Nuuskommentaar: Zumastrand (in Kalifornië), ʼn doodlekker strand

Dis blote toeval dat Zumastrand by Malibu, Kalifornië, daardie naam dra, en het die naam gehad lank voor pres. Jacob Zuma nog gebore is. Zumastrand is die strand waar die bekende TV-reeks Baywatch geskiet is en die aktrises se bates tamlik uitgehang het.

Maar tog, daar is ‘n interessante ooreenkoms. En nee, Zumastrand is nie ‘n nudistestrand nie, hoewel daar aangrensend sulke strande is. Die ooreenkoms lê dieper.

Zumastrand het sy naam gekry van die Zumacanyon wat op hierdie strand uitloop. Die canyon is onder botaniste wêreldbekend vir sy ryke verskeidenheid plantsoorte, veral orgideë. Zuma is afgelei van die plaaslike Indiaanse woord wat “groot verskeidenheid” beteken. En niemand kan Zuma daarvan beskuldig dat hy nie soms ‘n verskeidenheid bied nie.

Terwyl dit is van die tradisionele swart kulture as goeie hoofmanskap beskou is as die stamkaptein saans van familievuurtjie na familievuurtjie loop en by elke vuurtjie vertel wat die mense wil hoor, werk so ‘n boodskapverskeidenheid in die praktyk in ‘n samelewing met massakomunikasie nie so goed nie. Dan “hoor” die een familie wat vir die ander se ore beloof is, en staan teenstrydighede van die groot verskeidenheid boodskappe soos seer duime aan ‘n groot Zoeloelandse tros oorryp piesangs duidelik uit.

Dit kan nog gaan in ‘n kultuur waar die kultuurdraers weet dat dit bloot goeie kapteinskap, of selfs bloot goeie maniere is om vir die aanhoorder te vertel wat hy wil hoor. Maar in ‘n heterogene samelewing waar kluitjies bak anders ervaar word, kan dit erg polariserend inwerk.

Om ewe gemaklik die woord te voer by ‘n kongres van die SAKP en van die land se voorste sakelui, is verwarrend as daar teenstrydige boodskappe oorgedra, en deur die media verder gedra word. ‘n Oud-premier van die Vrystaat, as hy deur groepe wat hom gaan spreek het oor sy bontpratery gevra is, doodgewoon gesê die mense moet hulle nie steur aan wat hy vir die ander groep gesê het nie, want dit was vir hul ore bedoel.

Sedert Zuma die presidentskap oorgeneem het, het die media toenemend, en met toenemende ongeduld oor teenstrydige boodskappe van die president berig. In Volksblad is Zuma onlangs gestriem oor sy teenstrydige standpunte oor die hersiening, nie van die grondwethof nie, maar die hof se magte. Verlede jaar is Zuma gestriem oor hy en sy administrasie soveel teenstrydige boodskappe oor die afstelling van die Dalai Lama se beoogde Suid-Afrikaanse besoek verkondig het. Oor Malema was Zuma se boodskappe erg teenstrydig – van dat hy ‘n troonopvolger as president is tot niksnuts, tot blote swye toe Malema blankes misdadigers genoem het terwyl hy die verhoog met Zuma gedeel het. Daardie swye het as ‘n harde hou tussen die Afrikaners se oë geland.

Oor Manyi se uitsprake oor bruin mense en Korektiewe Dienste se naakte rassisme teen wit en bruin in die Wes-Kaap was daar ewe-eens teenstrydige boodskappe.

Die Burger wys weer op ‘n ander aspek – Zuma se blinde oog oor Menzi Similane se teenstrydige uitlatings voor die Ginwala-ondersoek.  Omgewingskwessies word ook deur die Zuma-administrasie erg teenstrydig hanteer. Die Burger wys ook op ‘n Zuma-swye wat later deur ‘n teenstrydige boodskap opgevolg is Toe ‘n skare ANC-ondersteuners Helen Zille by amptelike Vryheidsdagviringe by die Unigebou doodgeskreeu het terwyl Zuma stilswyend op die verhoog sit. Hy het haar later om verskoning gevra.

Beeld wys onder meer daarop dat Zuma en sy administrasie redelik swygsaam is oor die uitbuiting van werkers in Chinese fabrieke, maar dat werkskepping in Suid-Afrika onder enorme druk geplaas word weens die uitbreiding van regte van mense wat reeds werk het – en dan nog goedere uit China invoer wat plaaslike vervaardigers onder nog groter druk plaas.

Beeld wys ook op Zuma se repliek op sy begrotingsrede (waarin hy onder meer die hou van ‘n nasiebou-konferensie aangekondig het om toenemende polarisasie in die land te stuit) maar toe in die repliek 25 minute spandeer om op onregte tee swart mense voor 1994 te borduur. Beeld reager hieroor in ‘n hoofartikel soos volg: “Die ANC weet hy is teleurstellend as regering. Voorbeelde is oral. Maar selfs in tye van tenderpreneurskap en diensprotes kan Zuma twee staatmakerrolle steeds vertolk: slagoffer en verpersoonliking van swart mense. Wees bedag dat juis dié twee rolle as ANC-verkiesingsveldtog aangewend kan word in 2014.”

Hoe sou die fiktiewe Suid-Afrikaanse Zumastrand daaruit sien?

Aan die een kant luukse strandhuise en hotelle met effektief private strande, silwerskoon. Aan die ander punt ‘n vertrapping deur die armes, verdrinkings onder die neuse van oorwerkte lewensredders…

Daar kan probeer word om vir almal ‘n storie te vertel wat hulle gelukkig maak, maar die toenemende gewelddadigheid van diensleweringsbetogings is ook aanduidend dat stories by familievuurtjies nie meer die towerformule van eertyds is nie. Instinktief word nog “grasietyd” bekom deur die skuld vir alles wat krom en skeef is op oorlede apartheid te plaas, maar meer en meer kiesers raak moeg daarvoor dat hulle verkiesing na verkiesing die mees onrealistiese beloftes aan afgesmeer word, net on daarna te hoor dat dit olie apartheid se skuld is dat dit nie realiseer nie.

Ongerealiseerde promises deur politici is nie nuut en eie aan Zuma en sy administrasie nie. Politici dis soms die mees ongelooflike beloftes op, en daarna nog ongeloofliker verskonings, en kom, selfs nog meer ongelooflik, daarmee weg. ‘n Eertydse rubriekskrywer van Die Volksblad, Johan van Wyk, het na die beloftes van ‘n predikant, later dokter en toe parlementslid uit sy grootwordomgewing, Calvinia, verwys. Dié man, dr. Steenkamp, het ‘n groot besproeiingsdam vir omtrent die hele Knersvlakte beloof, wat steeds nie gebou is nie. Met die volgende verkiesing is die man basies die eerste keer terug in sy kiesafdeling, en met die eerste vergadering word hy na die dam gevra.

Maar, verduidelik die politikus, die dam was al so te sê gebou, toe breek die oorlog teen die Duitsers uit. En hy sit af na die minister en gaan pleit dat die dam nie gebou word nie, want as daai dam vol water is, en die Duitsers bombardeer dit, dan versuie al die Namakwalandse goeie mense reg deur tot by Hondeklipbaai.

En sy staande ovasie is deur ‘n herverkiesing gevolg! Polarisasie as gevolg van bontpratery in ‘n heterogene samelewing kan die land van Hondeklipbaai tot die strande van KwaZulu-Natal verswelg.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae