Nuuskommentaar: Zuma vs. Manuel – Apartheid en bakhandoorerflikheid

President Jacob Zuma Woensdag tydens ‘n kranslegging by die Thomas Titus Nkobi Memorial Park in Elspark. Foto: GCIS

Die vraag is al telkemale gevra, en elke keer is die antwoord dieselfde: “Kan die land pres. Jacob Zuma bekostig?”

Dié nou reeds byna afgesaagde vraag word weer gevra na Zuma die minister in sy kantoor, Trevor Manuel gerepudieer het.

Hoewel Manuel binne ‘n bepaalde konteks teen korrupsie en wanadministrasie gepraat het, het hy tog gesê daar kan nie langer meer voortgegaan word om apartheid (vir korrupsie en wanbestuur) te blameer nie.

Hiermee verskil Zuma, hoewel Zuma die konteks heel duidelik verskuif en na algemene agterstande verwys wat, toegegee, nie oornag opgelos kan word nie, maar ook in baie gevalle nie voor die deur van apartheid gelê kan word nie.

Zuma se benadering hou vele gevare in:
–       Dit jaag (ras)polarisasie aan wat hy ingevolge sy ampseed nie mag doen nie.
–       Dit stroop swart mense van selfrespek en skep eintlik ‘n klimaat van bakhandoorerflikheid
–       Dit stereotipeer en laat ander faktore soos gemiddelde gesinsgroottes en die destruktiewe uitwerking van die ongrondwetlike kaderontplooiing op die ontwikkeling van die ekonomie in geheel buite rekening, wat nou ‘n oneindig groter rol op die stremminge en ongelykhede uitoefen as die sleureffek (indien werklik nog enige) van apartheid. Dit sal broekskeur gaan om die vernietigende uitwerking van radikale vakbonde op die ekonomie te oortref.
–       Dit demp ekonomiese markkragte wat nodig is om vooruit te gaan, soos entrepreneurskap, mededingendheid, produktiwiteit en innovasie
–       Dit werk korrupsie en wanbestuur  (dit waaroor Manuel dit gehad het) in die hand.
–       Dit laat die wilskrag verdamp om ‘n mens met selfrespek self aan die skoenveters op te trek, en dit ontneem die geleenthede om dit te kan doen.

Na Manuel sy “gevleuelde woorde” (volgens die positiewe reaksie van ‘n groot deel van die bevolking) geuiter het, is kliphard bespiegel of dit nie in oorleg, of selfs op die aandrang van mnr. Cyril Ramaphosa, president van die ANC, geuiter is nie. Ramaphosa, so het lede van die publiek oor radioprogram gesê, het hom al meermale by funksies soortgelyk uitgedruk. Die ontsluiting van positiewe energie is immers nodig om die ambisieuse nasionale ontwikkelingsplan, waarvan Ramaphosa en Manuel van die hoofargitekte was, te laat slaag.

Met die herdenkingsgeleentheid van die moord op die SAKP-leier, Chris Hani, was dit duidelik dat daar groot verdeeldheid in die ANC is. Hoewel van die Cosatu-geaffilieerde vakbonde die afgelope paar dae skerp van Manuel verskil het, het  Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, by dié geleentheid opsigtelik dieselfde woorde as Manuel gesê (maar sonder die apartheidsdeel), en aldus die Volksblad gesê Hani sou beslis kwaad gewees het oor die stadige pas waarteen die regering werk om ongelykheid uit te roei. “Hy sou sekerlik ontsteld gewees het oor die vlak van gierigheid en blatante materialisme van die nuwe kliek van tenderpreneurs en dié wat politieke posisies beskou as die weg na persoonlike rykdom. Hy sou nooit die korrupsie, bedrog en vermorsing van openbare hulpbronne geduld het nie en absoluut verpletter gewees het deur die sluipmoord op politieke teenstanders, faksiegevegte en verdeeldheid wat dit veroorsaak.”

Zuma moet immers bewus wees van Ramaphosa se standpunte. Dat Ramaphosa vir die politiek afgestof is om Zuma se herverkiesing tot ANC-president einde verlede jaar te bestendig, lyk al hoe meer as ‘n ruiltransaksie om Zuma se openlike en ondubbelsinnige steun aan die Nasionale Ontwikkelingsplan (ten koste van die Patel-plan) te verseker. Intussen stap die tyd aan – Ramaphosa is allermins die aktiewe “eerste minister” agter die skerms wat eintlik die land regeer terwyl Zuma met min of meer net die status van president oorbly, soos wat wyd verwag is. Ramaphosa is steeds duidelik op die kantlyn, Zuma “lei” steeds die land (die afgrond in), en die politiek-ontmande Kgalema Motlanthe is steeds die adjunkpresident.

Om oorle apartheid vir alles te blameer terwyl neo-apartheid strykdeur ingevoer en verskerp word, het tot dusver vir Zuma gewerk – enersyds om homself bo kritiek te verhef, om veral onder die ongeletterdes ‘n magsblok aan sy sy te vorm, en om sy politieke teenstanders as vyande voor te stel. En dis duidelik dat hy nie gereed is om van dié geykte resep af te wyk nie – in elk geval nie so kort voor die volgende algemene verkiesing nie.

Trouens, hy het ‘n hele platform hierom opgebou van kornuite wat dieselfde idioom inspan, met die hoofregter, Mogoeng Mogoeng wat His Master’s Voice aanhef.

Die ANC se hoof-saambindende faktor, oud-pres. Nelson Mandela, gaan nie vir altyd leef nie, en dit is noodsaaklik (vir Zuma) om ‘n alternatiewe saambindende faktor te skep.

En tussendeur leef die groot leuen voort. Dis nié die ANC wat apartheid 20 jaar gelede afgeskaf het nie. Dit was die vorige regering wat die laaste apartheidswet reeds 22 jaar gelede afgeskaf het. Die rasbehepte wetgewing (glo meer as tydens die hoogtepunt van apartheid) wat nou op die wetboek is, is die ANC se maaksel.  En Zuma maak gereeld uitsprake wat daarop dui dat die neo-apartheidsmaatreëls (die groot boetie van transformasie) nog meer en nog skerper gaan word.

Intussen tuimel Suid-Afrika op al wat belangrike internasionale indeks is, soos die persvryheidsindeks, die korrupsie-persepsie-indeks, die innovasie-indeks, indeks vir mislukte state (piesangrepubliek-indeks) en gewelddadige state.

En dan is die antwoord op die vraag of die land Zuma kan bekostig – ooit kon bekostig het, so helder soos ‘n bergstroompie…

Ferdi Greyling, senior redaksielid van Beeld meen die ANC moet Zuma pos. Dis ‘n noodkreet van miljoene ingeligte Suid-Afrikaners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Flash ·

Kom ons bid almal vir Zuma en die ANC Ps 109:

Want hulle het die mond van die goddelose en die mond van bedrog teen my oopgemaak; hulle het met my gespreek met ‘n leuenagtige tong,
en my met woorde van haat omring; ja, hulle het my sonder oorsaak beveg.
Vir my liefde behandel hulle my vyandig, terwyl ek tog gedurig bid.
En hulle het my kwaad vir goed opgelê en haat vir my liefde.
Stel ‘n goddelose oor hom en laat ‘n teëstander staan aan sy regterhand.
As hy geoordeel word, laat hom as skuldige uitgaan, en laat sy gebed sonde word.
Laat sy dae min wees; laat ‘n ander sy amp neem.
Laat sy kinders wese word en sy vrou ‘n weduwee;
en laat sy kinders oral rondswerwe en bedel en brood soek, weg van hulle puinhope af.
Laat die skuldeiser alles neem wat hy het, en laat vreemdes sy goed buitmaak.
Laat hom niemand hê wie se guns bestendig is, en laat niemand hom oor sy wese ontferm nie.
Laat sy nakomelinge uitgeroei word; laat hulle naam uitgedelg word in die volgende geslag.
Laat die HERE gedagtig wees aan die ongeregtigheid van sy vaders, en laat die sonde van sy moeder nie uitgedelg word nie.
Laat dié altyddeur voor die HERE wees, dat Hy hulle gedagtenis van die aarde af kan uitroei;
omdat hy nie daaraan gedink het om guns te bewys nie, maar die ellendige en behoeftige man vervolg het en die moedelose van hart, om hom dood te maak.
Ja, hy het die vloek liefgehad en—dit het oor hom gekom; en hy het geen welbehae gehad in die seën nie en—dit het ver van hom af gebly.
Hy het die vloek aangetrek soos ‘n kleed en—dit het soos water in sy binneste gekom en soos olie in sy gebeente.
Laat dit vir hom wees soos ‘n kleed waarin hy hom toedraai, en ‘n gordel wat hy altyddeur ombind.

