Nuuskommentaar: Zuma onder grootste druk van hy staatshoof geword het

Zuma. Foto: GCIS

Beeld berig dat regeringsbronne toegee dat pres. Jacob Zuma onder die grootste druk verkeer sedert hy president geword het.

Dit verbaas waarskynlik niemand nie behalwe die president se lojaalste ondersteuners.

Vroeg in sy termyn het waarnemers al daarop gewys dat Zuma ondernemings aan te veel uiteenlopende belangegroepe gemaak het – dit sou onmoontlik wees om almal tevrede te hou. Nou eis elkeen sy kilogram of drie vleis, en die land het eenvoudig nie die bronne om almal tevrede te hou, en luukshede soos Nkandla aan te pak nie.

Pas het plaaswerkers se minimumlone skerp gestyg, terwyl plaaswerkers reeds teen ‘n tempo van 30 000 per jaar verminder is. Voorlopige aanduidings is dat die proses van vermindering nou versnel word.

Die myne is soortgelyk onder druk – myne kan wel goud en platinum uit klip tap, maar nie bloed nie.

Om onder druk te verkeer is egter ook doodgewone ingeboude aspekte daarvan om regeringshoof te wees.

Op die oomblik is die Duitse kanselier, Angela Merkel onder aansienlike druk na ‘n universiteit haar minister van onderwys, Annette Schavan van haar doktorsgraad gestroop het. Schavan skop vas en weier om te bedank. Sy wil beswaar aanteken teen die bevinding dat sy plagiaat gepleeg het. Sy is ‘n bondgenoot en vriendin van Merkel, en die opposisie roep om bloed.

Die Britse premier, David Cameron, het pas in die Laerhuis ‘n klap in die gesig van sy eie party gekry toe die meerderheid teen hom gestem het. Dit het gehandel oor die wettiging van homoseksuele huwelike.

Onlangs is gesien hoe pres. Barack Obama tot kort voor die presidentsverkiesing die gevaar geloop het om een van die handjievol sittende presidente te wees wat nie ‘n tweede termyn kon haal nie. Hy is uiteindelik moontlik deur die storm, Sandy, gered omdat Obama die beeld van die “groener” kandidaat gehad het.

Suid-Afrika is een van die mees diverse lande ter wêreld, en niemand wat aan die stuur daarvan staan gaan dit maklik hê nie. Verwagtinge en werklikhede lê eenvoudig te ver verwyder van mekaar.

Zuma het bewys dat dit heel moontlik is om president te word deur op die verwagtinge te teer. Hy het selfs daarin geslaag om ‘n onwaarskynlike tweede termyn met ‘n vergrote meerderheid te verseker.

Omdat wasmasjiene en werksgeleenthede nie uit die lug val nie, salarisverhogings nie sommer sonder verhoogde produktiwiteit toegestaan kan word nie, en omdat korrupsie ‘n land van sy toekoms beroof het die temperatuur in die pot al warmer geword.

Die wêreldekonomie trek noustrop, terwyl Suid-Afrika stadigaan besig is om sy voorsprong prys te gee as die kontinent se grootste ekonomie. Suid-Afrika se groeikoers is 2,5 persent, terwyl die wêreldbank verwag dat Afrika se ekonomie vanjaar met 4,5 gaan groei – ‘n effense afname van die vorige jaar se vyf persent.

Die media word daagliks oorstroom met berigte oor hoekom die land nie volgens sy potensiaal kan groei nie. Dit sluit in beoogde wetgewing sonder om die implikasies behoorlik te deurdink soos in onder meer die mynbedryf, tot wetgewing wat so swak opgestel is dat dit enorme energie verg om dit reg te stel. Kaderontplooiing, rasbegunstigde aanstellings, te veel burokrasie, te veel inmenging in die vrye werking van die ekonomie, swak adviseurs, konsultante wat skynbaar knapper is om hulself te bemark as kwaliteit werk te lewer en vele meer slaan hard op ‘n land waar effektiewe leierskap broodnodig is.

Die beste stuurlui staan altoos aan wal, en ja, daarvandaan word mildelik advies uitgedeel.

Die ANC het sy besluit om Zuma met ‘n tweede termyn toe te vertrou “geregverdig” deur aan te voer dat kontinuïteit groter stabiliteit verseker.

Sedertdien het Sasolburg gebeur, het die buitebande weer by De Doorns gebrand, het minister Susan Shabangu die land se mynbedryf met ‘n vloermoer enorme sake berokken…

En die president drie maal die buitelandse media om die verkeerde redes gehaal – sy ondeurdagte honde-uitspraak, sy oproepe vir ‘n nasionale reinigingsdag, en toe sy opmerking in Davos dat die soort proteste wat in Suid-Afrika alledaags geword het ‘n normale verskynsel van die demokrasie is.

Dit alles straal nie stabiliteit uit nie, en allermins die vertroue wat sy herverkiesing glo sou bring.

Dit mag wees dat die bevindings van die Openbare Beskermer oor Nkandla en die DA se aksies om die Direkteur van Openbare Vervolging vir minagting van die hof aan te tree oor die transkripsies van die sogenaamde spioenasiebande, die president eerder gouer as later politiek gaan laat sneuwel, maar die land kan nie n dag bekostig om water te trap of verder agteruit te boer nie.

Dit raak baie hoog tyd dat gedoen word wat gedoen moet word – beginnende by die stroop van die kabinet van onbekwame ministers, en die aanstel van adviseurs wat nie die land dieper die woestyn inlei nie. Die lys is lank maar iewers moet begin word.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae