As dit nie vir die kruisiging was, hoe anders sou dit wees?

Bybel_kruis_2_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“As dit nie vir die kruisiging was nie, hoe anders sou dit vandag wees?” Dié vraag kan teologies en histories-empiries beantwoord word.

Dit is die Paasfees. Die Goeie Vrydag-verrigtinge is in volle swang. Gisteraand het verskeie kerke en gemeentes die Donker Nagmaal gevier. Niks hiervan sou wees as dit nie vir die kruisiging was nie.

Dit is egter moeiliker om te probeer bepaal hoeveel anders die mensdom sou wees. Om maar een voorbeeld te noem: Dwars oor die wêreld, onder andere by baie ou volke, vind argeoloë nou getuienis dat daardie gemeenskappe kinderoffers gebring het. Soms sommer baie. Natuurlik laat die terugskoue dit dalk erger klink as wat dit werklik was, deurdat hierdie “beskawings” duisende jare uitmekaar geleef het.

Kinderoffers het gewoonlik deel uitgemaak van die gebruik van menslike offers. Die Spaanse veroweraar, Hernan Cortez en sy manne het met afgryse by ’n Asteekse paleisvenster uit gesien hoe ’n piramide rooi word van die bloed van slagoffers wat geoffer word.

Waar volwasse offers gewoonlik gevange of verowerde vyande was, was kinderoffers dikwels die volk of stam se eie. Die Kartagers het in ’n stadium ook die kinders van slawe begin offer in die plek van hul eie, en toe begin oorloë verloor. Toe hulle weer, soos deur hul godsdiens verwag word, hul eie kinders begin offer, het dit weer voor die wind met oorloë begin gaan.

Die Christen verstaan dat God die Vader, sy enigste Seun, moes “offer” om te verseker dat Jesus ons sondelas op Hom kon neem. Abraham se opdrag om sy seun Isak se offer, dui daarop dat die Christendom en sy voorloper, blootgestel moes wees aan godsdienste waar so iets wel sou gebeur het.

Oor die jare het die Christene ook ontsettende wreedhede gepleeg. Ons dink onder meer aan die paar Kruisvaarder-oorloë waartydens die Christene die bloed van hul vyande deur Jerusalem se strate laat vloei het. Die Inkwisisie en ook ander optredes spreek nie van dié van ʼn Christen nie. Kort-kort lees ons van ’n “gruwelhuis” – dan in hierdie dorp, dan in daardie. Huise waar kinders se eie ouers hul kinders aan die onmenslikste praktyke denkbaar blootgestel het.

Elke Goeie Vrydag is ’n mylpaal van waar die Christene volgens Bybelse riglyne wil wees. ’n Steil bult lê nog voor. Maar godsdiens is nie net ’n empiriese, historiese gegewe nie. Godsdiens handel in die eerste plek oor geloof, en ons glo Goeie Vrydag gedenk die grootste geskenk van God die Vader aan die mensdom.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

N Lourens Reitz ·

Jy het ñ groot verlede – Jesus sterf vir jou
Jy het ñ groot hede – Jesus leef vir jou
Jy het ñ groot toekoms – Jesus kom vir jou

Anton ·

Die rede hoekom Hy aan die kruis gesterf het is waaroor ons moet nadink. Enige ander nadenke is soos die wind.

Anton ·

Aan Herman wil ek net se dat vir my elke Goeie Vrydag en elke dag en die lee graf n herrinnering is dat daar niks is wat ek kon of kan doen om gered te word nie. Jesus het vir ons sondes gesterf. Ons is geestelik gered terwyl ons as aardse wesens gestaan en skree het “Kruisig Hom”! Geen aardse offer hoort in dieselfde gesprek as my Verlosser Jesus se sterwe aan die kruis nie.

Grassie ·

Eish – al wat ‘n mens nodig het om die ewige lewe te te vind is ‘n onwrikbare, onbuigbare geloof in Christus. Jy ken die teks “so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” ‘n Mens het dus net vir Christus nodig, nie Christus en nog iets nie. Nie Christus plus kleindoop of grootdoop of Saterdag of Sondagaanbidding nie. Dit maak ook nie saak of ons dink Christus is op ‘n Woensdag of ‘n Vrydag gekruisig nie. Wanneer jy Christus werklik vind vervaag al hierdie wêreldse gebruike en rituele in jou lewe, jy beséf dat dit nie belangrik is nie, solank jy in die voetspore van jou Meester stap en daarvolgens leef het jy niks, maar niks meer nodig nie.

John ·

?.. Sonder die opstanding was Christus bloot ‘n offerlam ooreenkomstig die Joodse geloof. Sondag word die oorwinning oor die sonde en die dood gevier…. en hoekom Christene Sondag ipv van Saterdag kerk het. Of is ons dan so lekker aan die naweekhou dat die opstanding bysaak is. As ons nie Christus se oorwinning vier nie, nie dankbaar is nie, is dit nutteloos en arrogant so asof Hy vir ons bloot ‘n vrywaringsbrief skryf vir al ons verkeerde dade en jaarliks se ons dankie vir nog ‘n afskrif.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.