William ·

Ek stem Saam Met Trevor Die ou Apartheid Liedjie Is Nou Al Holrug Gery .DIE ANC EN HUL PRESIDENT MOET NOU ANDER VERSKONINGS BEGIN SOEK VIR HUL ONBEVOEGDHEID OM SA DIE LAND TE MAAK WAT DIT MOET WEES.EN BEGIN VERANTWOORDELIKHEID AANVAAR EN NIE DIE POS BEKLEE NET OM HULSELF TE VERRYK NIE MAAR OM DIE LAND EN VOLK TE DIEN VOLGENS DIE EED WAT AFGELE WORD

Jaco Griesel ·

Uitstekende rubriek!

As Zuma & Kie net dieselfde energie wat hulle aan apartheidsblaam spandeer kan kanaliseer na ‘n positiewe poging om oplossings te vind en die land te bou, sou ons nou al myle vooruit gewees het. Die enigste rede vir die blaamspel kan net ‘n erkenning van hul eie onbevoegdheid wees, en aangesien hul bevoegdheid nie gou gaan verbeter nie, MOET die verlede lewendig gehou word. Hartseer en pateties…

Johann Nefdt ·

Ons kan nie pres Zuma en sy huisgesin bekostig nie. Die uitgebreide Zuma-gesin is te groot dat die Staat moet sorg, Ek voel die Staat moet net verantwoordelik wees vir een lewensmaat.

Poppie ·

Dis nou apartheid omgedraai. Ons land is besig om in n groter gemors te beland. Die werksloosheid is meer as vroeer jare terug, apartheid omgedraai.

Danie Kriel ·

Dit is nie net Zuma wat die land nie kan bekostig nie – dis die hele boksemdais ANC van die begin af, die afgodjie Mandela inkluis. Daar is ook nog die talle “koningshuise” en ander stamhoofde met hul uitgebreide families wat in weelde op belastingbetalers se geld teer. Totaal onproduktief, soos die 15 dalk 18miljoen?) ontvangers van staatstoelaes. Die Minister van Finansies het in sy onlangse begrotingsrede ‘n taamlik sombere ekonomiese prentjie vir hierdie eens welvarende land geskilder.
Op plaaslike vlak het dienslewering oral in duie gestort. Dit lyk trouens of rondborstige en rasende gesette raadslede rumoer oor apartheid terwyl rou riool in die slaggatvolle strate en deur mense se erwe rammel
na die dorpsrivier vanwaar “drinkwater” gepomp word – as die pompe nie stukkend of gesteel is nie nie.
Dan praat koerante en televisie-nuuslesers met salige uitdrukkings op hule gesigte gedurig van die
“demokrasie” wat in 1994 uitgebreek het. Demokrasie is darem ‘ n ietsie meer as die stemreg wat aan totale en politieke analfabete gegee is, of wat praak ek alles?

Berita Drescher ·

Blameer Apartheid is die enigste deuntjie wat Zuma se harp kan speel en sal dit solank hy nog in bewind is gespeel word. Ons moet bid vir ons pragtige land wat so verkrummel. Hopelik sal Zuma iets van die verlede wees wanneer sy volgelinge dwarsdeur hom kan sien…..hoop dit gebeur spoedig!

Andre Wilmans ·

Our president clearly does not have the intellegence to grasp what Trevour Maneul was speaking about. Zuma must go! Finish and Klaar.

Leo ·

Die Engelse het duisende van die Blanke Afrikaners uitgewis in konsentrasie kampe, maar ons nasie het opgestaan en ‘n land gebou wat vir niks en niemand teruggestaan het nie. Die ANC klou so aan die verlede dat daar nooit vooruitgang in hul toekoms sal wees nie. Die vaders van Apartheid is dood en begrawe, maar ons word oor en oor en oor gestraf en beskuldig vir iets wat buite ons beheer was. Die omgekeerde apartheid wat tans in SA heers is veel erger en doen onomkeerbare skade aan die versoeningsproses.

Zuma beweer dat ‘n swart Suid Afrikaner leerling minder geleenthede het na skool of universiteit, maar met die nuwe “Equity Act” en “Black Economic Empowerment” is byna alle firmas, besighede en staat strukture in die beheer van Zuma se mense, hoe is dit dan moontlik dat hulle so verskriklik benadeel word wanneer dit kom by werksgeleenthede ????

Ek het die afgelope twintig jaar swart kollegas gesien my verbygaan in die proses van bevordering en vooruitgang wie die helfte van my ouderdom is en geen ondervinding of opleiding het nie. Waar pas apartheid nou in ???. Ek kan nie aansoek doen vir enige poste nie omrede ek wit is. KLA MAAR MET DIE WITBROOD ONDER DIE ARM, GOD SLAAP NIE !!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.