ANC-binnegevegte ʼn bate vir Afrikaners

Deur Eugene Brink

Politiek en binnegevegte in partye is al so sinoniem soos die maan en sterre. Dit is nooit mooi nie en daar word konsekwent allerhande beskuldigings rondgeslinger om sodoende die opponent te diskrediteer. Maar hierdie binnegevgte hou ook bepaalde winste vir die party se vyande en ander indiwidue en groepe in.

Daar is tans ‘n taamlike geveg binne die ANC aan die gang en hooggeplaaste indiwidue het die slagordes teen mekaar opgestel. ANC-Jeugleier, Julius Malema, en ‘n paar Jeugliga-kamerade is slaags met pres. Jacob Zuma en Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, omdat hulle onder meer die party in oneer gebring het. Malema en Kie se tugverhoor is nou afgehandel en die bevindinge sal eersdaags beskikbaar gemaak word. Wat die uitkoms gaan wees, is moeilik om te voorspel. Wat meer seker is, is dat die ANC sy honderde bestaansjaar as ‘n baie verdeelde entiteit tegemoet gaan en dit tot voordeel strek van die minderhede in die land en veral die Afrikaner.

Zuma en Mantashe kan nie vir Malema verdra nie en boonop beskou hulle hom as ‘n irritasie wat uit die weg geruim moet word. Die politieke ontleder, prof. Steven Friedman, het self erken dit is persoonlike vetes wat hierdie konfrontasie dryf en dat Malema nie ‘n groot uitdaging vir Zuma se tweede termyn bied nie. Tog hou die ANC se intraparty-politiek Zuma wakker in die nag. Hy is veral bekommerd oor wat sy adjunk, Kgalema Motlanthe, en die nasionalistiese kamp in die mou voer om sy politieke loopbaan te kelder. Daar is geldige sprake dat Tokyo Sexwale, minister van behuising, Motlanthe en Mathews Phosa hulself posisioneer om president van die ANC by volgende jaar nasionale leierskonferensie in Bloemfontein (Mangaung) te word. Daarna wil die suksesvolle kandidaat uiteraard president van die land word. Zuma is besig om sy netwerk te versterk deur Sexwale en Motlanthe swart te smeer met die bevindinge van ‘n verslag oor die Olieskandaal en homself met vriende uit sy intelligensie-dae en ander lakeie te omring.

Terugskouend kan die ANC se eerste 100 jaar in opponerende terme gesien word. Hulle het talle vyande en sondebokke gehad: Kolonialisme, apartheid, die Afrikaners, die Nasionale Party, rasse-onderdrukking, wit kapitaliste, en so gaan die lys aan. Terwyl Afrikaners nog steeds ‘n gerieflike slaansak vir die ANC is, is hierdie “vyand” en “sondebok” se skuld besig om al hoe meer te kwyn. Die eerste rede hiervoor is dat die Boere bloot nie meer politieke mag het nie, die tweede is dat die ANC se eie mislukkings en skandes al hoe meer aan die groot klok gehang word en die derde rede is dat die ANC intern verdeeld is. Die Bybel sê juis ‘n koninkryk wat oorlog teen himself maak, nie kan verwag om te bly staan nie. Terwyl oudpres. Thabo Mbeki ‘n Machiavellistiese figuur was met ‘n rasse-uitkyk, het Zuma nie dieselfde vooroordele nie, hoewel hy steeds ‘n ongenaakbare politikus is. Hy weet sy vyande is nie meer die wit minderheid nie, maar eerder diegene in sy eie party met hul eie magsambisies. Daarenteen is sy opponente ook daarop uit om hom uit te oorlê en nie om die Afrikaners om elke hoek en draai te kasty nie. Malema het ‘n bloedneus in die hof gekry toe die sing van die “Skiet die Boer”-lied verbied is. Sy onlangse flou poging om vir “ekonomiese vryheid”, oftewel ongeregtigde herverdeling van rykdom, te betoog, het weinige vrugte afgewerp en het net weer sy politieke niksseggendheid beklemtoon.

Hierdie toedrag van sake skep ‘n groot dooiepunt binne die regerende party met ‘n flou makou-president en almal binne die ANC met gesag wat nie enige nuwe vyande sal wil maak nie. Dit skep dus geleenthede vir die Afrikaners om nuwe vordering met ‘n vars kompromis met die oog op die toekoms te maak.

Solank die Afrikaners as ‘n welaf middel-tot-hoërklasgroep in SA gaan bestaan met ‘n swart meerderheid wat in armoede leef, sal hulle sondebokke bly. Maar die ou verskoning dat dit slegs Afrikaners is wat gesondig het en dat als hulle skuld is, raak selfs nou bietjie dik vir ‘n daalder onder die swart armes. Die munisipale dienstebetogings van die afgelope paar jaar getuig hiervan. Boonop werk baie swart mense vir Afrikaners en onderhou Afrikaners baie swart gesinne, swart mense raak ontnugterd deur die ANC se nie-nakoming van beloftes en enige ANC-politikus het te veel interne vyande om teen te baklei dat ‘n klap na die Afrikaners ‘n gefluit in die wind is te midde van groter gevegte. Afrikaners kan dus hierdie geleentheid gebruik om in burgerlike instellings te verenig, minder afhanklik van die staat te word terwyl daar via hierdie instellings en prominente indiwidue met die regering onderhandel word oor ‘n nuwe ooreenkoms om die groep se rol in die land en bande met die ANC te herdefinieer. ‘n Weiering of voortdurende uitstelling van so ‘n versoek kan vir Zuma nog vyande skep wat hy glad nie wil hê nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae