Advent – om die Christusfees en Krismis te kan onderskei

Foto ter illustrasie. (Foto: Max Beck/Unsplash)

Vanjaar is 29 November ’n besondere dag. Dis nie net die aanvang van die nuwe kerkjaar nie, maar dis die eerste Sondag van die Advent, en boonop die amptelike bekendstelling van die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling. Christene vier die advent die laaste vier Sondae voor Kersfees, en oorbrug basies die tydperk tussen die Ou Testamentiese beloftes van die Verlosser wat gebore gaan word tot die geboorte self, en die nuwe orde wat daarmee gepaardgaan.

Een van die bekendste Adventliedere – die een wat gewoonlik op 23 Desember gesing word, se Afrikaanse woorde klink so: “O Emmanuel, ons Koning en Wetgewer, die Verwagte van die Nasies en hulle Verlosser, kom om ons te red, Here, onse God.”

Maar wat presies is Advent? Die Wes-Kaapse sinode van die NG Kerk het dit soos volg beskryf: “Met Kersfees vier en verkondig ons dat ‘die Woord vlees geword en onder ons kom woon het’ (Joh 1:14). In hierdie stuk gaan ’n paar uitlegte vir die betekenis verskaf word, maar by nadere besinning verskil dit bloot marginaal van mekaar, na gelang van die konteks.

“As Christene vier ons nie die Adventtyd asof Christus nog nie gebore is nie, ons vier dit met die wete dat Christus gekruisig is en opgestaan het. Tog ervaar, vier en verkondig ons in dié tyd iets van die hoop waarmee Israel in donker en uitsiglose tye op die koms van die Messias gewag het. Op hierdie wyse is Advent ’n tyd vir terugkyk na Israel se verwagting van die Messias, én ook ’n vooruitkyk na die wederkoms as finale gestalte van Christus se triomf oor die magte van sonde en dood wat met die gebeure van Paassondag ’n werklikheid geword het. Advent dra dus die betekenis van swangerskap en afwagting. Ons verlang na die geboorte (lees ook: wederkoms) van die Seun. Ons hele lewe word op die een of ander manier spandeer in afwagting – gebeure van hoop, verwagting en onvoltooide verlossing.”.

Vir baie Christene is daar egter ’n vlieg in die salf. Of sommiges sal selfs voel dat daar ’n paar yslike brommers in die salf beland het. Vrae soos of ons Kersfees behoort te vier terwyl niemand vir seker weet op watter dag, en selfs in watter jaar Jesus gebore is nie, en dit boonop verband hou met ’n heidense herdenking met die son-ewening. En dan is daar boonop volgens sommige vertolkings geen Bybelse opdrag dat Kersfees hoegenaamd gedenk behoort te word nie.

Boonop het Kersfees al te dikwels in talle misbruike verval – soos mense wat hulle dan aan drank te buite gaan (en dikwels in noodlottige ongelukke beland); daar is diegene wat juis dan die ergste eensaamheid ervaar en statisties dikwels die hand aan die eie lewe slaan, verdrinkings en vele meer. Kommersiële “benutting” van Kersfees deur sakelui wat nie self Christene is nie, druk skaamteloos saam met sommige Christen-sakelui Mammon voor Jesus op die troon.

Soveel oortuigende argumente wat daar kan wees vir besware teen die vier van  Kersfees, soveel oortuigende argumente sal daar wees om nie die kindertjies se jong ontmoetings met Jesus te ontsier of te versuur nie.

Maar daar is ’n manier hoe daar tussen ’n regte Christusfees en ’n Hêppie Krismis onderskei kan word – die Advent wat bedoel is om die koms van Jesus opreg te vier.

Die regte Christusfees

“Met Kersfees vier en verkondig ons dat ‘die Woord vlees geword en onder ons kom woon het’ (Joh 1:14). Advent is nie dieselfde as Kersfees nie, maar is ’n tyd van verwagting en voorbereiding op die koms van Christus. Die woord Advent beteken ook letterlik ‘koms’.

As Christene vier ons nie die Adventstyd asof Christus nog nie gebore is nie, ons vier dit met die wete dat Christus gekruisig is en opgestaan het. Tog ervaar, vier en verkondig ons in dié tyd iets van die hoop waarmee Israel in donker en uitsiglose tye op die koms van die Messias gewag het. Op hierdie wyse is Advent ’n tyd vir terugkyk na Israel se verwagting van die Messias, én ook ’n vooruit kyk na die wederkoms as finale gestalte van Christus se triomf oor die magte van sonde en dood wat met die gebeure van Paassondag ’n werklikheid geword het. Advent dra dus die betekenis van swangerskap en afwagting. Ons verlang na die geboorte (lees ook: wederkoms) van die Seun. Ons hele lewe word op die een of ander manier spandeer in afwagting – gebeure van hoop, verwagting en onvoltooide verlossing.

Waar ‘om te wag’ in ons gejaagde, moderne samelewing geassosieer word met ’n vermorsing, wil Advent ons leer om geduldig te wag op die Here. Om te wag word ’n kuns waarin geleer word dat (soos in die geval van swangerskap) niks van waarde tereg kan kom sonder ’n tyd van stille ontwikkeling nie. Daarom dat simbole soos om te bak, fermentering, rypwording alles dui op ’n proses van wat besig is om te word. So berei ons onsself voor vir die viering van Kersfees én Christus se wederkoms.”

Ons leef ook in die verwagting dat die Verlosser weer gaan kom en daarom is ons gebed: “Maranata!” (Kom tog gou, Here!). Ons viering hiervan staan dus nie in die teken van boetedoening nie, maar van vreugde en afwagting. Ons vier fees in ’n gees van voorbereiding en geduld. Dit maak van Kersfees self ’n ryker ervaring.

Advent is dus ’n tyd van herinnering en verwagting. Die eerste week se tema is verwagting. Die tweede week se tema is verkondiging. Die derde week se tema is vreugde. Die vierde week se tema is reinheid.

Die kerklike jaar begin met die eerste Sondag van Advent. In Suid-Afrika gaan die betekenis van Advent maklik verlore tussen al die afsluitingsfunksies, gejaag van die vakansie en voorbereidings vir die feestyd. Tog bied die Adventstyd ons die geleentheid om van die haastige kommersialisme voor Kersfees te ontsnap en ons voor te berei op die wonder en misterie van Christus se menswording.

Daar is vier Adventsondae voor Kersfees, waartydens ons vanuit verskillende perspektiewe met verwagting op die koms van Christus voorberei. Advent strek dus gewoonlik oor so bietjie meer as vier weke. Die tweeledige fokus van Advent word ook gereflekteer in die vier Adventsondae. Waar die Adventtyd begin met ’n fokus op Christus se tweede koms, verskuif dit stelselmatig na sy geboorte (wat dan uitloop op Kersdagvieringe). In werklikheid word ons reeds tydens die laaste drie Sondae van die vorige Koninkrykstyd (wat oorgaan in Adventtyd) reeds voorberei vir ’n fokus op Christus se wederkoms met temas wat reeds dan al daarop konsentreer.

Die eerste Sondag van Advent is dan baie spesifiek tematies gekoppel aan die wederkoms. Tydens die tweede en derde Sondae in Advent kom daar reeds ’n verskuiwing, met konsentrasie op die Messiaanse boodskap van Johannes die Doper. Die vierde Sondag antisipeer dan baie spesifiek die geboorte van Christus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Strandloper ·

So n mooi uiteensetting verkondig ek graag. Dankie Herman.

Andries ·

;n Tragiese vermenging van waarheid en leuen – maak asb seker van die feite voor jy enigiets verkondig.

annie ·

Advent is ‘n nuwe gebruiksterm in Afrikaanse kerke… so ook die jongste vertaling van die Bybel waarvan een vir die lekker en sekerlik finansièle onthalwe die Hervorming minag en die apokriewe boeke insluit om glo Afrikaanse Roomse Katolieke se harte te streel… nasate van hulle wat die Franse Hugenote uitgemoor het en vele tot in SA laat uitwyk het. Word die Afrikaanse kerke nou easy going? En so kry die Nuwe Era Orde met sy staan-op-een-knie geleidelik ons op beide, alles vir ‘n goeie doel in die ‘geloof’ dat goeie werke en bydraes aan die die kerk jou sondes sal uitwis en in die Hemel bring?

