Nuuskommentaar: Zim en SA skud verkiesingsvere reg

Suid-Afrika en Zimbabwe is besig om reg te maak vir uiters belangrike verkiesings, en byna alles wat nou politiek in dié twee lande aangaan, staan min of meer in hierdie dampkring, en beïnvloed mekaar.

Reuters berig dat dié internasionale nuusdiens ‘n konsep gesien het van ‘n verkiesingsdokument van Zanu-PF wat daarop gemik is dat buitelandse mynmaatskappye die meerderheid aandele sonder kompensasie aan plaaslike gemeenskappe moet oordra. Dit, terwyl Zimbabwe in Suid-Afrika se grondwethof probeer om die impak van die SAOG-tribunaal se beslissing om te keer, wat mense wie se grond sonder kompensasie afgeneem het, die reg gee om in Suid-Afrika op Zimbabwiese eiendom beslag te lê.

Daar word berig dat die ANC reeds sy steun aan Zanu-PF in die komende verkiesing toegesê het, en ‘n enorme bedrag belastingbetalersgeld aan Zimbabwe gaan “leen” om die verkiesing te hou. Dit staan in skrille kontras met die vries van astronomiese bedrae van Mugabe en meelopers se fondse in die buiteland, asook allerlei beperkings soos reisbeperkings. In die Europese Unie se 2009-regulasie waarin beperkings teen Mugabe en meer as 200 kornuite en maatskappye ingestel is, word ‘n indrukwekkende lys  vergrype voor elkeen se deur gelê.

Maar Suid-Afrika kyk anderpad, en die ANC steun Mugabe en die Zanu-PF.

Dit is reeds duidelik dat die ANC in die komende verkiesing die grondkwessie as sleutelaspek in die verkiesing gaan voos ry. Ook Maroela Media het reeds op die ooreenkomste met die Zimverloop gewys en ook hoe die grondwetlike hof hier die onteiening van mineraleregte sonder kompensasie as in pas met die grondwet bevind het.

Tog is dit duidelik dat die ANC se verkiesingsveldtog ‘n veelkoppige aanslag gaan behels, wat benewens die grondkwessie ook op die volgende pilare rus: die raskwessie en die beheer van inligting.

In vandag se hoofartikel lig Beeld die raskwessie se rol in die verkiesingstrategie duidelik uit.   “Die DA het ’n pamflet versprei waarin Mandela en Helen Suzman in ’n omhelsing verskyn om te wys dat die DA (of dan sy partypolitieke voorgangers) ’n rol gespeel het in die stryd teen apartheid. Die ANC, en spesifiek sy veghoender Gwede Mantashe, was woedend.  Mantashe se hewige reaksie is insiggewend omdat dit in wese nie gaan oor ’n miskenning van óf Mandela óf Suzman se historiese rol in die apartheidstryd nie. Dit het veel eerder te doen met die feit dat die ANC ’n verkiesingsveldtog beplan waarin die apartheidsverlede en ras ’n sterker tema sal wees as ooit voorheen en waarin hy hom sal uitbeeld as die houer van ’n morele monopolie op die stryd teen apartheid.”

Maar die ANC is nie die enigste rolspeler in die komende Suid-Afrikaanse verkiesing nie.

Prof Amanda Gouws reduseer die komende verkiesing in wese tot ‘n tweeparty-gedoente, met die ANC en die DA as rolspelers terwyl ‘n ogie gehou word op die nog onbekende impak van Agang. Hoewel sy in die rubriek hoofsaaklik afstem op die potensiële impak van die vrouestem, noem sy ‘n paar aspekte wat demokrate onrustig sal stem. Sy wys daarop dat die meerderheid mense wat vir die DA stem volgens navorsing  “vraagstukstemmers” is.

Die doel van ‘n veelparty-demokrasie, en veral van die kiesstelsel wat Suid-Afrika met vastelandse Wes-Europa deel, is dat kiesers se hoofoorweging beginsels en beleid moet wees.

Gouws maak voorts die stelling binne ‘n bepaalde konteks dat kiesers nie gekke is nie. Maar as na die oorhoofse beeld van kieserskeuses gekyk word, en waar die oorgrote meerderheid hul kruisies trek, is dit nie so maklik om in die algemeen na kieserskeuses as besonder briljant te verwys nie.

Anders gestel: As die kiesstelsel hipoteties verander sou word sodat kiesers nie meer vir ‘n party stem nie, maar ‘n omvattende vraelys kry waar hy kruisies by beleidsaspekte moet trek wat sy eie keuses verwoord, en dié lyste dan vir ‘n rekenaar gevoer word wat bepaal met watter party se beleid die kieser se keuses ooreenstem: hoe gaan die uitslag dan lyk?

Veral kleiner nispartye, soos die groenes, Christen-demokrate en ander kan so groot voordeel trek. Dit is selfs moontlik dat pres. Zuma se stem self heel teen sy sin by ‘n ander party getel word.

Daar is egter ook bepaalde redes waarom dit nie goed sal wees dat ‘n verkiesing so tegnokraties plaasvind nie. Die kieser mag met ‘n bepaalde party se beleid saamstem, maar ook met goeie rede geen vertroue in die leierskap van daardie party se bekwaamheid of integriteit hê nie.

Wat wel duidelik is, is dat opposisiepartye begin reageer op kiesers wat sterk anti-ANC is, se groeiende aandrang dat die eerste prioriteit nou is om die land van die ANC as regerende party te bevry, en ook baie bepaald omdat die ANC die komende verkiesing met Zuma aan die stuur aanpak.

Zuma se blapse het ‘n soortgelyke impak op Suid-Afrika as wat Mugabe se optredes op Zimbabwe het, al is dit nie oral oor dieselfde kwessies nie. Soos in Zimbabwe se geval waar Mugabe ‘n aanhang het, so het Zuma ook hier ‘n blinde aanhang wat ver bo landsbelang (of beleid) strek.

Dit is daarom aan die woel in opposisiegeledere, dikwels nog agter die skerms, om ‘n balans te vind tussen kragte saamsnoer, en om kiesers ook nie die reg te ontneem om vir hul eie beginsels en oortuigings te stem nie. Die tyd raak min om hierdie sake agter die skerms uit te pluis, want die produk moet so gou as moontlik aan die kiesers bemark word.

Dat ‘n verenigde opposisie wat die diversiteit in eie geledere doeltreffend ondervang die ANC kan knyp, is bepaald so.

Maar die gevaar bestaan altyd dat die ANC daarin kan slaag om die verkiesing – vir hom uiters belangrik weens die magiese 20-jaar viering aan bewind – in ‘n rassesensus te omskep. En dan lyk dit tog of baie kiesers tog maar gekke was.

Net soos die kiesers wat Zimbabwe die afgrond ingesleep het.

Ontleders gaan hulle nog voor die verkiesing voos skryf aan bepaalde aspekte – uiters belangrike aspekte – en by voorbaat word geweet dat slegs ‘n klein deeltjie van die kiesers ooit daardie ontledings gaan lees.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae