COP17: ‘n Skynheilige politiekery

Die ergste vorm van burokratiese luiheid en vermorsing is sekerlik konferensies wat miljoene kos, maar weinig oplewer nie. Cop 17, oftewel die klimaatberaad wat tans in Durban plaasvind, is in my oë een van die beste voorbeelde hiervan. Dit is nie dat Cop 17 nie oor ʼn waardige doel gaan nie, want al is ek skepties oor die alarmistiese geluide uit die groen bewegings se rigting dat als binnekort gaan ontplof en ons gaan doodbrand of wegspoel, dink ek tog aardverwarming is ʼn werklikheid en dat mense grootliks daarvoor verantwoordelik is. Waaroor ek veral sinies is, is die politieke oplossings wat daarvoor gesoek word, die onkunde van die ontwikkelende wêreld en die publiek daaroor asook die geldvermorsing vir groot berade wat altyd dieselfde uitkoms het.

So ver het die konferensie slegs in oor-en-weer beskuldigings, ʼn politieke doodloopstraat en belaglike oplossings ontaard. Die ontwikkelende wêreld, met Afrika aan die voorpunt, het weer eens sy politieke spel begin speel en die VSA beskuldig van ʼn tekort aan politieke wil om klimaatsverandering te pak. Natuurlik word ʼn geldelike bystand in die vorm van ʼn fonds van tussen $500 en $600 miljard ook as eis deur die Afrika-groep by die beraad bygevoeg om kweekhuisgasse op die vasteland hok te slaan – met die ontwikkelde lande wat natuurlik die hoofborg hiervan is. Dit is skynheiligheid en oneerlikheid op sy beste en ʼn nuwe politieke truuk vir die arm lande om bakhand te staan. As die ontwikkelde wêreld so ʼn groot besoedelaar is, hoekom leef sy bevolkings dan die langste, beste en gesondste lewens? Dit is net logies dat hul eie bevolkings, weens hul nabyheid aan fabrieke en ander bronne van besoedeling en aardverwarming, eerste die spit gaan afbyt. Hierbenewens raak die ontwikkelde wêreld se bevolkings, weens hul vooruitstrewendheid, al hoe kleiner met minder mense om te besoedel. As ʼn voormalige eiendomsjoernalis kan ek ná etlike groenbou-konferensies waar van die beste kenners ter wêreld op dié gebied hul navorsing gelewer het, daarvan getuig dat Wes-Europa, die VSA en Australië aan die voorpunt van tegnologiese navorsing oor, asook die toepassing van, groenbou-tegnieke is. Daar was nooit enige navorsing deur iemand uit die ontwikkelende wêreld daar gelewer nie.

Maar tog het een Cop 17-afgevaardigde van Mali dit goed gedink om die VSA alleenlik vir haar land se grootste probleem te blameer: Aardverwarming! Dit kom vanaf iemand wie se land onder die onderste 10 is op enige indeks wat verband hou met geletterdheid, lewensverwagting, BBP per capita, ontwikkeling, vryehandel, demokrasie, ensovoorts. En al hierdie ernstige probleme is politieke probleme wat mensgemaak is deur swak regerings en mense wat hulself nie wil help nie. Luidens ʼn berig deur die nuusdiens Reuters het ʼn studie deur die Global Carbon Project getoon koolstofdioksied (CO2)-besoedeling het regdeur die wêreld se ekonomiese probleme toegeneem. Eers met 6% in 2010 en toe met 3% in 2011. En waar het hierdie toename grootliks plaasgevind? Die studie toon onomwonde dat dit ʼn paar groot ontwikkelende lande is wat die blaam moet dra. In albei jare is die grootste groei deur China (10,4% op ʼn jaargrondslag in 2010), Indië (9,4%), en Brasilië (11,6%) aangeteken. Die data toon ook dat uitlaatgasse vanuit China, wat terloops die wêreld se grootste CO2-besoedelaar is, tussen 2002 en 2010 verdubbel het. Ek het nog nie gehoor hoe Afrika-afgevaardigdes China oor hierdie onrusbarende feite kritiseer nie. My vermoede is dat hulle net te bang is China koop nie langer hul grondstowwe nie, sny handelsbande met hul lande af en dat die Weste se tydelike kwesbaarheid en verdraagsaamheid dit ʼn makliker sondebok en hulverlener maak.

Dan het die ontwikkelende streke en lande slegs hulself te blameer vir hul situasie. As klimaatsverandering werklik so ʼn groot probleem in Sub-Sahara Afrika, Indië en China is, is dit omdat die bevolkings daar te vinnig en onbepland groei en die aarde, wat ʼn groot ekonomiese bron in hierdie lande is, nie hierdie mense volhoubaar en onbepaald kan ondersteun nie. As mense die oorsaak van klimaatsverandering is, is dit dan die ontwikkelende wêreld met sy hoë aanwaskoerse en groot bevolkings wat uiteraard pa moet staan hiervoor. Daar word gemiddeld 6,5 kinders per vrou in Nigerië gebore en soos wat ek hierdie stuk skryf word daar 3,200 babas in Indië gebore. Hierdie soort groeikoerse in landbou-ekonomieë is onvolhoubaar en lei tot verwoestyning, gronderosie en warmer klimate weens die eenvoudige rede dat meer mense meer binne beperkte gebiede moet verbruik om te lewe en ook besoedel. Woestynindringing veroorsaak dat tot 50% van Afrika tans as woestyngebiede kwalifiseer en die vasteland verloor 3,5 miljoen hektaar natuurlike bos elke jaar. Hierdie ernstige kreeftegang kan sekerlik nie sonder ʼn groot bydrae van Afrikane self bewerkstellig word nie?

Daarenteen het die ontwikkelde wêreld lankal oorgeslaan na die kennis-ekonomie met landbou en swaar nywerhede as ʼn klein komponent van hul ekonomieë. Hierdie lande se burgers werk met rekenaars (wat ook hitte veroorsaak, maar nie naastenby soveel soos China se baie fabrieke nie), ry toenemend hibriede motors wat minder besoedel, ontwikkel gevorderde herwinningsmetodes en biotegnologie, inkorporeer groen praktyke in hul huise en kantore en het nog boonop veel minder kinders ook. Die syfers maak net nie sin dat sowat 15% van die wêreld se bevolking (die ontwikkelde wêreld) met gevorderde tegnologie verantwoordelik is vir die hele wêreld se probleme nie. Wie is dus die eintlike sondebokke as die klimaat verander?

Ten slotte kan daar net gesê word dat Cop 17 net nog ʼn vorm van politieke massamanipulering is. Soos by handelskonferensies en dié oor rassisme is dit net nog ʼn openbare geleentheid vir die arm lande om te kyk wat hulle gratis uit die ryk lande kan kry deur hulle skaam te maak voor die wêreld. Swak nagevorste, verkeerde en eenogige standpunte word deur onkundige aktiviste en ontwikkelende lande gehuldig om te kyk watter aalmoese hulle kan ontvang deur nuwe redes op te haal. Die wêreldekonomie en daarmee saam die Amerikaanse en Europese ekonomieë is buitendien te broos vir vermeerderde geldhulp vir kwessies wat op baie twyfelagtige wetenskap gegrond is. Afrika-regerings moet eerder na hul eie mensgemaakte mislukkings in die velde van onderwys, omgewingsagteruitgang, korrupsie en slegte regering kyk as om te bedel vir probleme waarvoor hulle self verantwoordelik is.

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae