Nuuskommentaar: Zim se heli’s en sanksies

Alouette III

Vrydag is AfriForum weer in die hof om te keer dat die Suid-Afrikaanse weermag oortollige Alouette III-helikopters aan Robert Mugabe se weermag voorsien. Opposisielede is bekommerd dat die skenking van Alouette-helikopters aan die Zimbabwiese regering ‘n boodskap stuur dat die Suid-Afrikaanse regering die Zimbabwiese weermag se gebruik van geweld kondoneer om president Robert Mugabe aan bewind te hou en dat Suid-Afrika op dié manier selfs medepligtig raak aan die menseregtevergrype in Zimbabwe, skryf AfriForum in ‘n mediaverklaring.

AfriForum het daarom op 25 Januarie 2013 ‘n voorlopige tussentydse interdik teen die lewering van die helikopters aan Zimbabwe verkry.

Dié verwikkelings val saam met ‘n besluit van  die Europese Unie om sekere sanksies teen Zimbabwe te verlig, en die reisbeperkings teen ses lede van die Zimbabwiese regering is opgehef. Die opheffing was ‘n kompromis nadat verskeie lidstate, waaronder Brittanje, daarteen was.

Die Belgiese minister van buitelandse sake, Didier Reynders, het in reaksie op kritiek van NRO’s dit duidelik gemaak dat die opheffing van sanksies teen die mynbedryf eers na die beplande verkiesings kan gebeur, en op voorwaarde dat die verkiesing “sonder al die groot onreëlmatighede gebeur.”

Min mense wat Mugabe se geskiedenis ken sal glo dit is moontlik indien daar enigsins sprake van is dat Mugabe kan verloor, of dat van sy lojaliste in die slag kan bly.

Die sanksies is juis ingestel na die politieke geweld van 2002.

Die voorstanders van die opheffing van mynsanksies glo die opheffing sal verseker dat Zimbabwiese diamante wat nou op die swartmark verhandel word, terug in die gekontroleerde wêreldmark sal kom. Teenstanders druk die vinger in die oog van die Belgiese regering en sê die  regering is meer begaan oor die Antwerpse diamantmark as oor menseregte. Reynders se reaksie: “De kritiek heeft geen enkele betekenis… Het is gemakkelijk altijd te gaan zwaaien met de mensenrechten alsof men er de enige verdediger van is.”

Suid-Afrika se bande met Zimbabwe rig vir die republiek onberekenbare skade aan sy internasionale beeld en dus ook beleggings aan. In die SAOG is Mugabe volwaardig lid, en dikwels word agteroor gebuig om die man en sy regering ter wille te wees, soos om die SAOG se tribunaal van belangrike funksies te stroop – soos om die regerings van lidlande tot verantwoording te roep oor menseregtevergrype. AfriForum voer ’n verbete stryd om Zimbabwe vir sy grondgryp-aksies minstens ten dele verantwoordelik te hou.

Om wapentuig aan Zimbabwe te wil verkoop (vir geld wat Zimbabwe nie het nie)  dui op ’n misplaaste politieke siening dat die buurland se politieke situasie internasionaal aanvaarbaar is.

Dit is geen geheim nie dat sanksies nie noodwendig so doeltreffend geld soos wat die bedoeling is nie. Daar geld byvoorbeeld al jare lank Amerikaans-gedrewe sanksies teen Kuba, terwyl Suid-Afrika honderde miljoene rande aan dié kommunistiese land skenk – geld waarmee nog twee Nkandla’s gebou kon word en dis geld wat hier broodnodig is. Trouens, in pres. Jacob Zuma se staatsrede het hy Kuba as een van drie plekke uitgesonder wat Suid-Afrika se steun geniet – die ander Wes-Sahara en Palestina. Dit is onvoorwaardelik gestel, sonder byvoorbeeld die voorbehoud dat Hamas moet ophou om vuurpyle op Israelse burgerlike teikens soos woonstelgeboue en skole  af te vuur.

Hoewel verskeie lande in wisselende mate onder die een of ander vorms van sanksies deurloop, is die fokus veral nou op drie lande gevestig – Sirië, Iran en Noord-Korea.

’n Ander voorbeeld is Israel, met die VN se Menseregteraad wat ’n beroep op sanksies gedoen het. Suid-Afrika is een van die lande wat daarop aandring dat items wat van Palestynse gebiede afkomstig is, op die verpakking as sodanig, en nie Israel nie, moet aandui.

Die sanksies teen Sirië word in hoofsaak gemotiveer deur die wyse waarop die regering van pres. Bashar al-Assad opposisie hanteer, en nou in die gevolglike burgeroorlog rug styf maak. Die VN se jongste beraming (wat waarskynlik konserwatief is) is dat meer as 60 000 mense reeds omgekom het. Pas is berig dat van die vlugtelinge tifoïde (maagkoors) opgedoen het, dieselfde siekte wat enkele jare gelede lewens by Delmas geëis het.

Muishondlande neig om onderlinge bande te smee, en dit is geen geheim nie dat Assad in Iran ‘n bondgenoot gevind het. Iran word deur die Sjiïtiese weergawe van die Islam oorheers, en Assad behoort tot die Alawiete, ‘n sekte van die Sjiïete. Sirië dien as belangrike deurgangroete vir wapens van Iran na die Sjiïtiese Hizbollah in Libanon, wat gereeld aggressie teen Israel pleeg.

Iran en Noord-Korea werk op verskeie gebiede saam, en klaarblyklik ook op die gebied van kerntegnologie. Iran en Noord-Korea het verlede jaar in Augustus ‘n samewerkingsooreenkoms op die gebied van wetenskap en tegnologie onderteken. En as daar wêreldwyd betreklike eenstemmigheid is oor iets, is dit dat Iran en Noord-Korea nie oor kernwapens en vuurpyle wat dit ver na bestemmings kan vervoer, behoort te beskik nie. Noord-Korea beskik egter reeds oor kernwapens.

Noord-Korea het immers pas, by ‘n VN-konferensie oor ontwapening in Switserland, met die totale vernietiging  van Suid-Korea gedreig.

In ‘n omvangryke artikel in die Nederlandse koerant, Trouw, word uitgebreid  verslag gedoen hoe Noord-Korea sanksies omseil. Dit bied fassinerende detail.

Dit moet in gedagte gehou word dat ‘n mens, by die bestudering van hierdie veld, hom in die skemerwêreld van beperkte inligting en disinformasie bevind. ‘n Algemene praktyk is dat lande se intelligensiedienste van sogenaamde “stringers” gebruik maak – mense met goeie toegang tot die media, veral joernaliste, wat voorbereide artikels plant waarin die publiek oor ‘n vyandige land se ondergrondse aktiwiteite ingelig word. Dit moet nie met die algemene praktyk van strategiese kommunikasie verwar word nie, omdat die inligting wat “stringers” openbaar maak nie noodwendig die waarheid hoef te wees nie, dit moet net hoogs geloofwaardig klink. In werklike strategiese kommunikasie word bloot slim met die waarheid omgegaan – leuens word nie gebruik nie.

In die internasionale politiek, so word gesê, het lande nie vriende nie, net belange. ‘n Baie goeie voorbeeld was die VSA se reaksie toe Iran Koeweit beset het. Toe Marokko en Mauritanië die voormalige Spaans-Sahara beset en tussen hulle verdeel, het die VSA, wat goed met Marokko bevriend is, anderpad gekyk. Die Polisariofront het betreklik gou met Mauritanië klaargespeel, waarop Marokko ook daardie deel geannekseer het. Marokko is uit die destydse Unie vir Afrika-eenheid geskop en is ook nie lid van die opvolger, die AU nie.

Die destydse Suid-Afrikaanse regering, soos baie ander, het hulle doof gehou vir Spanje se verklaring dat hy slegs die administrasie, nie die soewereiniteit nie, aan Marokko en Mauritanië oorgedra het. Die huidige Suid-Afrikaanse regering se benadering is weer om in pas met die AU te wees.

Trouens, Suid-Afrika is een van die min lande wat ‘n internasionale premie van lojaliteit teenoor vriende bo belange stel. Ongelukkig is van hierdie vriende, soos die Libië van Ghaddafi, Zimbabwe en Kuba, juis vriende wat die land se internasionale beeld skaad. En net te veel Suid-Afrikaanse wapens vind hul weg, ten spyte van veronderstelde toesig van ‘n uiters geheime parlementêre komitee, na lande waar dit duidelik nie moes kom nie.

En Zimbabwe is een van die lande wat nie wapens van Suid-Afrika behoort te kry nie. Nie solank Mugabe en sy vertrouelinge die septer swaai nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae