Nuuskommentaar: Zuma – Geknelde land

Jacob Zuma. Foto: GCIS

Die kritiek op pres. Jacob Zuma reën neer en neem in felheid toe namate die einde van die jaer en sy waarskynlike herverkiesing tot ANC-leier nader kom.

Dié kritiek laat skynbaar nie veel van ‘n indruk op die president nie, en nog minder om ondersteuners van die ANC waarvan die strukture nou die een na die ander hul steun aan Zuma se herverkiesing toesê.

Tot The Economist ‘n artikel, onder die titel, Cry, The Beloved Country, geplaas het. Zuma het na konsultasie met sy adviseurs teruggekap en verduidelik dat dit wat in die land agteruitboer eintlik universele verskynsels is. Inderdaad het Amerika en van die ander gerekende lande se Trippel-A graderings in die slag gebly, en inderdaad het Suid-Afrika op enkele onderafdelings van die Mededingsindeks goed gevaar.

Die konteks lyk egter baie anders. Suid-Afrika het algeheel op die indeks agteruit geboer, en vaar in ‘n paar onderafdelings, soos arbeidmark-doeltreffendheid en veral gesondheid en onderwysvoorsiening bitter sleg.

Zuma het ook nagelaat om te meld dat Suid-Afrika op al die vernaamste indekse, soos die indeks vir mislukte state, die korrupsiepersepsie-indeks, die geweldsindeks en die persvryheidsindeks agteruit geboer het.

Zuma lys dan ‘n hele rits sake wat hy as prestasies beskou.

Dit waarop Zuma roem vergelyk egter daarmee om in ‘n matriekeksamen ‘n E te kry en dan heel trots daarop te wees omdat dit, soos Blouwillem Theron vanoggend in ‘n ander konteks tong in die kies sê, mos vir “excellent” staan.  Dié stelling word kliphard onderskryf deur die minister se stelling dat daar nie ‘n krisis in die SAA is nie.

Die titel wat The Economist gebruik het vir die artikel is ontleen aan ‘n boek van Alan Paton wat in 1948 gepubliseer is, die jaar waarop apartheid formeel beleid geword het. Dit is ‘n sosiale aanklag teen die maatskaplike omstandighede wat tot die beleid van afsonderlike ontwikkeling gelei het.

Om Zuma se termyn hiermee te vergelyk, is om erg op tone te trap. Dit omskep eensklaps dit wat die ANC as morele hoë grond beskou in ‘n sandkasteel wat inmekaarsak.

As dit bloot om gelaaide titels vir die artikel gehandel het, kon die skrywers ‘n ryk oes onder die werke van die Afrikaanse skrywer, FA Venter, gemaak het. Geknelde land, Bedoelde land, die Tollenaar en Die Rentmeesters is maar ‘n paar van die titels wat vingers in Zuma se oog kan druk.

Die Polokwane-kongres waar Zuma oud-president Thabo Mbeki ontsetel het, is gekenmerk deur swart redakteurs wat hul politieke gedienstigheid afgewerp het, en heel politiek inkorrek die destydse sittende president gestriem het. Tim du Plessis het ‘n rubriek geskryf dat hierdie uittrede uit politieke korrektheid ook die deur oopgemaak het dat wit redakteurs hul bande van politieke korrektheid afgeskud het.

Die geskiedenis het egter geleer dat na Zuma in die tuig geplaas is, die meeste van die swart redakteurs weer die leisels van politieke korrektheid opgeneem het. Trouens, sommige van die name van redakteurs wat saam met die teoloog Nico Smith blankes oor ‘n bloedbad gewaarsku het as kritiek op die ANC voortduur, se name was kort tevore op die lysie wat Du Plessis gelys en geprys het.

Terwyl die Afrikaanse koerante min of meer eendragtig is in hul oordeel dat die land nie nog ‘n Zuma-termyn kan bekostig nie, bekommer die regering hom skynbaar nie veel oor hierdie kritiek nie. Bitter min van die Afrikaanse koerante se lesers gaan die einde van die jaar stemgeregtig wees wanneer oor Zuma se lot beslis word.

Die City Press se kritiek laat die Zuma-kamp gereeld ergerlik. Maar dit is The Economist se artikel wat Zuma sy adviseurs aan die werk laat spring het om te beredder wat beredder kan word.

The Economist se kritiek op Zuma het min of meer saamgeval in skerp kritiek wat oud-president Thabo Mbeki op die Zuma-administrasie uitgespreek het, en waarop die ANC ook ergerlik gereageer het. Die Business Day ontleed die kwessie baie goed.

Bantu Holomisa meen die president onderskat Suid-Afrikaners se intelligensie in sy verduidelikings oor hoekom sake veral rondom Nkandlagate staan soos dit daaruit sien.

Of die wind nou vir Zuma begin wes waai, is nog nie duidelik nie.

Wat wel duidelik is, is dat ‘n groot deel van die bevolking die benouende gevoel begin kry dat die herverkiesing van Zuma ‘n ramp vir die land sal wees. Maar daardie mense het nie stemreg wanneer oor Zuma se lot beslis word nie.

Aan die anderkant van die Atlantiese Oseaan het een swak debatsvertoning die sittende president geknou. ‘n Veel beter vertoning in die tweede debat het volgens die jongste Rasmussen-peiling niks gedoen om pres. Barack Obama se neus weer voor te kry nie. Dit, ten spyte daarvan dat die media gereeld daarvan beskuldig word dat hulle Obama voortrek.

‘n Mens aarsel om te dink wat die Amerikaanse kiesers met Zuma en sy vertoningslys sou maak.

In Suid-Afrika het die teenstand teen Zuma in die ANC bekend geword as die “enigeen behalwe Zuma”-veldtog. Maar dan sal “enigeen” nou moet begin aanstaltes maak.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae