Nuuskommentaar: Wêrelddag teen kuberruim-sensuur

Min mense sal seker weet dat dit gister die Wêrelddag teen kubersensuur was. Die internasionale persvryheidswaghond, Verslaggewers sonder Grense (VSG) reik tradisioneel op hierdie dag lyste uit van die lande wat as vyande van die internet beskryf word, en lande wat sulke geluide maak dat dié organisasie daardie lande met ‘n valkoog dophou.

VSG noem internetverslaggwers netizens. Verlede jaar het 5 netizens met hul lewe geboet, wat nie verrassend is nie gegewe dat dié mense ‘n kernrol gespeel het om die Arabiese domino-revolusie momentum te gee, en in ‘n land wat deur dwelmkartelle gyselaar gehou word soos Meksiko, die dwelmbase aan die kaak stel.

Verlede jaar is bykans 200 netizens en bloggers wêreldwyd in die tronk gestop, ‘n toename van 30 persent op die vorige jaar. Dié syfer sal vanjaar na verwagting verder styg, veral weens Sirië se aanslag teen netizens, waarvan sowat 120 hulle op die oomblik agter tralies bevind.

VSG beskou internetfilters en die dophou daarvan as die ernstigste bedreigings. Om die internetverkeer te filter is deur dieselfde tegnologie moontlik gemaak as wat die internet in die eerste plek daargestel het. Trouens, die filterproses was al goed onderweg toe die internet in sy babaskoene was, en kon die onderskepping van byvoorbeeld telekstransmissies met gemak geskied deur die seine deur rekenaars te jaag wat boodskappe kopieer wat sekere sleutelwoorde, of kombinasies van woorde herken het. Groot broer is nie van gister af besig nie – nie net om binnelandse onstabiliteit te monitor nie, maar ook om ‘n kykie te kry wat in ander lande aan die gang is.

Intelligensiedienste se geboue het naderhand so van die skottels en antennas gepryk dat hulle gelyk het soos paddas met vratte. Die neiging is om sulke geboue uit die openbare oog te verskuif. In die TV-reeks, NCIS, word gereeld na dié onderskeppings as “chatter” verwys. Die voorsitter van Nasionale Pers, mnr. Koos Bekker, is by geleentheid in die media aangehaal toe hy ‘n vergadering toegespreek het en sy kommer uitgespreek het oor die invloed wat gemeenskapsmedia het om gedagtediversifikasie te bevorder en sodoende nasionale kohesie te versteur. Kritici het dit as gedagte-imperialisme beskryf.

Hierteenoor het Tim du Plessis, nou hoofredakteur van Nasionale Pers se Afrikaanse dagblaaie, daarop gewys dat koerantgroepe nie kan waag om inligting ter wille van ‘n bepaalde ideologie – of dan gedagte-imperialisme – te manipuleer nie, omdat die internet, en soos hy dit gestel het, alewige blogs, die inligting wat verswyg word, na die publiek neem en so die tradisionele media se geloofwaardigheid sal aantas.

Hierteenoor, tydens die jare wat Jonathan Crowther redakteur van Volksblad was, is ‘n onverbloemde pro-DA-houding ingeneem. Toe Volksblad byvoorbeeld beskuldig is daarvan dat dit onder meer die DA nie net tydens ‘n studenteraadsverkiesing steun nie, maar die DA ook teen die DA self beskerm deur sekere omstrede mediaverklarings deur veral Sandra Botha nie te gebruik nie omdat dit beslis sal boemerang, is dit ontken deur te sê die Volksblad steun sekere beginsels, en partye wat dit ook steun verdien ondersteuning. Die beginsels wat toe gestel is, was identies met dié van die DA. In ‘n hoofartikel, destyds, is die aborsie-kwessie ook tot nie meer deel van die openbare debat nie, verklaar, en is dié kwessie vir alle praktiese doeleindes verswyg. Tot sy krediet het hierdie aanslag grootliks onder Crowther se opvolger, Ainsley Moos, verander en berig Volksblad nou weer gereeld oor die aborsiedebat ook.

In lande waar groot dele van die bevolking toegang tot die internet het, migreer baie mense vir hul nuustoegang na die kuberruim, en gedrukte koerante moet fyn kyk en luister na nuusbehoeftes om nie onder die groeiende aantal koerante met krimpende sirkulasie te tel nie. ‘n Debat in die kleine het selfs ontstaan oor of internettoegang ‘n mensereg behoort te wees, veral in landelike goede waar biblioteke vir toegang tot inligting nie so algemeen is nie. Ook mense wat in die omgewing van globalisering, affirmative action-diskriminasie en volksmoorde na die buiteland migreer, gebruik die internet om in die vreemde om nuus in hul moedertaal te kan lees, of selfs na radiostasies te kan luister.

In die dae van die Boerestaat Party (sic) is gesê ‘n persoon het net ‘n tikmasjien en ‘n faksmasjien nodig, dan kan hy ‘n politieke party wees. Met rekenaars en die internet kan veel meer vermag word.

Suid-Afrika het nog groot agterstande om in te werk om op dieselfde vlak te kom van byvoorbeeld Nederland. Die meeste Suid-Afrikaners besit nie rekenaars nie, maar baie het selfone waarvan al meer ook internettoegang bied. Die omvang van die probleem blyk egter daaruit dat in die Noord-Kaap alleen, sowat 700 skole nie toegang tot die internet het nie.
Waarskynlik die slegste aspek van die internet is dat dit ook die uitlaatklep geword het vir lafhartige mense om onder skuilname lustig ander te beswadder, te belaster of sommer vitrioel oor die algemeen kwyt te raak. Hierdie kopsiekes vind in die kuberruim die magshefboom om ‘n smerige, en moeilik uitwisbare spoor, van karaktermoord te laat. Diensverskaffers voer dikwels die reg tot spraakvryheid aan oor waarom hierdie, soos Tim du Plessis hulle onlangs genoem het, malletjies se identiteit teen kriminele vervolging beskerm moet word. Wie sal onthou hoe MXit onder skoot gekom het toe dit die identiteit wou beskerm van ‘n persoon wat ‘n klomp skoolmeisies se name onder ‘n sogenaamde sletlys gaan plaas het?

In die geheel gesien, het die internet ‘n revolusie bewerkstellig waar individue toegang tot ‘n enorme hoeveelheid inligting kan kry. Goeie inligting tot baie swak inligting en selfs pornografie.

Internet-vyande:
Bahrain
Belarus
Burma
China
Cuba
Iran
Noord Korea
Saoedi-Arabië
Sirië
Turkmenistan
Oezbekistan
Viëtnam

Lande onder toesig:
Australië
Egipte
Eritrea
Frankryk
Indië
Kazakstan
Maleisië
Rusland
Suid Korea
Sri Lanka
Thailand
Tunisië
Turkye
Verenigde Arabiese Emirate

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae