Nuuskommentaar: WWW – Wragtig Wild Weggee

Al dra ‘n aap ‘n goue ring… Al betaal die belastingbetalers R40 miljoen vir ‘n provinsiale webwerf…

Gister moes belastingbetalers die “goeie” nuus verneem dat hulle nie R140 miljoen vir die herontwerp van die webwerf van die Vrystaatse provinsiale regering – eintlik die Kantoor van die Premier – betaal het nie, maar R40 miljoen.

Die eertydse modelrepubliek het hiermee na berig word die vorige rekord van R12 miljoen vir ‘n webwerf loshande oortref. Die vorige rekord is deur ‘n finansiële instelling gehou waar sensitiewe inligting beskerm moes word.

Belastingbetalers landswyd kan vanoggend baie dankie aan die Sowetan sê wat dié kwessie onthul het.

Boonop was die webwerf, http://www.freestateonline.fs.gov.za/, gister gereeld weens “te veel” verkeer onbereikbaar. ‘n Webwerf wat soveel kos behoort sy eie, toegewysde bediener te hê.

Vanoggend werk die webwerf wel, maar het opsigtelike leemtes. ‘n Skakel lys byvoorvoorbeeld van die provinsiale departemente, maar bied nie aktiewe skakels na die webwerwe van daardie departemente nie. Nog ‘n tekort is dat die webwerf nie eens ‘n RSS-voer het nie, maar die grootste gebrek is dat dit nie selfoonaanpasbaar is nie.

Vir so ‘n duur webwerf sou verwag word dat die Vrystaat se drie amptelike tale, Afrikaans, Suid-Sotho en Engels, op ‘n manier geakkommodeer sou word, maar alles is net Engels.

Soos verwag kan word, gons dit in die kuberruim met kommentaar wat die blikore laat tuit. So skryf iemand dat, tensy die webwerf www.nkandla.com  sou heet gaan koppe hieroor rol. ‘n Ander wys daarop dat die maatskappy wat die tender gekry het self nie ‘n webwerf het nie.

Die persoon wat die driejaar kontrak geteken het, is die direkteur-generaal in die kantoor van die premier, Elsabé Rockman. Rockman was tot betreklik onlangs die sekretaris van die provinsiale wetgewer, ‘n pos wat sy as pas afgestudeerde beklee het toe die huidige bedeling in werking getree het. Onlangs is berig dat sy glo LUR sou word, wat nie gebeur het nie.

Politicsweb berig in besonderhede hoe die suksesvolle tenderaar, Tumi Ntsele, al verskeie kere ‘n oop hand by die Vrystaatse premier, Ace Magashule, ontvang het.  Ntsele se onderneming word verbind met die premier se “eie” TV-kanaal, Hlalela TV, en ‘n weeklikse koerant wat glo deur advertensies van die provinsiale regering in bedryf gehou word.

Die DA het gevra dat die ouditeur-generaal ook die jongste bewerings ondersoek.

Hierdie uitgawe gebeur terwyl daar weens ‘n geldtekort onder meer nie sleutelposte in die Vrystaatse gesondheidsdepartement gevul kan word nie. Die departement van paaie, polisie en die tenderraad waarvan die premier se goeie vriend en nou burgemeester van Mangaung, Thabo Manyoni, die vorige LUR was, is steeds onder nasionale administrasie. Ongerymdhede destyds met paaietenders veroorsaak steeds ‘n raap en skraap om kontrakteurs te betaal terwyl talle paaie in ‘n haglike toestand is. Ironies kon die burgemeester se webwerf vanoggend nie bereik word nie.

Hoewel die vinger gereeld in die media en selfs in ‘n hofsaak na Magashule gewys word, onder meer weer onlangs oor sy rol in die planne om twee Vrystaatse munisipaliteite te laat saamsmelt wat tot geweld in Sasolburg gelei het, bly hy as persoon baie gewild in die Vrystaat. Dit is veral merkwaardig omdat hy, anders as die meerderheid inwoners nie ‘n Suid-Sotho is nie, maar ‘n Tswana. Boonop is hy nie ‘n Tswana van die Maroka-stam van ThabaNchu en omgewing nie, maar van ‘n “oorloop” uit Noordwes na Parys, sy tuisdorp. Hy was sommer kort na 1994 reeds in die warm water toe die departement waarvan hy LUR en Manyoni ‘n direkteur was, die Departement van Ekonomiese Sake, na ‘n verslag van die openbare beskermer ontbind is.

Sy magstryd met die destydse premier, Terror Lekota, het daartoe gelei dat Lekota nie die paal as Vrystaatse ANC-leier kon haal nie, in weerwil van telefoniese opdragte van die destydse president, Nelson Mandela.

Magashule se politieke naelstring na die ANC se nasionale leierskap is eers behoorlik bestendig na pres. Jacob Zuma president van die ANC geword het. Magashule is ‘n Zuma-lojalis, wat vermoedelik ook ‘n rol gespeel het dat die grondwetlike hof beslis het dat die verkiesing van die ANC se provinsiale leierskap kort voor die ANC se nasionale kongres, ongrondwetlik was.

Volgens verskeie berigte het Magashule intussen die steun van Zuma verloor.

Die webwerf kan dalk net die laaste strooi wees wat Zuma die stok besorg om van Magashule ontslae te raak, en so die verwagtinge van sy beloofde Lula-oomblik gestalte te begin gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Maryke ·

Die hartseer van die saak is dat die ‘theme’ maar ongeveer R360 gekos het. Die site is gebou op die WordPress Platform. Die URL’s is ook nie eers ‘search engine friendly’ nie. En Cherry Online Design het self nie ‘n website nie.

Gemsbok ·

Ja-nee. Belastingbetaler hou moed en hou jou bek. Ons kort onafhanklikheid van hierdie regering. Hulle roei ons uit!

Gert van der Merwe ·

Waarvoor word die webwerfbenodig. Vir niks behalwe dat famielie en vriende die geld in hul sakke steek.

Ek wens hulle word ondersoek, daar sal sommer nog baie ding uitkom.

Hoekom slaap ons ander politieke partye, of wag hulle tot so maand voor die verkiesing in 2014 dan word hulle skielik sigbaar. OOOOOOOf het van hulle dalk vinger in die pie!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Ek dink net die betrokke kontrakteur wat die werk aanvaar het moet saam met die burgebeeeeester voor die hof verduidelik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.