok te slaan erg erodeer. Daar is ook ‘n sterk verband tussen ‘n land se BNP en korrupsie. Kulturele gebruike word dikwels genoem of geïmpliseer, soos die morele boodskap wat uitgestuur word as die Indiese ghoeroes omkoopgeld neem.

Ontleders meen ook dikwels dat die prentjie eintlik omgekeer moet wees – dat die teenwoordigheid van korrupsie eerder die probleme veroorsaak wat gewoonlik as oorsake daarvan aangebied word. Dit maak veral sin as gekyk word na die gevolge van korrupsie. M.a.w., swak regeervermoë is die gevolg daarvan dat korrupsie hulpbronne dreineer, eerder as dat die swak regeerkunde die korrupsie stimuleer. Ander beskou dit soos ‘n tweesnydende swaard.

Waaroor daar konsensus is, is dat korrupsie sleg vir ‘n land en sy ekonomie is, en uitgeroei moet word. Van die Wêreldbank en die IMF word gereeld verwag om reddingsboeie na lande uit te werp, wat baie duur kan word as korrupsie veroorsaak dat net ‘n fraksie van die hulp aangewend word waarvoor dit bedoel is.

Die Wêreldbank is nou klaarblyklik ernstig om korrupsie vas te vat. Selfs al is sy huidige projek slegs ‘n druppel aan die emmer, stuur dit minstens die boodskap helder en duidelik aan regerings en ander instansies uit dat korrupsie sleg is, en nie geduld kan word nie. En wie nie ore het nie, gaan hul name op die Wêreldband se skandmuur lees.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae