Nuuskommentaar: Zak van Niekerk en Mathys Roets – die kuns van rolmodel wees

Zak van Niekerk

Wat as ‘n vreugdevolle Paasfees, selfs ‘n heerlike uitspan by die groot dam moes wees, eindig jaarliks in ‘n tragedie vir gesinne. Dit is jaarliks een van die spitstye vir padslagtings – en al te dikwels is dit die onskuldiges wat in doodskiste of rolstoele beland. Of wees gelaat word.

Selfs vir die onder ons wat die ore die hardste toedruk oor die ongenaakbaarheid van nuus en nuusaktualiteit, kan die padslagting nie ongesiens verbygaan nie.

Twee bekende vermaaklikheidsterre, Zak van Niekerk en Mathys Roets, was enkele jare na mekaar in ernstige ongelukke betrokke, as’t ware met die feesgeluide van die KKNK in hul ore. Mythys het oorleef en dien as rolmodel vanuit ‘n rolstoel vir nuwe geslagte – Zak se boodskap aan die land was vinnig en finaal – bloot om op die pad te wees kan dodelik wees. Maar as bekende sanger sal hy ook sy leeftyd oorleef en nog lank as rolmodel dien.

Suid-Afrika se kunstenaars, veral uitvoerende kunstenaars, spandeer lang ure op die pad om selfs aan die mees afgeleë gemeenskappe ‘n kwota sonskyn te bring. Dat hulle deel van die padongeluksyfers sal word, is nie vreemd nie. Hulle haal eintlik meer die nuus dat hul toerusting en selfs voertuie met die toerusting in gesteel of geroof word.

Mathys Roets

Die kruks van die saak is dat dronkbestuur, spoed en onpadwaardige voertuie en slaggatgesaaide paaie tot die ongeluksyfers bydra, maar internasionale syfers toon ook dat hoe meer ‘n motoris neig om ‘n chroniese oortreder te wees, hoe groter word die kanse dat hy ook in ‘n noodlottige ongeluk betrokke sal raak. Volgens die Stigting vir die Wetenskaplike Ondersoek na Verkeersveiligheid in Nederland, maak motoriste wat nege verkeersboetes per jaar kry, ‘n halfpersent van die bevolking uit, maar is vir ses persent van die ongelukke verantwoordelik. Die jongste navorsing dui egter nie op ‘n eweredige toename tussen die hoeveelheid boetes en die kans om ‘n ongeluk betrokke te raak nie. Vir nege boetes is die kans tien keer so groot om ‘n ongeluk te maak as net vir een boete. By 17 boetes is die kans ‘n 100 keer groter. Weens onvoeldoende wetstoepassing kan Suid-Afrikaanse syfers nie betroubaar ingespan word nie.

In Suid-Afrika speel gekoopte en vervalste rybewyse, die sogenaamde Mamparralanga-rybewyse, ook ‘n rol. Selfs ‘n voormalige adjunk-president van die land was volgens berigte in besit van so ‘n rybewys. Oor die oorsake van die padslagting is reeds breedvoerig op Maroela Media geskryf. Klik hier en hier om dié artikels te lees.

Dit is so dat Suid-Afrikaners aan swak voorbeelde blootgestel word, en berigte oor blouligbendes wat veronderstel is om BBP’s te beskerm maar ander padverbruikers terroriseer is ongelukkig nie vreemd nie. En nee, BBP staan nie vir Baie Belangrike Padvark nie. Al te dikwels moet gevaarlike kruisings eers ‘n paar tragedies oplewer voor die owerhede ingryp en behoorlik plan maak. Die kruising waar Van Niekerk die lewe gelaat het, gaan nou weer aandag kry nadat vorige maatreëls reeds die noodlottige ongeluksyfer drasties ingekort het.

Tog, die verantwoordelikheid lê by elkeen wat agter die stuurwiel inskuif. Dis lank nie meer net goed genoeg om bloot by die padreëls te hou nie – die verantwoordelike motoris sal ook oplet na ander verkeer, want te ene maal deel hy die pad met padvarke. Elke jaar is daar egter ook verstommende verhale van padvarke wat ander verkeer teen blinde hoogtes verbysteek. In die meeste gevalle het die skuldiges al lank roekeloos en bo die spoedperk gery, en sou behoorlike wetstoepassing sulke tragedies kon voorkom.

Wanneer u agter die stuurwiel inklim, neem die oomblik en sluit saam met die gesin die oë, en vra dat die beste Bestuurder die feilbare bestuurder agter die stuur sal stuur – en sy gesin op die pad sal bewaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.