Nuuskommentaar: Zuma se skrif aan die muur en dalk statutêre staatsgreep?

Pres. Jacob Zuma en adjunk-president Kgalema Motlanthe aanskou die ANC-fakkel tydens die ANC se eeufeesvieringe

Rubriekskrywers in Suid-Afrika is nou soos argeoloë wat ‘n onbekende grafkelder ontdek het met ‘n onbekende skrif aan die muur. Terwyl die kundiges nog hard werk om die skrif te ontsyfer en die inhoud te vertaal, word kliphard bespiegel oor wie se skrif aan die muur is, en wat agter die versluierde woorde skuil.

Die hoofstroomdenke vandag is dat dit pres. Jacob Zuma is wie se skrif aan die muur is. Verskillende redes word aangevoer oor waarom die president nie die ANC se leierskapstryd die einde van die jaar sal oorleef nie. Johan Maarman skryf onder meer soos volg: “Dit is jammer dat ’n party van hoofman Albert Luthuli, Oliver Tambo en Nelson Mandela nou so bedremmeld voorkom, want wat nou nodig is, is leierskap. En met alle respek:­ Die eens veewagter van Nkandla het ’n gebrek daaraan.”

Eintlik het Maarman dit meer oor die ashooppad waarop die ANC teen 2019 op pad is as oor Zuma self, maar dit is duidelik dat Maarman meen dat die ANC met Zuma aan die stuur nie ‘n kat se kans staan nie. Die wyshede van Moeletsi Mbeki word mildelik aangewend om sy gevolgtrekkings te staaf.

Die afgelope week word wyd berig dat adjunk-president Kgalema Motlanthe sy eie vlag begin hys het om die leierskapstryd aan te sê. Toe ‘n skewe vinger na Motlanthe gewys is, is hy dadelik Openbare Beskermer toe om sy houvrou se beweerde betrokkenheid by ‘n omkooptransaksie te ondersoek.

Zuma het homself reeds as ‘n sluwe politikus bewys, wat boonop op ‘n groot gewaarborgde steun uit veral KwaZulu-Natal kan aanspraak maak. Hy het ook genoeg tyd om enige potensiële bedreiging onder stof te loop, en as daardie bedreiging ‘n geraamte in die kas vertroetel, kan hy teen die einde van die jaar reeds ‘n suite met ‘n tralie-uitsig betrek het.

Suid-Afrikaanse politieke leiers het nie ‘n tradisie dat hulle graag iets in hul skadu laat groei nie. Dekades lank is leierskapstryde in die IVP ‘n sensitiewe kwessie, en enige toekomstige potensiële opvolger bevind hom of haar kort voor lank in die politieke wildernis. ‘n Groot aantal kortstondige splinterpartye getuig hiervan, hoewel dit nou lyk of Buthelezi se opvolgparanoia sy party geskeur het. Die ACDP se slagveld van potensiële bedreigings vir Kenneth Meshoe lewer reeds lank meer bekendes op as wat in die party kon oorleef. Ook in die UDM groei niks in die skadu van Holomisa nie.

Vir Zuma is daar waarskynlik nog meer as blote mag op die spel. In die aanvangsfase van die DA se poging om die kriminele aanklagte teen hom, wat op omstrede wyse deur ‘n pionaanstelling teruggetrek is, te laat herleef, het Zuma se regspan onder meer aangevoer dat ‘n sittende president nie krimineel vervolg mag word nie. Regskenners het dadelik daarop gewys dat dit wel in Frankryk die geval is waar aanklaers maar geduldig moet wag, maar nie in die VSA soos Zuma se span beweer het nie, en ook nie in Suid-Afrika nie.

Hoewel die presidentskap klaarblyklik nie vrywaring waarborg nie, bied dit wel aan Zuma die geleentheid om die regsproses te beheer, al is dit op omstrede wyse. Dit laat egter ook weer die land op die korrupsie-persepsieindeks daal, en die beleggersvertroueindeks kry ook nie kop gelig nie. Werkloosheid word soos ‘n politieke bom saamgedra.

Trouens, dit lyk uit die rubriekskrywers se menings al hoe meer of Zuma ‘n prysetiket dra wat die land nie kan bekostig nie, en die vraag ontstaan of die plaasvervangende potensiële leierskap tot die einde van die jaar sal wag om Zuma te probeer onttroon, en of gevoel sal word dat sake reeds daarvóór deur ‘n statutêre staatsgreep op die punt gedryf moet word.

Statutêre staatsgrepe in Suid-Afrika is nie vreemd nie. Hoewel dit formeel nie so opgeteken staan nie, is dit vir baie vertolkers duidelik dat die NP na wyle pres. PW Botha se beroerte ‘n statutêre staatsgreep uitgevoer het. Oud-pres. Thabo Mbeki is nog ‘n geval van iemand wat voor hy nog sulke planne gehad het of die grondwet hom verplig het, die aftog moes blaas.

Meer waarskynlik sal planne om op ander maniere van Zuma ontslae te raak, tot die einde van die jaar se kongres wag, en intussen voetwerk gedoen word vir ingeval die voetsoolvlak se afgevaardigdes die veewagter van Nkandla weer aan die stuur van sake plaas.

Welke soort val ook al vir Zuma beplan word,  dit behels dat die aangewese opvolger nou reeds steun oor die ganse spektrum moet verwerf, wat blootstelling aan Zuma se reaksie sal waarborg.

Oor die jare is verskeie name as moontlike toekomstige president genoem. Hieronder tel dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, Lindiwe Sisulu en Tokyo Sexwale. Die lys is veel langer, maar in die tipiese tradisie kon nie een werklik in die president se skadu genoeg statuur bou om ‘n duidelike algemene keuse te word nie. Op die oomblik word hard gewerk om Dlamini-Zuma in ‘n belangrike AU-pos, en dus uit sirkulasie te plaas. Sisulu speel haar kaarte op veral TV-programme wat op swart gehore gemik is, is sigbaar genoeg op ANC-saamtrekke, en is boonop deel van die ANC-adel wat haar posisie bykans onaantasbaar maak. Sexwale het dalk te gou sy kopbeenvlag gehys en steun aan Julius Malema toegesê, en sodoende sy eie skip se romp vol gate gekap.

Die onbekende faktor is Zwelinzima Vavi, hoofsektretaris van Cosatu. Hy het reeds duidelik laat blyk dat hy hom nie by Zuma wil laat inbind nie. Selfs al sou Vavi nie self sy oë op die presidentskap hê nie, sal Cosatu se steun aan Zuma se uitdager die uitdager in ‘n groot mate teen ‘n teenreaksie van Zuma vrywaar. Veral wanneer ‘n statutêre staatsgreep onafwendbaar word, sal Cosatu se vermoë om die land se ekonomie effektief lam te lê ‘n belangrike wapen in die arsenaal wees. Die aanslag teen Zuma vanuit hierdie geledere is een van ‘n president wat sy sosiale kontrak met die kiesers verbreek het, hoewel die fronte wat voorgehou word , die e-tolstelsel en arbeidsmakelaars, blykbaar net strooipoppe is waarna geskiet word.

Die ganse bespreking adem egter die gees van ‘n eenpartybedeling, iets wat nie veronderstel te kon wees in die huidige kiesstelsel nie.

Politieke wetenskaplikes sal nog lank in die toekoms besin oor hoekom opposisiepartye in Suid-Afrika so gesukkel het om ‘n veelparty politieke balans te bewerkstellig. Daar is ooglopende redes hoekom die ANC, as broad church wat swart sentimente aanvuur so sterk sou wees, maar dis minder duidelik hoekom opposisiepartye oor die algemeen noustrop trek.

Dalk lê die antwoord juis daarin dat die ANC en die vernaamste opposisiepartye ideologies een deel van die politieke dam oorbevolk, terwyl die ander deel yl bevolk is. Dalk sal balanseerpolitiek eers ‘n werklikheid word as ‘n politieke entiteit wat die verbeelding aangryp, soos in Duitsland, sterk in daardie deel van die dam begin swem.

Tot dan, is die werklike politieke stryd die stryd om die kop van die ANC te beheer.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae