Nuuskommentaar: Woolies oor die oë getrek? Dis net ras, ras, ras …

Woolworths se advertensie van ʼn pos wat slegs vir “swart Afrikane” oop is

Woolworths het die vermoë om storms op te skop. ‘n Onlangse was die praktyk om halaal-tekens op paasbolletjies, met sy Christen-simboliek te plaas. Voor dit het die kettinggroep ‘n storm veroorsaak deur nie meer Christelike tydskrifte op sy rakke toe plaas nie, en na ‘n bonte riel dié praktyk opgeskort.

Geoordeel aan die storm in die kuberruim gaan Woolworths nou hard geslaan word oor poste-advertensies met duidelike rassekreteria ter uitsluiting van sommiges.

Woolies se reaksie is om die wet op gelyke indiensneming as rede voor te hou, en het voorts vir ‘n kwotastelsel in die bresse getree. Solidariteit wys daarop dat die wet nie voorsiening maak vir die uitsluiting van enige rassegroep nie.

Solidariteit het gevolglik Woolies tot vanmiddag 12:00 kans gegee om sy advertensies reg te stel.

Hierdie storm volg kort na ‘n soortgelyke storm oor die SAL se werwingsveldtog vir kadetvlieëniers, waar die SAL ook onder druk druipstert die aftog moes blaas.

Oppervlakkig geoordeel lyk dit of verskeie ondernemings meer politiek as wetlik korrek probeer wees, of nie die vermoë het om te onderskei nie.

Een kuberkommentator meen dit is tyd dat ondernemings die rug styf maak teen ongrondwetlike wette. Onwetend slaan dié persoon dalk die spyker baie harder op die kop as wat hy weet. Die feit dat die wet op gelyke indiensneming met sy aanvaarding moontlik binne die grondwetlike verbod op onbillike diskriminasie gelees kon word, beteken nie dat dit ‘n paar jaar later steeds die geval sal wees nie, tensy die wet heeltemal oneffektief was.

Veral omdat daar geen duidelike sonsondergangklousule is nie, is die punt waarop rasdiskriminerende wette nie meer vyeblare van uitsonderings kan aantrek nie, ‘n subjektiewe punt wat gereeld, en ongelukkig ten duurste, getoets moet word. Boonop is die Suid-Afrikaanse praktyk stroomop, omdat klassieke regstellende aksie ten doel het om minderhede te beskerm, nie die meerderheid te bevoordeel nie.

Die ideaal sou uiteraard wees dat die regering self reikhalsend van rassistiese wetgewing ontslae sou wou raak, maar die regering is, in die woorde van dr. Jakes Gerwel, ‘n vrotsige regering, en wend ras as instrument aan om die mag te behou. Dit “vereis” dat die bevolking akuut rasbewus gehou moet word.

Die laaste apartheidswet is meer as twintig jaar gelede deur die vorige regering uit die wetboek verwyder, ‘n hele paar jaar voor die ANC aan bewind gekom het. Onder die ANC het die land weer so juridies rasbehep geword dat die ANC se aansprake op nie-rassigheid bisar klink.

Dit is juis ‘n vakbond wat gereeld deur “transformasiedrywers” van rassisme beskuldig word, Solidariteit, wat die saak van bruin werknemers dryf sodat die Departement van Korrektiewe Dienste nie in die Wes-Kaap teen hulle diskrimineer nie.

So rasbehep is die samelewing nou dat die projek om vir Suid-Afrika ‘n Christelike universiteit daar te stel in ‘n rubriek ook as ‘n voorgenome eksklusiewe wit universiteit afgemaak word. Die betrokke koerant plaas vandag ‘n brief waarin die saak in die reine gebring word.  Dieselfde rubriekskrywer het na AfriForum en Solidariteit as “’n klein groepie regses” verwys, wat weer ergerlike reaksie ontlok.

Iewers het mense met baie soortgelyke ideale en oortuigings se paaie uitmekaar geloop en in die hitte van die oomblik verskans geraak.

Die ideaal sou wees dat mense wat die stem van redelikheid verteenwoordig, die “reset”-knoppie druk, en met oop gemoed koppe bymekaar kan sit om op raakvlakke saam te werk, en waar in beginsel van mekaar verskil word, dit beskaaf en fatsoenlik te doen.

Maar dan moet daardie “reset”-knoppie gevind word en dit sal nie gebeur as dar nie uitgereik word nie.

Intussen gaan Woolies die mag van die kuberruim aan sy bas voel. Dit is ‘n mag wat nie onderskat kan word nie, en het ‘n groot rol in die Arabiese domino-revolusie gespeel. Pas is berig hoe China se weergawe van Twitter, Weibo, korrupte amptenare aan die kaak stel. In een van die gevalle is vyf agtereenvolgende foto’s van ‘n amptenaar wat $1 500 per maand verdien geplaas waarop hy elke keer ‘n ander peperduur polshorlosie, met ‘n gesamentlike waarde van $40 000 dra. In een geval is ‘n foto wat op korrupsie dui 30 000 keer deur Weibo-gebruikers herplaas. Uiteindelik is die openbare verleentheid vir die owerhede wat die blinde oog werp so groot dat die korrupsie ondersoek word, en in een geval sit ‘n amptenaar nou vir elf jaar in die tronk.

Woolies kan probeer om die mag van die kuberruim en Solidariteit aan te durf, maar die uitkoms is voorspelbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

astrid ·

Ek was ook altyd onder die indruk, Woolies vervaardig hulle klere in Suid Afrika, maar ek sien nou alles is made in China! Proudly South African is nou ook by die deur uit.

Gregg ·

Ja astrid, en hoe kan hulle daai pryse verduidelik as die items spotgoedkoop in China vervaardig word? Dis tien teen een kinders wat alles maak ook nog.

Ek sal maar van nou af ‘n wye draai om Woolies stap, jammer om te se.

Frank ·

Kyk maar na die kwaliteit van Woolies se klere… kinder skoene hou nie ‘n week nie, klere val gate in na ‘n paar wasse … nee wat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.