Salome ·

Ak wat ek kan Se. YHVH het vir ons seee feeste gegee om te vier en ons word in Amos 5:21 gewaarsku teen ander feeste. Die sinode kan gerus hul huis skoon maak van alle doktrine!

Rooikoos ·

Die kerk dwaal al van baie vroeg af. Waar in die Bybel staan dit dat on kersfees, advent en paasfees moet vier? Dis alle paganistiese snert!

Grassie ·

Dit is so dat Christus waarskynlik nie op 25 Desember gebore is nie want dit was in die middel van die winter, nie ‘n goeie tyd vir ‘n volkstelling of vir herders om in die oop velde rond te loop nie. Ons weet nie wat die datum was nie maar dit is reg dat ons ‘n dag afsonder om Sy geboorte te herdenk. Ons herdenk nie die dag nie, maar Sy geboorte want dit is die belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom, die dag wat die pad na die Koninkryk van God oopgemaak is vir die mens, selfs vir ‘n ellendeling soos ek.

Johan ·

…….maar intussen bly die “Jesus-kindjie” maar altyd ‘n babatjie in die krippie, elke jaar! Die Kerk met sy groot woorde soos Advent en ander, beindruk ons laaaankal nie meer nie. Predikante het nog altyd aan Middel-eeuse snobisme gely, net hulle kan die Woord uitlê, onthou, die gepeupel het ook intussen geleer lees!!

Kersfees is ‘n Surtunaliese “hoerfees” en ons word uitdruklik in Jer 10 verbied om die heidense gebruik om kersbome in jou huis te bring, verbied. As die Kerk nog enigsins relevant was, hoehom nie terugkeer na die ware Messiah en die sewe feeste van Vader YHWH nie?

Andries ·

As die Bybelse YESHUA Homself in Matt 5:17 as die vervulling van die TORAH bekendmaak is dit SKRIFTUURLIK ONMOONTLIK dat HY gebore kan word op ENIGE Fees, wat nie in Lev 23 beskryf word nie, Deur by die diensbeurt van Abija te begin (die pa van Johannes die Doper) kan die volgorde van gebeurtenisse volgens Bybelse orde en verband geplaas word.

Die Heilige GEES het oor die maagd Miriam gekom op die fees van Hannukah – die Fees van tempelwyding waarna in Joh 5 verwys word. Dit word uiters simbolies wanneer YESHUA na HOMself verwys as die LIG wat in die wereld sou kom.

Die Bybelse YESHUA is gebore op die 15 Tishrei – die eerste dag van die LOOFHUTTEFEES gebore. HY is op die agtstedag van die FEES besny – SIMCHAT TORAH (In Engels: The rejoicing of the Law)

Dit raak hoogtyd dat die kerk ophou om valse getuienis teenoor die naaste te spreek. Daar steek geen greintjie Bybels of waarheid in Kersfees nie – nog minder in Advent

Sien Matt 15:9 – Tevergeefs . . .

Johan ·

Dit is so duidelik soos daglig dat Kersfees ‘n wêreld-fees is waar so bitter min mense Messiah werklik erken vir die ware saligmaker. As Kersfees dan werklik Sy geboortedag is en as dit ‘n Bybelse opdrag was dat ons die fees moet vier, hoekom vier so baie haters van YAHUAH (God) dit ook? Hoekom sê die Bybel dan niks van Kersfees nie? Dit blyk dat die wêreldse instelling soos die kerk maar te gretig is om Kersfees te vier, daarom die ywer om liggies en kerse bymekaar te maak om die heidenfees te vier, sien, die lidmate moet darem ook geld na die kerk se koffers bring en nie net na die winkels toe nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.