Covid-19: Vasbyt of vrees?

Argieffoto (Foto: Gerd Altmann/Pixabay)

Baie wetenskaplikes meen nie net dat Covid-19 gekom het om te bly nie, maar dat dit ná ’n verwagte afplatting selfs in ’n baie groter golf gaan toeslaan. Om so ’n katastrofe te kan vryspring, verskuif die verantwoordelikheid in ’n groot mate van die owerhede na die publiek, wat dan goed vertroud moet wees van die nodige kennis om voorkomend te kan optree.

Volgens ʼn peiling wat deur Rapport gedoen is, speel vrees nou so ’n groot rol, dat meer as 60% Suid-Afrikaners nou vanself die nodige beheer- en voorkomingsmaatreëls sou toepas, al was daar geen maatreëls wat deur die owerheid toegepas word nie. In die VSA blyk dit uit ’n meningsopname of die Amerikaanse kiesers volgens hul party-lojaliteite glo die beperkende maatreëls was oordadig of gepas. 63% van die Demokrate glo die VSA is, danksy die maatreëls, minder veilig. (Lees verslag hier).

Gebrek aan kennis

(Argieffoto)

Dit kom voor of die doeltreffendste teoretiese model om die pandemie te bestuur (nog) nie bestaan nie.

In dié stadium is die grootste gebrek aan die vind van die beste oplossings ’n gebrek aan kennis. Veral die genetici en viroloë is in hierdie stadium baie openlik oor hoe gebrekkig die bestaande kennis is om doeltreffende medikasie en voorkomende immuniteitsmiddels te vind. Tipies word na hierdie kennis as “niks” of ten beste “bykans niks nie” verwys. Daarsonder is die behandeling en voorkoming van die siekte grootliks voorkomend, met ander woorde om die potensiële slagoffer en die virus so doeltreffend as moontlik van mekaar te skei.

Die ingrendeling wat Suid-Afrikaners en die burgers van baie lande nou aan blootgestel word, is ’n belangrike manifestasie. Maar ingrendeling het verskeie newe-effekte wat hulle op, onder meer die ekonomiese, die sosiale, sielkundige, die juridiese, mediese en landbouterreine (soos die landbou-ekonomiese en voedselsekerheidsterreine) afspeel; die godsdienstige (wat weer eise aan die karakter daarvan stel, soos die doeltreffendheid van sopkombuise en die algemene versorging van die armes, asook diegene in geestelike nood); doeltreffende regeerkunde soos om begrotingsaansprake te prioritiseer, en die bekamping van misdaad, veral korrupsie en bedrog, en die behoefte aan beveiliging soos dit, onder meer, in bendekulture en plaasaanvalle manifesteer; verantwoordelike kommunikasie, sodat interkulturele kommunikasie nie deur valse gedeelde werklikhede (soos dat blankes hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel) bekom word nie, ensovoorts.

Ontsporing deur fopnuus en wolhaarstories

(Grafika: Pixabay)

Daar is eenvoudig nie nog ruimte vir fopnuus en soortgelyke wolhaarstories nie.

So is daar nog gans te veel mense wat kommentaargeriewe kan “benut” deur lewensgevaarlike bog in te span deur byvoorbeeld te ontken dat Covid-19 bestaan of dat dit ’n pandemie is, wat voortdurend wetenskaplike bevindings as leuens afmaak. Mense wat selfs wetenskaplike inligting (met portuuroorsig en al) uitdaag – soms selfs in “preke” wat te midde van al die werklike preke wat gemeentes te midde van die ingrendeling na lidmate uitsaai asof hulle self die een of ander danige professor-doktor is, en hul eie name in die proses Bolliescenario maak.

In Suid-Afrika word die probleem verder gekompliseer deur die feit dat daar ook vanuit owerheidsweë ruim met die bak van kluitjies omgegaan word. Veral dr. Nkosazana Dlamini-Zuma se skynbaar persoonlike geveg teen rook en drank is deeglik in die ruimte tussen waar en vals ingevleg. Die howe moet nou oor die waarheid, oftewel die kwaliteit van die waarheid besleg.

Tweede golf

(Foto: pixabay)

Oor die tweede golf en die impak daarvan laat die Vlaamse hoogleraar en mikrobioloog, Herman Goossens, hom soos volg uit: “Ná die somer wag ’n tweede golf van besmetting op ons… Om ’n nuwe vlaag te voorkom, moet slim maatreëls getref word om die grafiek laag genoeg te hou. As gevolg van die aard van die virus, is dit egter nie maklik nie. Die helfte van die infeksies word veroorsaak deur mense wat geen simptome het nie. In die drie dae voordat die hoes begin, kan iemand reeds mense besmet. Ek dink nie mense is heeltemal daarvan bewus nie.”

Die immuniteit van die groep is ver van binne sig, waarsku Goossens. “Immuniteit in die bevolking was teleurstellend. Daar is geen land in Europa waar immuniteit meer as 5% is nie.”

Volgens Goossens het die meeste Europese lande te laat begin om mense wat die virus onder lede het, in massas te toets.

“Duitsland was die uitsondering. Duitsland het besluit om vroeg in Februarie baie laboratoriums in werking te stel.” Vir ander mense (as verpleegkundiges en onderwysers) wat wil weet of hulle siek was, bepleit Goossens ‘n toets wat kyk na die teenwoordigheid van teenliggaampies. (Lees hier).

Vasbyt

(Argieffoto: fernando zhiminaicela/Pixabay)

Twee Amerikaanse akademici wys ook op die belangrikheid dat die burgery, ná afloop van die ingrendeling, self volhou met die voorkomingsmaatreëls, en stel die vraag of die selfdissipline daarvoor onder die Amerikaners bestaan. Gretchen Chapman, professor in sielkunde aan die Carnegie Mellon-Universiteit en George Loewenstein, professor in ekonomie en sielkunde aan dieselfde universiteit glo nie dit sal die geval wees nie, omdat mense nie sommer die voordele van hul optrede kan “sien” nie.

In Suid-Afrika, waar die publiek eers moet vasstel wat die waarheid is, bestaan die gevaar van tot-hier-toe-en-nie-verder-nie gouer. Veral ten opsigte van die wyse waarop onwetenskaplik en onprofessioneel met die kwessie van drank- en rookverbruik omgegaan word en wat die indruk van ’n vyandige owerheid skep, kan dit tot weerstandigheid lei om aan die owerheid oor enige ander kwessies (ook bona fide-kwessies) gehoorsaam te wees.

Die voortgesette verbod op rook stuur op minstens een hofsaak af, terwyl ’n drankwinkel in Bloemfontein op 1 Junie, die dag van die opheffing van die verbod op alkoholverkope, voor 10:00 reeds uitverkoop was.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Deon

En nou mnr die minister van polisie? Wat gebeur nou met die misdaad syfer… Is jy steeds trots daarop

Robert

Kry gaan jy hom kry… nes verkoue of griep…

Fedup

You know. I just don’t care. This poor virus has been ridden bare back so hard by this circus, the poor thing lost it’s groove.
Even headscarf is out if moves. A new one.
If we get it, so be it. If not. Good for us.
But enough is enough.
Let’s move on, shall we.

Linda

Ek dink die WHO en media oordryf die ding, en hou mense se vrees lewendig, so as hulle die dag kom met ‘n “inenting” gaan almal maar soos skape ewe gedweë in die ry inval vir die inspuiting. Kyk hoe vinnig is hulle op die masker wa. Winkelsentrums lyk soos n klomp aliens wat rondbeweeg. En volgens die slimmes kan 100% nou al besmet wees met geen simptome nie. Hoe belaglik is dit? En mense glo dit? Dis nou soos om iets te google, en dan glo jy jy het brein kanker. Op die einde dink jy jouself siek en… Lees meer »

katerinadiekat

Ek vrees veel meer die verlies van my natuurlike inherente menslike regte soos vryheid van keuse. Wat beteken die lewe as jy nie eens die eenvoudigste keuses vir jouself mag maak nie?