Nuuskommentaar: Clive Derby-Hess en 25 jaar sedert “versoening”

Clive Derby-Lewis

Clive Derby-Lewis

Dit is met versigtige oorweging dat “versoening” hier in aanhalingstekens geplaas word. Die jongste Zuma-uitlatings (soos sy uitsprake oor Jan van Riebeeck) en peilings toon egter dat daar by ’n groot deel van die bevolking van versoening geen sprake is nie, al word die wavragte kommentare op die sosiale media wat dié persepsie skynbaar onderskryf (verkeerde spelling en al) geïgnoreer.

Die woord “versoening” is egter vandag groot oopgespalk op die ontleedtafel, want dit is vandag presies 25 jaar sedert die aankondiging dat Nelson Mandela vrygelaat word, en die ANC, PAC en ander ontperk word.

Maar hoe lyk die praktyk?

Dr. Braam Hanekom, moderator van die Wes- en Suid-Kaapse sinode van die NG Kerk, skryf in ’n artikel in Rapport, Dreineer die sweer, onder meer soos volg: “Wat dit moeilik maak om die omvang van die probleem (van ‘n dubbel dosis woede en geweld) te peil, is dat die woede tans om verskillende redes in verskillende groepe leef en verskillende gestaltes aanneem. Verder is dit nie altyd polities korrek om daaroor te praat nie. Sou jy dit waag om jou emosies lug te gee, het ons nogal, anders as ’n gebied soos Israel-Palestina, streng beheermaatreëls in plek wat jou jou woorde laat tel.”

Voorts: “Daar sal ’n manier gevind moet word om die sweer te dreineer. Dit op sigself kan al ’n morsige oefening afgee.”

Hanekom wys ook uit hoe “transformasie” op te veel plekke die polities korrekte benaming vir banale rassekaarte en die beskerming van onbevoegdheid geword het.

Die kwessie van politieke korrektheid word ook elders in Rapport aan die orde gestel, waar Frans Cronjé, direkteur van die Instituut vir Rasseverhoudinge, sy nek ver uitsteek. In die rubriek, Wat as die skoen aan die ander voet was?, rek hy die grense van wat as “aanvaarbare politieke inkorrektheid” beskou word ver deur die vraag wat dikwels in die sosiale media gevra word – oor waarom die ras van oortreders in die media genoem mag word as dit blankes is, maar nie as dit swartes is nie? Hy wys ook op die opskudding wat dit sou veroorsaak as die plaasaanvallers wit, en die slagoffers wat met warm strykysters gemartel is, swart sou wees. Hy sluit af: “Verwag die swart elite van wit mense, soos in die geval van Zelda la Grange, om hul plek te ken en nie te sê wat almal weet die waarheid is nie? Ons moet hierdie vrae vra, want hoe ons land op die oomblik op sulke aanvalle reageer, hang daarvan af of die slagoffers wit was of nie.”

(Lesers word aangeraai om die volledige artikels te lees, omdat selektiewe aanhalings daaruit nie reg daaraan laat geskied nie).

En dan is daar nog die kwessie van xenofobie (al ontken die regering dit soos plaasaanvalle as unieke probleem ontken word).

Op 2 Februarie 1990 het die destydse president FW de Klerk aangekondig  dat Nelson Mandela vrygelaat sou word (al het hy steeds geweier om geweld af te sweer) en dat die ANC, PAC en ander organisasies ontperk sou word. Reeds in Desember 1991 het Kodesa begin.

Maar daar was ander groot stappe ook. Die Nasionale Vredesakkoord is onderteken, en ’n stelsel het in werking getree soos die vredeskomitees. Die Waarheids- en Versoeningskommissie het uit die vredesakkoord voortgevloei.

Kritici van die proses het onder meer daarop gewys dat ’n stelsel wat die juridiese verabsoluteer en ander hoogs relevante vakgebiede misken, tot mislukking gedoem is. Veel meer as die reg en ’n grondwet bepaal of mense wat lank in ’n stryd gewikkel was, verderaan in vrede sou kon leef. Dis nie ’n nuwe les nie. In sommige kringe word die Weimar-grondwet  wat in wese deur die oorwinnaars van die Eerste Wêreldoorlog op Duitsland afgedwing is, as die beste beskou wat die wêreld nog geken het. Die grondwet was miskien goed (nie foutloos nie), maar die strafmaatreëls en beperkings wat die geallieerde magte op Duitsland geplaas het, het tot opkoms van Hitler bygedra, en toe ’n depressie swaarkry bring, was die koeël deur die kerk.

Kortom, is daar genoeg waarborge in die proses ingebou dat diegene wat nie versoening op die hart sou dra nie, vir so lank as wat nodig was nie die post-1994-stelsel kon kaap nie? Ideologie bepaal steeds hoe die werklike feite hieromtrent vertolk sal word, maar die geskiedenis oordeel al duideliker dat Mandela nie in sy posisionering van ’n opvolgkliek, genoeg aandag geskenk het aan die uitverkorenes se verbintenis tot versoening nie. Onnodige pleknaamsveranderings, in weerwil van die kompromis van verskillende name vir dorpe en munisipaliteite, het byvoorbeeld gou in veral sekere dele van die land gevolg en enorme kwetsende spore op die landkaart getrap.

Die graad 1 van versoening is dat dit ’n verbintenis tot versoening beteken, nie noodwendig ’n verbintenis tot die grondwet nie. Dr. Tjaart van der Walt, eertydse president van die RGN, het immers reeds in die 80-gerjare gemaan dat geen grondwet, selfs nie die beste ter wêreld, sal werk as die mense mekaar nie verstaan en vertrou nie.

Tog is die indruk gewek dat in die proses na 2 Februarie 1990, kundiges op gebiede soos die politieke wetenskap, politieke sosiologie, politieke geografie en ander eenkant toe gestoot is en dat juriste die proses sou domineer (en uiteindelik ’n paar geestelike lofprysers ingespan is om die proses te besing). Tekenend was die opskorting van die Maatskaplike Komitee van die Presidentsraad se ondersoek na tussengroepverhoudinge wat reeds ver gevorder was.

Politieke wetenskaplikes het voorlegging op voorlegging aan Kodesa gedoen, soms in opdrag van die Kabinet en geformuleer in terme van die modelle wat die staatkundige komitee van die Presidentsraad in ’n (voltooide) ondersoek uitgewys het. Hierdie modelle is spesiaal vir heterogene gemeenskappe ontwikkel, en werk in onder meer lande soos Indië, Nieu-Seeland en Switserland.

Verbysterd is waargeneem hoe daar niks van kom nie.

’n Enkeldimensionele benadering, waarin die juridiese verabsoluteer is en ’n span hoofstuk 9-instellings as waghonde die gladde verloop moes waarborg, word steeds deurlopend onder druk geplaas soos deur onderbefondsing, politieke aanstellings, die ignoreer van verslae en vele meer.

Dit kan weliswaar gesê word dat die wegval van die Nasionale Party, en veral die wyse waarop dit tot niet is, die hele konsep onder enorme druk sou plaas. Skielik was daar nie meer ‘n “ander party” tot die Vredesakkoord nie, hoewel diegene wie se belange daardeur gedien het, nie verdwyn het nie. Van die beloofde “ons sal julle stem wees” het ook dadels gekom.

Met die parool wat aan Eugene de Kock toegestaan is, het minister Michael Masuthu die idee van “ter wille van versoening” afgestof. Hy het egter versuim om sterwensparool aan Clive Derby-Lewis toe te staan, en sy redes staan ook maar op wankelrige en betwisbare bene. Na berig word het rassistiese plakkate wat tydens optogte vir die vrylating van Derby-Lewis geswaai is, ’n muur van verset binne die regering teen sy vrylating opgerig.

Voor die stelling gemaak word dat daar ooreenkomste in die gevalle is van hoe Derby-Lewis hanteer word, en hoe die vertroueling van Hitler, Rudolf Hess hanteer is, moet gehaas word om te sê daar is enorme verskille tussen die twee sake.

Hess is sy vryheid kwyt toe hy tydens die Tweede Wêreldoorlog ’n  Messerschmitt geneem, en na Skotland gevlieg het in wat as vredesending voorgehou word. Of hy dit met, of sonder die instemming van Hitler gedoen het, is daar nie sekerheid nie. Hy is nietemin sy vryheid kwyt.

Hess is veertig jaar later dood in die Spandau-gevangenis in Berlyn waar hy toe al lank die enigste aangehoudene was. Amptelik het hy selfmoord gepleeg, maar sy naasbestaandes glo vas hy is deur ‘n Britse SAS-taakspan vermoor. Voor sy dood is gereeld berig dat die westerse alliansievennote bereid was om hom om menslikheidsredes vry te laat, maar dat Rusland geweier het.

Ook in die geval van Derby-Lewis staan die SAKP breed in die pad van ’n menslikheidsgebaar aan ’n bejaarde sterwende man wat reeds twee dekades in die tronk deurgebring het. In die proses klink die minister se verbintenis tot versoening effe hol.

As is verbrande hout. Dit is eintlik baie maklik om skrikwekkende prentjies te skets (wat soms nogal erg beledigend oor swart mense is) oor wat sou gebeur het as FW de Klerk nie 25 jaar gelede ’n nuwe koers ingelui het nie. Hierdie spookstories gaan van die veronderstelling uit dat die huidige (grondwetlike) bedeling die enigste ander opsie was. Soms word daar die bietjie moeite bygedoen om te sê die “ANC sou ander opsies nooit aanvaar nie.” Maar dit oortuig nie dat hard genoeg probeer is met onderhandelings om alternatiewe modelle beding te kry nie – modelle met bewese werkende vlerke in ’n heterogene land.

Die waarde van die verlede is egter grootliks beperk daartoe dat ons, deur dit te bestudeer en ontleed, kan leer wat werk, wat werk nie so lekker nie, en wat misluk heeltemal. Die horlosie self kan egter nie teruggedraai word nie.

Die mens kan wel iets aan die teenswoordige en die toekoms doen.

Een van die belangrikste lesse wat geleer kan word is dat versoening nie ’n luukse is nie (of geoordeel aan sommige sosiale kommentare is dit ’n vreeslike ongewenste ding nie). Sonder versoening kan geen politieke of staatkundige model, links, liberaal, konserwatief, regs of wat ook al werk nie. Nie eens separatisme sal sonder versoening werk nie – vra maar die Biafrane, of die Koerde in die tyd van Saddam Hoessein, die Baljoetsji’s, die Moro en letterlik honderde ander gevalle.

Daar is net een pad vorentoe, en dit is die toekoms in. Die ANC probeer wel die pad na die verlede vind, soos blyk uit die pogings om alles wat hulle self, heeltemal selfstandig op hul eie verbrou, na die verlede te herlei. Terwyl niemand die impak van ‘n sleureffek of geërfde armoede ontken nie, rig die selfopgelegde gevangenskap van die verlede ook geen weg na die toekoms nie. Tog word al hoe meer gehoor oorlede apartheid word vir alles geblameer, en kolonialisme word in weerwil van empiriese bewyse tot die teendeel, geblameer. Selfs wyle Jan van Riebeeck word nou vir “alles wat verkeerd is” geblameer.

Hierteenoor is die Solidariteit-beweging met daad en strategie besig om oplossings vir die toekoms, en nie die verlede te vind nie. Ja, die lesse van die verlede word ter harte geneem, maar nie energie spandeer op dit op te los nie.

Kortom, mense sal verdeeld wees oor die positiewe en negatiewe impakte van vandag, 25 jaar gelede. Bitter baie energie gaan spandeer word om mekaar te oortuig, en mekaar met die “freeslikste spêlings” in die proses sleg te sê. Dink net as al daardie energie ingespan sou kon word om eerder saam te bou aan die toekoms. Die woord “saam” is dalk nou te veel gevra, maar as daar nou reeds sommer aanvaar word saamstaan sal nooit gebeur nie, is daar ook nie werklik rede om die minderheidsidentiteite se bestaansreg te beding nie.

Terwyl Jacob Zuma nou ’n gemene deler bied waaroor links en regs en die middelgrond min of meer dit eens is – in die woorde van dr. Hanekom: “Ek stem saam met Max du Preez. Ek dink nie die deursnee-Suid-Afrikaner besef wat pres. Jacob Zuma (volgens Max ‘n ‘one man wrecking ball’) aan die land doen nie.”

Maar Zuma is nie al probleem nie, en gaan ook nie altyd in ‘n posisie wees waar hy links, regs en die middelgrond ’n gemeenskaplike vertrekpunt bied nie. Nog raakvlakke moet raakgeboor en ontgin word, en slegsê is nie die beste vertrekpunt hiervoor nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

nienie ·

Ek stem heeltemal saam met mnr Toerien se skrywe en veral stem ek saam met dr Frans Cronje se waarneming tov rassisme. Ek wil dus heelhartig vra dat alle beriggewing tov enige moorde, nie net plaasmoorde nie, en alle geweld, nie net xenofobie nie, moet die verskillende geslagte en rasse gepubliseer word, hetsy dit swart, wit, pienk of pers is. Dit moet pertinent uitgewys word – ons mag nie polities korrek optree nie. Dis al hoe die volle omvang vd euwel bepaal en gehanteer gaan word.

Bruno Stef ·

Dit is werklik opvallend dat die Kommunistiese Party Clive se vrylating so teenstaan net soos Rudolf Hess tot en met sy dood in Spandau gevangenis. Die oprigters van skandmuur in Duitsland se onverdraagsaamheid bevestig net wat n Kommunis se mentaliteit is sowel as die Liberale rugkrappers se Politiese korrektheid en HANSIE MY KNEG houding.

david ras ·

Wat ek verbasend vind, is dat deurgaans die illusive voorgehou word dat Clive Derby Lewis teenwoordig was toe Hani Geskiet is, trouens sommiges wil dit amper voorhou dat hy self die sneller getrek het. Die arme man was seker ‘n goeie 50 km weg van die moord toneel af !
Dar is en ooreenkoms tussen die Derby Lewis geval en die van Rudolf Hess—Die kommuniste.
Hulle was in beheer van die trunk in Spandau en na hoevele probeerslae om Clive op parool te kry blyk dit nou dat die groot klip in die pad eintlik die SAKP is.
Mense moet tog die mening van die voormalige polisiespioen Gerard Ludi oor hierdie geval lees in sy boek The Communsitisation of the ANC.
Ludi was die spioen wat die ANC/SAKP in die vroee sestigs binnegedring het, derhalwe meen ek sy opinie is van belang. Hy beskryf Hani se moord as ‘n “black ops”—‘n moord gereel deur iemand op ‘n leier vir politieke voordeel. Hy s reguit dat Derby Lewis te veel van ‘n amateur was om so iets suksesvol te kon afhandel.
‘N ander boek wat verskyn het so tien jaar voor die van Ludi, is “Government by deception” deur Jan Lampbrecht, waarin sy mening baie ooreenstem met die van Ludi.
Die redes vir die weiering van die parool, is vir die eerste keer sonder die opposisie van Hani se weduwee, en eintlik net gerugsteun deur die SAKP, Die minister se ander redes is bra dun en kan dadelik bevraagteken word.
Dit alles laat my weereens wonder—wie is bang vir ‘n vrye Clive Derby Lewis ?

Bruno Stef ·

Ek het jare terug n Duitse Ingenieur as kollega gehad wat die situasie in SA opgesom het en vandag nog meer van toepassing is as destyds sy opmerking was YOU LOST THE WAR. Die wenner skryf die geskiedenis met n siening wat hom pas.Ondanks Britse/Amerikaanse propeganda moet onthou word dat sommige Duitse offisiere swaar gestraf is vir sg oorlog misdade maar andere soos Dr Werner von Braun en kollegas gewhitewash en die hoof van die Amerikaanse ruimte program geword het. Dr von Braun het die V1 en V2 vuurpyle ontwerp wat baie Britte gedood het Ons moet net onthou dat n politikus sy mantel altyd na die wind sal draai en die feite n bietjie verdraai.

Nico ·

Die jaar 2015 is nou maar een maand oud. Vanaf die einde van 2014 is daar geglo die jaar 2015 kan ‘n rowwe jaar word. Na die eerste maand sal ek nie verbaas wees as hierdie jaar ‘n werklike waterskeidingsjaar polities en ekonomies gaan wees nie.

Maand een was maar die begin en is dit dalk maar ‘n kalfie teenoor wat wag. ‘n Ekonomiese voorbeeld wat almal baie hard vorentoe gaan pak gee: So pas is die watte om Eskom gedraai en is hy teen kompetisie gevrywaar. Polities gaan die skroewe ook in die hoogste graad teen die minderhede verder aangedraai word, én aangedraai word.

Andre Fourie ·

Alle pogings is verniet om Clive Derby Lewis vry te kry. Die huidige regering sien hom as die Afrikaanse Mandela en dat hy swaarder gestraf moet word. En dit dien dan as n simbool van weerwraak op die afrikaners in die land. Hy sal seker een van die eerste politikusse wees wat regtig lewenslank gesit het en in die gevangesnes sal sterf tensy n wonderwerk gebeur.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.