Nuuskommentaar: Word die Afrikaner bedreig?

Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Verskeie instansies tree nou op teen die wilde uitsprake van die ANC Jeugliga se onderleier, Ronald Lamola. Die appèlsaak van Julius Malema se haatspraaklied neem ‘n wending met die Freedom of Expression Institute wat as vriend wil toetree om die sing van die lied as vryheid van uitdrukking te verdedig.

‘n Belangrike argument teen Malema se skuldigbevinding is of die Afrikaner as minderheid bedreig word, terwyl ‘n groepie akademici die Internasionale Reg eenogig betrag en minderheidsregte ontken of as ongewens afmaak.

Maar word die Afrikaner bedreig? Nie volgens die tabel van Minority Rights Group Inernational nie. (Opsomming en die aflaai van tabelle by http://www.minorityrights.org/11337/peoples-under-threat/peoples-under-threat-2012.html )

Selfs op die jongste tabel van groepe wat bedreig word, is Suid-Afrika, en dus die Afrikaner afwesig. Die naaste is dat Zimbabwe op die lys is, waar die blankes saam met die Ndebele’s gelys is.

Sowat 75 lande, waaronder verskeie Afrikalande, word gelys, maar nie Suid-Afrika nie. Onder die lande wat wel die lys haal is Angola, Madagaskar, Ethiopië, Indië, Venezuela, China, Rusland en die splinternuwe staat, Suid-Soedan. Vyf indikatore word gemeet om te bepaal of, en hoeveel minderhede bedreig word. Vir elkeen van hierdie indikatore word ‘n aantal verslae as bronne gebruik.

Anders as in Suid-Afrika, is groepregte, soos minderheidsregte en gemeenskapsregte, ‘n volledige deel van menseregte, saam met individuele regte. Die Nederlandse meningsvormer en joernalis, Lex Oomkes, meen selfs dat die politiek in Nederland kan wegskuif van die geykte “Regs- en Linksspektrum” na een waar partye gemeet word aan hoeveel waarde ‘n party op gemeenskapsregte, eerder as individuele regte plaas. Lees artikel by http://herrie.maroelamedia.co.za/2012/06/08/gemeenskap-teenoor-die-individu/

Minderhede wat meen hul regte word beperk, of selfs dat hulle bedreig voel, gaan op een van twee wyses te werk; hulle raak gewelddadig, of hulle lobbie internasionaal. Die gewelddadige opsie boemerang gewoonlik omdat dit sulke groepe op die VSA se internasionale terreurlys laat beland, soos die Tamil Tiere van Sri Lanka, en die Koerdiese PPK. Die fokus val dus nou meer op die stuur van afvaardigings om by die VN, ander internasionale liggame en belangegroepe soos die media met allerlei feitelike inligting te oortuig. Groot suksesse word behaal, soos die onlangse besluit van die Franse parlement om die Armeense volksmoord aan die hand van die Turke te veroordeel. En die oorwig steun vir hierdie besluit het uit linkse geledere gekom.

Maar internasionaal lobbie is iets wat verskeie Afrikaanse groepe al met skynbare groot sukses doen. Groot media-instellings het al dokumentêre programme oor plaasmoorde uitgesaai. Die statistiek is empiries en in enige konteks verskriklik, maar tog is die Afrikaner nie tussen die lys van groepe wat selfs veel minder bedreig word nie.

Is dit moontlik dat Minority Rights Group International (MRGI) steeds na Suid-Afrika kyk met die bril waarmee apartheid die wêreld toegerus het, 21 jaar na die laaste apartheidswet uit die wetboek verwyder is? Soos Suid-Afrika nou op die persvryheids- en korrupsiepersepsieindekse tuimel, lyk dit nie of die ANC meer heeltemal as slagoffer-engeltjies beskou word nie. Grootliks rasgebaseerde sosio-ekonomiese dispariteit het wel ‘n sleureffek by verskeie instansies, soos die Europese Unie se arm vir ontwikkelingshulp wat dit pertinent noem.

Dit is moontlik, maar dit is ook moontlik dat die Afrikaanse lobbiegroepe nog nie tot die MRGI, of na die outeurs van die MRGI se brondokumente deurgedring het nie. Hieronder tel die Carnegie-instituut en die Wêreldbank. Of dit kan wees dat van die lobbiegroepe meer skade as goed doen. ‘n Los opmerking soos die ontkenning van die Nazi’s se volksmoord op die Jode, breek binne sekondes die werk af van instansies wat goeie werk op ‘n fatsoenlike wyse doen.

Individue en instansies wat ambassadeurs vir Afrikaans en die Afrikaner wil wees, moet meer as net die hart daarvoor hê. Behoorlike kennis van die internasionale reg oor minderheidsregte is van die allergrootste belang, anders gaan onnodige onverkoopbares die saak meer agteruit laat boer as wat gewen gaan word. Uit ‘n onlangse onderhoud van Beeld met Gwede Mantshe het hy minderheidsregte vir die Afrikaner gewoon van die tafel gevee, en dadelik die rassekaart daaraan gekoppel. Benewens die problematiese status van ras in die internasionale reg oor minderheidsregte, sal Suid-Afrika nog lank deur die wêreld se apartheidsbril betrag word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

H J Bester ·

Die Afrikaner word tans wel bedreig vanweë die huidige polieke klimaat in Suid-Afrika asook die sterk rasse- en kleur oriëntasie wat oral aan die orde is soos byvoorbeeld regstellende aksie, swart bemagtiging, transformasie en die kwotastelsel. ‘n Verdere bedreiging en wat ongelukkig nie aandag geniet nie, is die verspeiding van die Afrikaner oor politieke en kultuurgrense heen – van vêr-regse bewegings en fronte tot byderwetse Afrikaners wat meeleef met die huidige bestel en binne die multi-kulturele partypolitieke verband ‘n rol speel in die skepping van ‘n klimaat waar daar plek is vir almal.

Bedreiging word binne hierdie uiteenlopende groeperinge verskillend gesien en tot tyd en wyl die bedreiging nie aan die bas van almal gevoel word of besef word nie, sal daar geen gesamentlike aksie voortvloei nie.

Ek is dus van mening dat die Afrikaner nog veel verder en meer intens bedreig moet word alvorens daar werklike samehorigheid sal ontstaan om die bedreiging die hoof te bied. Tot tyd en wyl sal die oor en weer geskel op mekaar, wat ook emosiebelaai is, maar voortduur. Veral by die ver-regse groepe sal meer realisme moet ontstaan want dreigemente en brawade sal hul nêrens bring nie – om enige voordeel te beding sal maar net afhang van onderhandeling, al is dit ook met die grootste “vyand”. Wat is die alternatief ?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.