Nuuskommentaar: Word Suid-Afrika soos Zimbabwe?

Robert Mugabe

Vir baie jare is die doemprofete wat meen Suid-Afrika gaan die Zimbabwe-pad loop afgemaak as swartgalliges wat nie die grondwet ken nie, en ook nie die Suid-Afrikaanse politieke dinamika nie.

Skielik word die doemprofete se waarskuwings aan die ontleedmes onderwerp, onder andere na die Instituut vir Rasseverhoudinge ‘n verslag die lig laat sien het waarin uitgewys is dat die ANC in die 2014-verkiesing die grondkwessie as verkiesingswapen gaan gebruik.

Op RSG se program, Kommentaar gisteraand, het die deelnemers ook hierna verwys, en gesê die ANC kan nie juis iets uit sy prestasies van die verlede bied om kiesers oor verkiesingsbeloftes opgewonde te maak nie. Grond word as “emosionele kwessie” ingespan. Vanoggend lees Beeld se hoofartikel se opskrif: “Grond, Bob Mugabe en ons land.”

Duideliker kan dit nie wees nie – die kwessie is onder die ontleedmes.

Oor die hoekom, is daar verskeie antwoorde:

  • Die vergete politiek-wetenskaplike model oor die tipiese verloop na die soort oorgang wat Suid-Afrika beleef het, doem nou soos ‘n spook op. Kortliks kom dit daarop neer dat die nuwe populistiese regering ‘n sekere tyd daarmee kan wegkom om kiesers  te oortuig alles wat verkeerd loop is die vorige bedeling se skuld. Dan wil die kiesers (en Trevor Manuel) dit nie meer sluk nie, en word, soos in Zimbabwe gebeur het, na ‘n ander populistiese kwessie soos grond geryp (en in daardie geval gegryp). Die teenargument was deurgaans dat die grondwet dit nie sal toelaat nie.
  • Die gevaartekens, soos die beskerming van die howe vir die instandhouding van die grondwet moet bied maar dit skynbaar nie meer aldag doen nie, begin ook al hoe meer soos wurms uitkruip. Hoewel die FW de Klerkstigting al oor ‘n langerige lysie van hofuitsprake beskik wat, volgens die stigting foutief was, het die Grondwetlike Hof se uitspraak oor die onteiening van mineraleregte sonder kompensasie, en veral die redes wat die hof verskaf het, ‘n skokgolf gestuur. Dié uitspraak is egter nie heeltemal sonder presedent nie, soos ‘n vorige uitspraak oor onbenutte padreserwes waar die verdeeldheid op die regbank presies volgens die rassesamestelling verloop het. Boonop het die jongste uitspraak saamgeval met ‘n debakel oor die Regterlike Dienskommissie en die aanstelling volgens transformasie-riglyne eerder as meriete.
  • Verder val die huidige vlaag van Genisme (beswaardheid in die oortreffende trap) saam met die nuwe voorgestelde onteieningswet.
  • Laastens, die ANC hét onlangs sy steun aan Mugabe se Zanu-PF in sy komende verkiesingstryd toegesê. Dis op suiwer historiese bande geskoei, en het min met die teenswoordige te make. Dit was lank reeds duidelik dat Mugabe erg geïrriteerd wat met Thabo Mbeki toe dié nog president was, en dat Mugabe – ‘n hoogsgeleerde man met verskeie grade, nie lekker vat kry aan pres, Jacob Zuma wat nie ‘n voltooide laerskoolloopbaan agter die blad het nie. Hoewel dit nou stil is op daardie front, het Cosatu ‘n lang geskiedenis van solidariteit met Zimbabwe se vakbondwese gehad waaruit die MDC ontwikkel het. En tog beplan die regering om ‘n enorme bedrag geld aan Zimbabwe te “leen”, skynbaar sonder voorbehoude.

Hierdie rubriek sal egter sy doel oneer aandoen deur bloot op die wa te spring en alarmisties wees. As daar beswaardheid moet wees, moet dit die toets van objektiwiteit deurstaan.

Die eerste vraag wat aan die bod moet kom is: Kan dit wat so opsigtelik ontvou werklik die ANC se verkiesingsstrategie wees? Die grondbeginsel van ‘n strategie, anders as blote propaganda, moet wees dat dit iemand beïnvloed sonder dat hy dit agterkom. Is dit wat nou so opsigtelik waargeneem word nie eintlik net ‘n rookskerm vir wat eintlik agter die rookskerm aan die gang is nie? En daar, is dit duidelik, is dinge aan die woel.

Die antwoord hierop moet gevind word in die teenstand, onder meer uit Cosatu-geledere, teen die Nasionale Ontwikkelingsplan. Dit is ‘n twis met tentakels wat wyd loop. Op die oomblik lyk dit of die ANC die rug styf maak, en van alle ANC-lede verwag om in pas te kom daarmee – ook Cosatu. Die hoofdryfkrag hieragter is Cyril Ramaphosa, self egter so stil soos ‘n pantoffelmuis, maar binne die ANC baie magtig – om verskillende redes, soos sy impak op beleggersvertroue. Om Cosatu se impak op die massas te neutraliseer, word die grondkwessie uitgelig as die oorhoofse, saambindende faktor.

Om egter bloot te aanvaar dat die ANC met ‘n onsigbare meesterplan besig is en dat daar nie rede tot kommer is nie, is ook onverantwoordelik. Hoewel dit telkens woede ontlok by die ANC, is dit reeds ‘n algemene stelling dat die kwaliteit van die president en die ANC se adviseurs werklik veel te wense oorlaat.

Krish Govender, staatsprokureur van KwaZulu-Natal, het sake besonder diep gesny toe hy die probleme rondom die RDK onder die loep geneem het. Hy het onder meer gemeld dat die regsadviseurs van die regering te onervare is om kompleksiteite te verstaan.  Suid-Afrikaners beleef al ‘n geruime tyd dat nuwe wetgewing uiters swak geskryf word, as maar een voorbeeld. Die soort advies wat uit hierdie oord te wagte is, het ook al in die Boesak-sage geblyk toe die destydse president Thabo Mbeki se regsadviseur baie gou tot die slotsom gekom het dat Boesak onskuldig was in die DanChurshaid-sage. Uiteindelik het die Grondwetlike hof anders besluit.

Die onrusbarendste aspek van Govender se referaat by die konferensie van regslui van Statebondslande was sy mening dat die grondwet verander moet word om die president se volmag om die hoofregter en regters vir die grondwetlike hof aan te wys, weg te neem.

Dat die grondwet hoegenaamd so ‘n bepaling bevat het, is eintlik ongelooflik, tensy die opstellers geneem het internasionale konvensie oor die skeiding van regeringstrukture sou ipso facto in Suid-Afrika geld. Die praktyk is egter dat die grondwet wel daardie magte aan iemand bied wat gereeld sy mond oor die westerse regstelsel uitspoel.

Byna verskuil kom ‘n opmerking van die TLU-SA dat daar dalk daaraan gedink moet word om die hofuitspraak oor mineraleregte by ‘n internasionale hof te toets.

Die howe is die laaste linie van wigte en teenwigte, en is kernbelangrik dat Suid-Afrika nié die weg van Zimbabwe gaan loop nie.

Ongelukkig, danksy die regering se rasbeheptheid, speel ras ‘n enorme belangrike rol in gemeenskapsverhoudinge. Dit is trouens nie heeltemal eie aan Suid-Afrika nie. Goeie rasseverhoudinge in die VSA het tot die hoogste vlakke ooit gestyg, blyk ‘n splinternuwe Rasmussen-peiling. Volgens die peiling glo 42 persent van die Amerikaners rasseverhoudinge in die VSA is goed of uitstekend, en dat dit steeds aan die verbeter is. Slegs 14 persent meen dat rasseverhoudinge swak is.

In nog ‘n Rasmussen-peiling het 53 persent van die Amerikaners aangedui dat professionele sport daartoe bygedra het om rasseverhoudinge te verbeter. Net 20 persent van die ondervraagdes stem nie hiermee saam nie, en 27 persent is onseker.

Beide peilings is gedoen voor die Bostonse-ontploffings wat die Amerikaners oor rasseverskille heen verenig het.

Volgens die Instituut vir Versoening en Geregtigheid se versoeningsbarometer wat in Maart 2012 bekend gestel is, ervaar al hoe meer Suid-Afrikaners verdeeldheid op grond van welvaart eerder as ras. Tog het die peilings getoon dat wit en swart Suid-Afrikaners baie verskillend oor sekere kwessies voel. Sowat 12 persent blankes is ten gunste van plek- en straatnaamsveranderinge van name wat aan apartheid herinner, terwyl 47 persent swart mense dit as belangrik ag. Altesaam 51 persent swart mense was ten gunste van die sing van struggle-liedjies selfs al is hulle ongrondwetlik (weens die haatspraak-element) terwyl slegs 17 persent wit respondente dieselfde gevoel het.

By ‘n onlangse simposium wat deur die US aangebied is, het Charl Swart uitgebrei op bevindings wat hy in sy meestersgraad aantoon, en waaroor Maroela al verskeie kere berig het: by verre die meerderheid swart mense glo wit mense het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel.

En dié wanpersepsie gaan nou skynbaar ‘n hoofelement van ‘n verkiesingstrategie uitmaak. Die konflikpotensiaal hieruit is enorm, en stemme sal weldra opgaan dat die klimaat vir plaasaanvalle bevorder.

Of die huidige feite dit regverdig om alarmisties te wees, hang ongelukkig steeds baie van elkeen se eie optimisme of Genisme af. Wat ‘n ontleder wél met stelligheid kan sê is dat dit uiters belangrik is om lid te word van burgerlike instellings soos AfriForum of Solidariteit, wat gereeld die howe nader om die regering se populistiese magswellus tot nadeel van die land te stuit.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Rena Brown ·

Ek haat dit om negatief te wees, maar na dese is dit moeilik om positief te bly.

Scheldon ·

Julle maak mens so kwaad- julle fokus is heetelmal onaanvaarbaar.

When you focus on negative things, you drive negativity towards you and you use the power that you poses via radio, Internet, newspapers and more to spread your virus across to South Africans that are already so negative!!!

If you do not like it then please leave!! nobody is keeping you here. Take your entire family and leave.

There are millions of us black,white, coloured and Indian that love this country, that do there bit everyday to make a difference. When you start doing that as well, you will see what we see.

I can not stand you people with all this power and you choose to write such negative things -I’m so sorry for using this language- but this is so SHIT!!

There is so much good going on right in front of you, in government as well, but you do not make an effort to see it- so you never will! It takes moments to break down a building, months or years to build one and you are still just hammering away!! You have all these “power tools” and yet you still use it to break SA down. Use your “power tools” to build, it takes so much longer, but the effort makes it all worth it in the end!

Good luck with your column, if you are a Christian I am sure God would be proud of you!

herrie ·

Thank you Scheldom. The intesion was not to be negative, but simply to protray some political science and constitutional law principles in order to prevent the destruction, as even referred to by black intellectuals such as Dr. Mokhele, I referred to more than once. I do not think it is the Christian way to see something is wrong, and then do nothing about it. In fact, I as Christian but qualified in constitutional law (1994 for the sake of interest), have a discomfort with a completely secular constitution, which does not mean it should not be applied to prevent the wrongs such as power abuse, minority rights trampling, corruption etc reflected on international indices.
For this reason I urge people who care to join Afriforum and / or Solidarity.
Yes, and not all people are able to leave, including myself, even if I would dearely whish to do so.
No Christian will do nothing if he sees crime if he is in the position to do something – and that is building.
Lastly, democracy is about pointing out the wrongs. The idea is not to demolish, but to improve. And surely, one can not be under the impresssion hat much has to be done to inprove matters.
And yes, indeed there is s wrong way, and even a very wrong way in critisising. Herman Toerien

HELENA SEABORNE ·

jip ne, en een vd dae sit di ouens nog so in hulle se huisies waaraan hulle so hard afbetaal en hoor hulle het als vir die previosly disadvantage gedun. jy sit op straat en daardie een sit lekker in jou huis op jo bank en kyk jo big screen tv. hukom? want die anc het so gese. en dan wonder di mense hukom ek my huis verkoop het en eerder huur.

Joe Reddering ·

Herman Toerien pen hier ‘n raak-vat artikel neer. Suid-Afrika is vir alle praktiese oorwegings ‘n eenpartystaat, en die Geskiedenis, daardie lewendige ding wat homself tot in ewigheid sal herhaal, is vrot van voorbeelde waar eenpartystate die Boosheid self is (amper iets soos Reagan se ‘Evil Empire’). Ons eenpartystaat se oogmerk is tog duidelik; die onteiening, met brute geweld as dit moet, van alles wat Blankes besit. Alles sluit alles in; dit wat Blankes opgebou het in die verlede, dit wat Blankes op die oomblik besit, en dit waarvoor ons werk om hopelik in die toekoms te besit. Straatname, plekname, landbougrond, privaateiendom, Afrikaans as skool- en universiteitstaal (die hoer funksies van ‘n taal) is maar net deel van die strooptog uitgevoer op die minderheid. Dit gaan eindig presies daar waar die ANC se Kliptown Vryheidsmanifes dit vir sy ondersteuners uitstippel, ALLES in die hande van die ‘people’, lees meerderheid. Geen politieke groepering of burgerregte groep gaan hierdie tsunami kan stuit nie, dalk vertraag, maar stuit, nooit! Om dit te verstaan, moet jy ‘n goeie student van die verlede raak.

Terloops, daar is meer wettige en onwettige Zimbabwiers in SA, as wat daar Blankes is! Ons nader ons einde.

H J Bester ·

Die kort en die lank is dat die ANC-regering die grond- en ander wette telkens “verkrag” en daarmee wegkom. Ja, ondersteun AfriForum en Solidariteit sodat hulle in staat bly om die regering minstens in die howe te konfronteer met voorgenoemde “verkragtings”. Is jy al ‘n lid van AfriForum ?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.