Nuuskommentaar: Wie hoort in die politiek?

Twee onlangse gebeure dui op besondere fyngevoeligheid deur die ANC oor kritiek. In beide gevalle het die ANC op ‘n manier gereageer wat nie ‘n demokrasie waardig is nie.

In reaksie op kritiek op die ANC se regeerwyse uit die sakesektor het die ANC gereageer met die stelling dat sakelui hul neuse uit die politiek moet hou. Toe oud-president FW de Klerk in ‘n onlangse toespraak onder meer oor oud-president Nelson Mandela gesê dat hy “nie met die algemene ophemelingsgeskiedenis rondom mnr Mandela saamstem nie” en dat hy “alles behalwe ‘n goedige oomfiguur en ‘n heilige (was) soos hy wyd vandag beskryf word,” het die ANC gal gebraak. De Klerk het voorts gesê Mandela kon as ‘n politieke teenstander onbeskof en heel onregverdig wees. “Gedurende die onderhandelinge, terwyl ek as Adjunkpresident in die Regering van Nasionale Eenheid gedien het, het ons dikwels harde botsings gehad. Maar dit is die aard van politiek.”

Bygesê, in dieselfde toespraak het hy ook groot lof vir kwaliteite van Mandela gehad.

Die ANC met bitterheid teruggekap en De Klerk met die teerkwas bygedam.

Politici met voete van klei is nie tot Suid-Afrika beperk nie. Onlangs het die hoofredakteur van Trouw in ‘n buitengewone redakteurskommentaar ‘n Nederlandse minister prontuit van leuens beskuldig, en boonop gesê dit was nie die eerste keer nie. Lees https://maroelamedia.co.za/blog/nuus/nuuskommentaar-politici-en-die-media/.

Twee vrae ontstaan: Is politici so fantasties dat hulle onaantasbaar is?

En, as sakelui nie hul menings oor politici mag uitspreek nie, wie mag dan?

In Suid-Afrika is die formele gebruik om na senior politici as “Sy edele” te verwys lank reeds, en heel gepas, afgeskaf. Te dikwels stel politici ‘n heel onnavolgenswaardige voorbeeld. Stellings van politici dat politici maar mag lieg, dat politici in sulke blink karre moet ry weens die toestand van die paaie waarop hulle moet ry, dat, as almal wat korrup is, hoe geen regstellende aksie ooit toegepas word?, en vele meer het al die media gehaal.

Ons huidige president is knaend by kerklike leiers in die sop oor bedenklike godsdiens-uitsprake, en dat hy gemeen het dat stort vigsbesmetting kan voorkom, en het owerspel as verweer teen ‘n verkragtingsaanklag aangevoer.

Ook wat kwalifikasies betref, lyk dit of die standaard vir politici maar bedroewend laag is, met die president wat byvoorbeeld nie juis formele skoolonderrig ontvang het nie.

Maar die regering ag dit wys om aan sakelui voor te skryf om as skoenmakers hulle by hul lees te hou.

Van die demokrasie word dikwels gesê dat dit ‘n euwel is, maar die beste euwel is wat ons in die staatkunde het. Die basiese beginsel dat stemreg oop is vir almal bo ‘n bepaalde ouderdomsgroep, dui reeds daarop dat foute moet insluip. Sou daar ‘n basiese kwalifikasie wees, soos ‘n eksamen oor regeerkunde wat mense eers suksesvol moes aflê voor hulle kan gaan stem, gaan die kieslyste aansienlik korter wees.

Sou die stemproses met rekenaartegnologie gekombineer sodat kiesers nie vir partye nie, maar vir beleidsrigtings moet stem – presies hoe gaan die uitslae dan vergelyk met die uitslae volgens die huidige stelsel?

Baie mense stem gewoon vir die charisma van ‘n leier, en gestroop van hierdie aspek sal baie partye baie van hul aantrekkingskrag verloor.

Daar is inderdaad ‘n groter saak uit te maak vir ‘n sterker element van tegnokrasie in die Suid-Afrikaanse demokrasie, veral op die uitvoerende vlak, maar die  ANC met sy kaderbeleid beweeg juis in die teenoorgestelde rigting.

Teen daardie agtergrond is die ergerlikheid oor sakelui hulle op die politieke terrein uitlaat, pikant. Maar dis nie al nie. Die ANC het ook al lang lippie getrek oor regslui wat die ANC oor die vingers tik. En dis ook nie al nie. Die georganiseerde landbou ervaar nie net hoe hul kundige insette oor beleid gereeld van die tafel geveeg word nie, maar dat die boere sommer ook die skuld kry vir sake wat duidelik elders skeefgeloop het.

Die uitleen van die ore aan onderwysmamparras wat in hul eie lande uitgebak  geraak het, het Suid-Afrika se onderwys jare teruggesit.

Met die hoë vlakke van werkloosheid, is die sakelui se bydrae tot wat verkeerd loop en wat gedoen kan word om sake reg te ruk, dalk die nodigste advies wat die regering nou kan kry.

Dit klink in elk geval veel meer aptytlik as om kiesers met  leë beloftes , wanvoorstellings en emosionele opsweping met donkie-ore toe te rus en as willose stemvee in te span.

Eers as die kwaliteit van die politici op ‘n hoër peil is, kan daaraan gedink word om kieskeurig te wees oor van wie advies ontvang word.

Ten slotte, sakelui is ook kiesers, en volgens die grondwet het kiesers politieke regte soos stemreg en die reg om menings uit te spreek. En sommige van die kiesers mag maar meer sinvol menings verskaf as ander.

Net so is FW de Klerk seker die persoon wat die beste geplaas is om oor Mandela se bates en konkels kommentaar te lewer, en om politiek inkorrek te wees is ‘n grondwetlike reg. Trouens, FW wen waarskynlik in geloofwaardigheid deur te wys daarop dat sekere opvattings mites is.

‘n Mens noem dit demokrasie – ‘n begrip wat die ANC in woord en daad toon dit besig is om van vervreem te raak.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae