Afrikaans – ’n Kreoolse tussenstadium of Kreools self?

Die vraag in hierdie opskrif gaan baie Afrikaanssprekendes die horries laat kry. Ek wéét, want dit laat my die horries kry! Maar hoekom dan so ‘n vraag? Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, het in 2016 soos volg geskryf: “Die maak van hierdie kreoolse taal (Afrikaans) en sy verwante, en die kultuurgoedere wat in elke soort Afrikaans gestalte gekry het, is ’n enorme prestasie.”

Maar wat is die “verwante” waarna Pelser verwys het? Die vraag het my begin prikkel na ek ’n artikel van ’n Afrikaanse taalman gelees het. Hy is maar bekommerd oor die toekoms van Afrikaans en blameer die regering se maatreëls om Afrikaans te verongeluk, die eietydse Lord Milners en ja, ons self wat Afrikaans so (skandelik) verslons.

Afrikaans, en ook die ander inheemse tale van Suid-Afrika, is nie uniek as dit kom by die verwaarlosing van sekere tale nie. Maar nie alle Afrikaanse taalkundiges stem met Waldimar saam dat Afrikaans ‘n kreoolse taal is nie. Die boek, Die Storie van Afrikaans deur prof Wannie Cartstens en en E.H. Raidt (2017), werp ‘n ander perspektief. Onder die hofie ‘Afrikaans en die kreoliseringsdebat’ word die volgende geskryf:

“Die terme kreools en pidgin word heel gereeld gebruik as taalkontakvariasie ter sprake kom. Met taalkontakvariasie word volgens H. du Plessis (1995: 25) die volgende bedoel:

“Wanneer tale met mekaar in kontak kom, is dit onvermydelik dat daar sprake sal wees van wedersydse beïnvloeding. Die struktuur van die een taal sal dus onvermydelik ʼn invloed op die ander hê en omgekeerd. Dit is egter binne die taalkontaksituasie so dat die invloed van die twee (of meer) tale op mekaar nie presies dieselfde is nie. Dit gebeur byna nooit dat die kontaktale mekaar ewe veel beïnvloed nie. Om verskeie (nielinguistiese) redes is een van die twee tale wat in kontak met mekaar is, die taal van die meerdere, en dit word die taal wat minder beïnvloed word (T1) en wat gewoonlik ʼn sterker invloed uitoefen op die ander taal (T2).

  • “Pidgin: Dit is ʼn gemeenskaplike kommunikasiemiddel in ʼn meertalige gemeenskap wat mense in staat stel om wel met mekaar te kan kommunikeer. ʼn Tipiese voorbeeld in die Suid-Afrikaanse konteks is die myntaal Fanakalo – wat net as algemene verkeerstaal in myne gebruik word sodat mense mekaar in daardie konteks kan verstaan.[1][2] Dit het geen moedertaalsprekers nie en het ʼn vereenvoudigde grammatikale struktuur en ook ʼn eenvoudige woordeskat.
  • “Kreool: ʼn Kreooltaal kry weer mettertyd moedertaalsprekers soos die sprekersgroep uitbrei. Ponelis (1989a: 22) beskryf ʼn kreool as ʼn voormalige pidgin wat ʼn moedertaalgemeenskap verkry het en in hierdie proses ʼn unieke taalvorm gekry het, wat gekenmerk word deur ʼn eiesoortige taalstruktuur wat steeds verband hou met die oorspronklike taal op basis waarvan dit ontwikkel het – daarom word gesê dat die nuwe taal “steeds die littekens van sy geskiedenis dra” (vgl. Ponelis 1989a: 22).”

Maar Afrikaans het tog geen maklike paadjie tot hiertoe geloop nie. Hy is al as kombuistaal afgemaak, en die Nederlanders verwys daarna as ’n leuke taaltjie.

Ek was al ’n ruk van plan om ’n studie te doen oor hoe Afrikaans langs of as Kreools staan. Het hy in ’n tussenstadium uit Kreools ontstaan, of bring hy nou juis verskillende “kreoolse” vorme na vore? Dink maar aan Kaaps, Namakwalands, Griekwa-Afrikaans, Tsotsitaal, Fanagalo, Akademikaans, Zefferkaans, ek sê, en so aan.

Maar die eerste dokument wat ek oor die verbintenis met Kreools kry, verwyt “hulle” (sonder om “hulle” te identifiseer), en die Nederlanders omdat hulle Afrikaans steeds as Kreools beskou. En as mens die definisies lees, het “hulle” moontlik ’n punt beet.

Maar ek wil darem ook nie sommer laat los dat Afrikaans ’n hele paar kreoolse variasies die lig laat sien het nie. Die mees elementêre eienskap van ’n kreoolse taal is dat dit ’n lexifier-taal het – dit wil sê op ’n gewoonlik groot taal geskoei is, maar deur verskillende tale, noem dit maar verryk is. Daar sal seker erge meningsverskille wees of Kaaps, tsotsitaal en Zefferkaans almal Afrikaans as lexifier het. Sommige bronne meen immers dat Kaaps ’n regstreekse voorloper vir Afrikaans was. Sommige van die tale waarvan Afrikaans moontlik ’n lexifier kan wees, soos Fanagalo, se verwantskap met Zoeloe word soms ’n Pidgikaanse (eerder as kreoolse taal) verwys. Griekwa-Afrikaans sou ’n goeie voorbeeld van ’n kreoolse taal wees met Afrikaans as lexifier.

Die gebed van ‘n Griekwa, Psalm 121

Ek slat my twee oge op.
My kyk vang die verste kop:
waavanaf sal my hulp nou kom?
My hulp is van die Jirre, van Hom.
Hy’t nou jimmel en Prieska gekom maak.
Sonner lat jou voete klipperse raak,
is Hy skoene agterrie skaap.
Hy dink nooit eers oor slaap.
Sontyd is Hy hoed op jou kop,
Innie nag hou Hy gevaarlikheid dop.
Hy’s mos nou da om jou op te pas.
Jou siel hou Hy tussen jou ribbes vas.
Gan jy nou in of gan jy nou yt.
Hy’s oor jou ewig en vir altyd.

  • Hans du Plessis

’n Toenemend lastige vraag is of daar onder Afrikaanse dialekte/vorme nie ’n migrasie na Engels ten koste van “standaard-Afrikaans” is nie. Dit lyk of dit veral Kaaps is wat so ingedring word dat sommige sinne soms meer Engelse woorde bevat as herkenbare Afrikaanse woorde. Actually, dit wat ons as standaard-Afrikaans ken, vou ook maar dikwels onder die bedreiging van Engels as lexifier.

Ongelukkig begin Afrikaans ook die kenmerke van ‘n kreoolse taal met Engels as lexifer kry. ‘n Mens kan dan net dink hoe blootgestel “tale” soos Fanaglo en Tsotsitaal sal wees. Ek is persoonlik bly oor Akademikaans wat ‘n hele ent moes terugval, maar nou begin ek al wonder, want dis nie gewone Afrikaans wat in die plek daarvan intree nie, maar dikwels Engels.

Die verdringseffek van Engels op Afrikaans is dikwels sektoraal. Luister maar na ’n radio- of TV-onderhoud van ’n sportpersoon. Die term coach is so ingeburger, ’n mens wonder soms of die spelers nog die term “afrigter” sou herken. (Google se vertaalgerief gee trainer aan as die Nederlands vir afrigter). So ook game, die ref en vele meer. Die destydse puriteinse teenoffensief was egter nie teen die Engelse indringing nie, maar eintlik Spiekeriese (Gerhard Viviers) Afrikaanse nuutskeppings, soos pynpolisie, vlagman, lemoentyd, die krip en vele meer.

Die impak van die Engelse verdringing van Afrikaans word ook duidelik in spesiale TV- en radio-programme, of selfs met radio-onderhoude gehoor. Kort-kort sal die akademikus ’n Engelse vakterm gebruik, want omdat hy / sy nou Engels as hooftaal gebruik, ontgaan die Afrikaanse terme ’n mens. Sommige is deeglik bewus daarvan, en sal elke keer wat ’n Engelse woord insluip, verskoning vra vir die Engelse woord.

In die kunstewêreld is die slagting van Afrikaans soms baie erg. Mense word uitgenooi on na dié en daai se show (vertoning) te gaan luister of kyk. Die lexifier-invloed van Afrikaans op Fanagalo is nou waarskynlik te skraps om so ’n verwantskap te bewys. Van die mees bekende woorde en uitdrukkings in Fanagalo met Afrikaanse herkoms is nou skraps. Onder die twaalf mees bekende voorbeelde, is Afrikaans net in een geval herkenbaar, naamlik “asseblief” – Yabolisa.

Afrikaans slaan wel deur in woorde wat in Afrikaans nie in ordentlike geselskap tuis hoort nie. Om in Fanagalo vir iemand te sê hy moet weggaan, word hy in geen onduidelike taal nie vir hom gesê hy moet “f*k*f!” Ja, ook in kerkdienste wat in Fanagalo aangebied word. Afrikaans in tsotsitaal (ja, dit is ’n wyd erkende woord) is meer opmerklik. In die Gautengse weergawe, Iscamtho met sowat ’n half miljoen sprekers, was Afrikaans ook goed ingewortel, maar na die skoliere-opstande van 1976 is die Afrikaans om politieke redes grootliks uitgehaal.

Vandag vind daar gereelde motorfiets-saamtrekke plaas, dikwels vir ’n goeie doel soos fondsinsameling vir kankerpasiënte, en so voort. Daar is selfs ’n biker-kerk hoewel daar ook lidmate is wat nie self bikes besit nie. Hierdie beeld verskil baie van die bikers van die sestigs, wie se subkultuur sterk met die destydse ducktails (eendsterte) ingeweef was. Legendes loop nog oor die reuse gevegte tussen die bikers, die studente en troepe van die weermagbasis in die omgewing, met my tuisstad Bloemfontein wat nie agtergebly het nie. Veral die bikers kon op versterkings van Welkom en omgewing gereken het. Hoffmanplein, kaplaks in die middel van die middestad, was die gebruiklike saamtrekpunt. Volgens oorlewering was die polisie in die middestad skaarser as hoendertande wanneer die groot geveg op hande was, en is die stad se buitewyke voos gepatrolleer. Die bikers se zefferkaanse “dialek” het byvoorbeeld duidelik geblyk wanneer hulle met die plaaslike bevolking kommunikeer (bedel). “Hei ghabba, hoe lykit met ’n las daar (ek sê).”

Ek sê, as ons Afrikaans herkenbaar wil hou, Feil Amer! (Aksie nou!)

Bronne:

https://en.wikipedia.org/wiki/Tsotsitaal_and_Camtho

https://www.bbc.com/news/10316914

https://af.wikipedia.org/wiki/Fanagalo

Die storie van Afrikaans,  https://www.litnet.co.za/die-storie-van-afrikaans-uit-europa-en-van-afrika-deel-1-deur-wam-carstens-en-eh-raidt

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaun ·

Ek hou van die vergelyking wat Sophia Kapp op VivA se Facebook-blad geplaas het die afgelope week: Taal is soos klere – vir verskillende geleenthede trek mens verskillend aan. As jy by ‘n formele dinee wil opdaag in jou swembroek moet jy daarmee tevrede wees om uitgelag te word. As jy jou in Zefferkaans of Kaaps by ‘n akademiese voorleg wil uitdruk of in Akademikaans langs die sportveld wil skree dan moet jy maar daarmee verlief neem dan niemand jou ernstig sal opneem nie.

B-Man ·

Het nou baie lekker gelees. Kritiek: Vir Afrikaans om nie verslons te word nie, moet ons dalk begin om weg te doen met uitdrukkings soos “mees bekende” (twee keer in hierdie stuk). Afrikaans het een goeie woord vir die twee Engelse woorde, duidelik vanaf “most familiar” en dit is – BEKENDSTE!

Daniel ·

Meeste Afrikaanssprekendes se taal is deurspek met Engelse woorde soos: actually, obviously, great, awesome, beautiful. Probeer nie eers om ordentlik te praat.
Voorbeeld: Dit was actually ‘n awesome show, obviously het ons voor gesit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.