Nuuskommentaar: Zuma se gewildheid daal – peiling

Dit is bekend dat pres. Jacob Zuma groot, selfs oorweldigende steun in landelike gebiede geniet, veral in KwaZulu-Natal en Mpumalanga, selfs te midde van formidabele kritiek in die plaaslike en internasionale media.

In die stedelike gebiede is Zuma se steun minder sterk, en volgens die jongste TNS-peiling het Zuma se steun in die ses grootste metropolitaanse gebiede in die middelste twee weke van Mei tot 41% gedaal. Dit is byna op die laagste vlak wat dit sedert die vorige algemene verkiesing was.

Benewens die feit dat daar ‘n erosie van mense was wat Zuma eens gesteun het, het die groot verskil ingetree onder mense wat voorheen nie seker was of Zuma goed as president vaar, of verbrou nie. Waar tot 31% van die mense in 2009 onseker was, het dit nou tot minder as 10% gedaal.

Nog ‘n insiggewende aspek is dat 51% meen Zuma vaar swak.

Terwyl dié syfers vir die ANC ‘n bron van kommer in byvoorbeeld Gauteng kan wees, sal dit waarskynlik nie veel impak in die res van die land uitoefen nie. In die Vrystaat mik die ANC, wat erg deur faksiegevegte geteister is, na 87% stemme.

Zuma loop inderdaad onder enorme kritiek deur, wat deur sy ondersteuners as beledigend ervaar word. Trouens, dit het so ‘n gevoelige kwessie geword dat daar kort-kort oproepe van sy meelopers is dat dié soort “beledigings” strafbaar moet wees, gebaseer op die beginsel van “the king can do no wrong.” Dié gebruik het as konvensie ontwikkel vir seremoniële staatshoofde, en het eintlik net simboliese waarde gehad. Toe die eerste ministerskap en presidentskap in Suid-Afrika in die persoon van PW Botha saamgevoeg is, het daardie beginsel verval toe die seremoniële presidentskap verval het. PW het inderdaad onder enorme kritiek deurgeloop.

Toe die twee ampte in Zimbabwe in die persoon van Mugabe saamgevoeg is, is gesorg dat die beginsel dat die staatshoof nie beledig mag word nie, behou, al was Mugabe ook die uitvoerende staatshoof. Dié kwessie maak die politieke speelveld baie ongelyk.

Nou wil die SAKP ‘n wet skryf om die president ook hier van “beledigings” te vrywaar.

Die regslui se verweer is dat die president – wat immers met raadgewers omring is – se optrede hom nie tot beledigende uitlatings moet leen nie. Daar is immers genoeg wette op die wetboek wat burgers teen laster behoort te vrywaar, en daar is een van die belangrike toetse dat die lasterlike bewerings onwaar moet wees. Om Nkandla se verslag uiters geheim te verklaar maak dit baie moeilik om agter die kap van die byl te kom.

Daar is tekens dat die ANC nie alles meer as vanselfsprekend kan ervaar nie. Die IVP het onlangs ‘n setel in Nkandla gewen, en pas het die IVP ‘n ANC-setel teen die Swazilandse grens afgeneem. Die IVP het sy eie stel moeilikhede.

Agang, wat gister finaal as politieke party geregistreer is, se vermoë om beduidende steun te werf, is nog baie onseker, maar durf nie onderskat word nie. Die vraag is egter of Agang hoofsaaklik steun uit die ANC gaan trek – soos waarop dr. Ramphele Mamphela duidelik haar oog het, en of dit partye soos Cope en die UDM is wat weer gaan bloei, en selfs die DA wat sy kwota sal moet bydra. Met die vorige algemene verkiesing was daar juis ‘n strooptog op die steun van kleiner partye.

Het president Barack Obama, toe hy in Kaapstad tydens sy lesing by Ikeys ‘n striemende aanval op Afrikaleiers gedoen het wat korrupsie nie genoegsaam beveg nie, en eiebelang bo die belang van hul lande stel, dalk ‘n kwalik verskuilde vinger in Zuma se oog gedruk?

Die oorsese media, wat gewoonlik hierdie soort vertolking gou doen, se oë is op die siekte van oud-president Nelson Mandela, en het ook geen geheim gemaak daarvan dat dit nuusgewys Obama se besoek aan Afrika oorskadu het nie. Die Christian Science Monitor skryf egter breedvoerig oor hoe politieke partye in Suid-Afrika politieke munt uit Mandela se nalatenskap probeer slaan, en fokus veral op hoe die ANC dit probeer doen. Die ANC se woordvoerder, Jackson Mthembu word selfs aangehaal waar hy sê dat die ANC niks verkeerd daarmee sien nie.

Zuma self het tydens ‘n gesamentlike nuuskonferensie met Obama daarop aanspraak gemaak dat Mandela meermale aan hom gesê het dat Mandela tevrede, en selfs in sy skik is met die manier waarop Zuma en die ANC die land nou regeer – en emeritus aartsbiskop Desmond Tutu in effek as kluitjiesbakker afgemaak het. In die proses het Zuma in effek Obama beledig deur tydens ‘n amptelike nuuskonferensie tussen twee staatshoofde goedkoop partypolitiek te speel.

Die Christian Science Monitor verwys egter ook na die Zuma-geleide ANC-afvaardiging na Mandela se huis onlangs wat erge kritiek ontlok het, en nou ook die weerlig van Winnie Madikizela-Mandela getrek het.

Dat Zuma self vir die agteruitgang van sy steun in stedelike gebiede verantwoordelik is, is waarskynlik onbetwisbaar so.

Gaan dit die ANC in geheel benadeel? Of soos Ouboet dit gestel het: “Gaan die ANC nog so spyt wees omdat Zuma tot ANC-president herkies is soos ‘n reier wat ‘n sparkplug ingesluk het?”

Die tyd sal leer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.