Nuuskommentaar: Wolf, wolf, hoe laat is dit?

Die VN se Voedsel- en Landbou-organisasie, die FAO, het pas bekend gemaak dat sy berekenings van die aantal mense in die wêreld wat honger ly, die afgelope 20 jaar foutief was. Boonop dui die nuwe syfers daarop dat die getal afgeneem het.

Waar daar twee jaar gelede bereken is dat ‘n miljard van die wêreld se inwoners honger ly, is dit nou 868 miljoen.

Vir kinders en Afrika suid van die Sahara bly die nuus egter sleg. Sowat ‘n 100 miljoen kinders onder vyf jaar ly honger, terwyl die aantal mense in Afrika suid van die Sahara wat broodgebrek ly van 170 miljoen tot 234 miljoen gestyg het.

Suid-Afrikaners wat nie weet wat in Zimbabwe, eens die streek se kosmandjie, gebeur het nie, is horende doof, en diegene wat heethoofdig verkondig dat Suid-Afrika ook in ‘n proses van grondgryp moet verval, is krimineel roekeloos.

Zimbabwe kry nou jaar vir jaar internasionale voedselhulp. Die FAO koop die mielies by Zambië aan, waar ‘n groot deel geproduseer word deur boere wie se grond in Zimbabwe deur Mugabe en sy grondstropers gegryp is. Om die etikette wat dit aan die lig bring te verwyder, verander niks aan die feite nie.

In verskeie Afrikalande word regerings, soos dié van Ethiopië en Rwanda, daarvan beskuldig dat hulle internasionale voedselhulp as wapen teen minderhede inspan. In Ethiopië is dit volgens aansprake veral die Omoro en die Solamiese inwoners van die Ogaden wat die kort lootjie trek. In Rwanda is die omstandighede van die Batwa, beter bekend as die pigmeë erbarmlik.

Suid-Afrikaners is ook bewus gemaak van die hongersnood wat in Lesotho aan die ontwikkel is. Veral Suid-Afrikaanse grensboere gaan waarskynlik weer die spit afbyt, want hongersnood ken geen grense nie. Plaasaanvalle, gewasdiefstal, veediefstal en weidingroof kom in elk geval gereeld voor en VS Landbou het die regering oor onder meer gebrekkige grensbeheer voor die hof gesleep – nog voor die hongersnood ontstaan het.

Suid-Afrika kan egter nie al te lekker net die vinger wys nie. Suid-Afrika voer normaalweg sowat die helfte van sy koring in. Danksy, onder meer die landswye stakings, is die rand verswak en betaal die land nou meer vir die ingevoerde koring.

Agri SA kla dat daar op die vragmotors van sy lede geskiet is. Sou boere verder verhinder word om produkte te lewer, kan veral sagte vrugte skaars word omdat dit nie onbepaald in koelkamers gestoor kan word nie.

Persepsies oor wat die Suid-Afrikaanse landboubodem kan bied is dikwels onrealisties. Ook pres. Jacob Zuma het al aangedui dat grondhervorming ‘n voertuig teen landelike armoede moet wees.   Suid-Afrika se gemiddelde reënval is 464 millimeter per jaar, teenoor die wêreld se gemiddeld van ongeveer 860. Dit sit nie in enige boer se broek om suksesvol te kan boer op gronde wat weens reënval marginale potensiaal het nie, en dit is belangrik dat die landbouers wat dit wel kan regkry, gekoester word. Die alternatief skep nie welvaart nie, maar armoede.

Boonop dui navorsing daarop dat klimaatsveranderings tot ‘n afname van reënval in veral die westelike deel van die land kan lei. Omvattende navorsing word gedoen om dit aan te spreek, soos om meer droogtebestande gewasse te teël, om alternatiewe gewasse te soek en ook deur genetiese manipulasie beter te laat aanpas, en die ontwikkeling van boerderymetodes wat die toestande beter die hoof kan bied. Die Amerikaanse droogte wat die wêreld se voedselvoorsiening nou so affekteer, sou veel erger gewees het as dit nie vir die ontwikkeling van droogtebestande mielies en beter grondbewerkingsmetodes was nie.

Grondhervorming in Suid-Afrika kan kwalik bekostig om op onkunde en emosies gebou te wees, maar dit is. In ‘n onlangse meestersverhandeling van die Matie, Charl Swart, toon hy aan hoe sowat 80 persent swart mense glo blankes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. En die syfer styg. So ook onder die ander bevolkingsgroepe namate die waarheid inskop dat die oorwinnaar die geskiedenis skryf.

Die hongerpyne daar buite dui egter daarop dat die land nie die luukse het om die feitelike geskiedenis met persepsies te vervang nie. Wie in grashuisies woon kan nie ‘n honger wolf voor die deur vra hoe laat dit is nie. Dis etenstyd.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae