Die Gelofte van ‘n Verbondsvolk

Op die amptelike kalender staan daar nou by 16 Desember dat dit nou Versoeningsdag is.

Met die aanbreek van die Groot Trek was dit duidelik, onder andere uit Piet Retief se Manifes in die Grahamstown Journal dat die Voortrekkerleiers die trek as deel van die handeling van ‘n volk beskou het wat in die Verbondsgenade en –verbintenis van God gestaan het. Dit het behels ‘n liefde vir God, en liefde vir die naaste.

Met Verbondsvolk word die Nuwe Testamentiese begrip daaraan gekoppel: Die Christene wêreldwyd wat die nuwe Verbondsvolk geword het teenoor die Israeliete as Verbondsvolk van die Ou Testament.

Ook die Gelofte van Bloedrivier kan nie hiervan losgemaak word nie.

Die betekenis van ‘n Gelofte en Geloftedag

Die HAT beskryf ‘n Gelofte as ‘n plegtige belofte, onderneming, veral teenoor God.

Veral in die Ou Testament word voorbeelde aangetref waar mense ‘n Gelofte teenoor God maak. Heel dikwels beskryf die Bybel beloftes wat God teenoor die mense gemaak het – en onderhou. Die belangrikste hiervan is die Verbond (Gen. 6:18) wat voortgesit is in die Nuwe Verbond (die Nuwe Testament).

In beide die Roomse en Moslem-tradisies handel ‘n gelofte gewoonlik oor ‘n belofte tot onthouding, en dikwels asketisme. Dikwels is dit bloot op ‘n onderneming om te vas, afgestem.

Nog ‘n voorbeeld van ‘n gelofte uit die na-Bybelse era is die gelofte wat Jeanne d’ Arc afgelê het om die Engelse besettingsmag in Frankryk te verslaan. Ook tydens die tyd van die gildes moes nuwe gildelede ‘n gelofte aflê, ‘n duidelike aanduiding dat die gildes wegbeweeg het van die heidense, Nordiese herkoms daarvan. Die moderne neiging is dat die Christen, in sy sondebewustheid en onvermoë om ‘n Gelofte te kan hou, eerder God om Sy genade en vergifnis bid. Dit word veral geput uit Matt 5: 37: “Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose.”

Die interessante is dat sommige Bybelvertalings die Griekse woord wat hier met “Bose” vertaal, vertaal as “bose een” omdat die grammatikale konteks op ‘n persoonlike verwysing dui, d.w.s. die duiwel. Die persoon moet ‘n persoon van sy woord wees sonder om te sweer. Ook taalkundig het die woord verouderd geraak, en verwys die Gelofte in Afrikaans byna uitsluitlik na een Gelofte, die Gelofte van Bloedrivier. Ook uit die Nederlandse literatuur is die woord “Gelofte” nou skraps, en waar dit opgespoor word verwys dit meestal na die naam van ‘n restourant in Vlaams-Brabant, De Gelofte. Ongelukkig word “Gelofte” ook dikwels vir kommersiële doeleindes misbruik, soos waar ‘n firma deur sy naam die beeld te verskaf van ‘n instansie wat by sy reklame-aansprake hou.

Vir ongeveer 40 jaar na Bloedrivier is die Gelofte nie onderhou nie. Uit die preek van ‘n Geloftediens van die NG Kerk Saldanha blyk dit dat Andries Pretorius dit self ook nie onderhou nie. Eers in 1864 het die Sinode van die NG Kerk in Natal besluit dat al hulle gemeentes die dag plegtig sal vier. Op 16 Desember 1866 is die eerste grootskaalse byeenkoms by Bloedrivier gehou. Daar was ook leiers uit die Zoeloevolk teenwoordig en hulle het saam met die Boere deel geneem aan die opstapeling van klippe as gedenkteken van die slag. Die bedoeling was heel duidelik dié van versoening.

Ds. Cachet het by die geleentheid ‘n oproep gedoen vir die evangelisasie onder die heidense Zoeloes en koning Setswhayo se boodskap is ook daar gelewer. In die ZAR is eers in 1865 die dag as ‘n openbare vakansie dag verklaar, maar eers in 1877 die eerste keer gevier. Min van die boere het hulle egter daaraan gesteur en het op die dag krieket gespeel of jagpartytjies gehou. In 1891 het pres. Paul Kruger gevra dat die fees ‘n godsdienstige karakter moet dra. Eers in 1894 het die Republiek van die Vrystaat Geloftedag as vakansiedag verklaar. In 1910 met Uniewording is die dag as nasionale vakansiedag oor die hele land gevier.

‘n Groot deel van die tragedie rondom Geloftedag vandag benewens dat baie Afrikaners hulle nie meer daartoe gebonde voel nie, is dat dit dikwels oor die jare vir politieke en selfs godsdienstige doeleindes gekaap is. Die Bybelse en historiese konteks waarbinne dit afgelê is word dikwels geïgnoreer.

Die Bybelse konteks kan nooit van die oorhoofse Bybelse opdrag staan nie:

“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies. Doop hulle in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle geleer het. En kyk, ek is met julle tot aan die einde van die wêreld.” -Matteus 28

Die historiese konteks word deur ‘n wye verskeidenheid dokumente vervat, waarvan Retief se manifes wat in die Grahamstown Journal gepubliseer was, waarskynlik die duidelikste is. Hieronder van die belangrikste punte.

1. Ons is vasbeslote om, waar ons ook al mag gaan, die regverdige beginsels van vryheid hoog te hou; maar terwyl ons sal sorg dra dat niemand in ‘n toestand van slawerny gehou word nie, is ons ook vas beslote om sodanige wette daar te stel wat misdaad sal onderdruk en ‘n behoorlike verhouding tussen heer en diensbode sal bewaar.
2. Ons verklaar plegtig dat ons hierdie Kolonie verlaat met die begeerte om ‘n rustiger lewe te lei as wat ons tot hiertoe gedoen het. Ons sal geen volk molesteer nie en aan niemand die geringste eiendom ontneem nie; maar as ons aangeval word, sal ons ons ten volle geregverdig beskou om ons persoon en eiendom tot die uiterste te verdedig teen enige vyand.
3. Ons stel ons voor om in die loop van ons trek, en wanneer ons aangekom het in die land waar ons gaan woon, ons bedoelings en ons begeerte bekend te maak aan die inboorlingstamme, asook ons begeerte om in vrede en vriendskap met hulle te leef.

Die nakoming van ‘n Gelofte is ‘n plegtige, ernstige saak, en moet onderhou word, maar ook om die regte motiewe. God het immers die oorwinning wat versoek is, gegee. Uit die feite op die tafel is dit moeilik om tot ‘n ander gevolgtrekking te kom as dat ‘n wonderwerk gebeur het.

As ons Geloftedag om die regte redes vier, is dit goed. As Geloftedag egter vir ander doeleindes misbruik word soos motivering om weg te staan van die Evangelisasietaak teenoor alle volke, of om ‘n toestand van onvrede of die vernedering van ander te dryf, kla daardie hulself aan – en omdat dit ‘n Geloftes is, voor God self.

Onderweg na ‘n Gelofte: Deel 1

In Piet Retief se manifes wat hy in die Grahamstown Journal gepubliseer het word die redes vir die Groot Trek aangedui. Die redes kom baie met dié van vandag ooreen: misdaad wat plaasmoorde insluit, owerheidsoptredes wat behoorlike selfverdediging moeilik maak, die blaam wat op ‘n onregverdige wyse op die boere gepak word met die gevolg ‘n land waarin daar geen vooruitsig meer bestaan op die geluk of vrede van hul kinders nie.

Die mite dat die boere getrek het omdat slawerny afgeskaf is, word ook in die manifes belig: In die land waar hulle gaan bly sal regverdige beginsels van vryheid gehandhaaf word en geen slawerny sal geduld word nie. Hulle sal geen volk beroof of lastig val nie, maar indien hulle aangeval word sal hulle nie aarsel om hulle teen elke vyand te verdedig nie. Misdaad sal onderdruk word en daar sal ‘n behoorlike werkgewer – werknemerverhouding wees.

Retief se manifes is ook deurdrenk met sy geloof in God.

In feitlik identiese omstandighede as wat Retief skets, tree Afrikaners vandag verskillend op en dit kan gesien word nie net aan waar oral in die wêreld vandag Afrikaans gepraat word nie, maar in welke verskillende politieke partye Afrikaners hulle vandag bevind.

‘n Gemene deler van hierdie mense is dat hulle, soos Retief, glo wat hulle doen is in die beste belang van hul kinders. Geen ouer wil hê sy kind moet vermoor, of op ‘n ander wyse die slagoffer van misdaad word nie. Hy wil ook sien dat sy kind die geleenthede waarvoor die ouer hard gewerk het kan benut, en nie die slagoffer word van die vrypas wat ‘n ander oor sy kleur of politieke affiliasies kry nie.

Die Afrikaner is vandag weer op trek. Soos destyds met die verskillende trekgeselskappe waarvan sommiges hoogs riskante trektogte die onbekende ingevaar het, is daar vandag ook trekke in verskillende geografiese en geestelike rigtings. Een trekgeselskap het in geheel weens aanvalle en malaria en ander onbekende siektes verdwyn. Soos destyds sit heelwat van die onderskeie leiers nie langs dieselfde vuur nie. Wat hulle in gemeen het was hul geloof in God en die wete dat hulle anders is – soos Retief dit gestel het – aan heilige grond gebind is. Ongeag die benadering wat Afrikaners vandag volg, moet hulle kennis neem van die lesse uit die geskiedenis, en die vernaamste les is: Ongeag hoe sake dan lyk, vertrou in God en soek om Sy wil te doen.

Aanloop tot die Gelofte, Deel 2

As Afrikaners vanjaar se nuuswaardighede in oënskou moet neem sou die misdaadsituasie, Malema se woeste uitsprake en die gereelde kwasi-godsdienstige uitsprake van pres. Jacob Zuma seker uitstaan – en anstoot gee. Die kritiek waaronder boere opnuut vir onder meer die sogenaamde mishandeling van hul werkers moes deurloop het egter ook baie aandag getrek.

In die afloop van die Malema-haatspraakverhoor het kritiek uit eie geledere gekom oor dié saaier van polarisasie aangedurf is, en daar is selfs op die Afrikaner se gevoelens gespeel om ‘n skuldige gewete oor die verlede te bly dra. Die vuiste het selfs geklap.

Vir die voornemende Trekkers was dit nie anders nie. Andries Stockenström, wat as luitenant-goewerneur die goewerneur in die grensgebied verteenwoordig het, het ook verslag op verslag oor die verslegtende omstandighede ontvang, en tog die boere gemaan om nie die, soos hy dit gestel het, “dwaasheid van die trek aan te pak nie.” Veel erger was egter die invloed van veral sendelinge, waarvan baie niks anders as negrofilistiese menseregteaktiviste was nie. Soos daar vandag gereeld gehoor moet word dat swart mense per definisie nie rassiste kan wees nie, is die indruk destyds ook gewek dat nie-wittes eers gelyk sou wees wanneer hulle meer gelyk as die wit bevolking sou wees. Die edel barbaar kon per definisie nie ‘n voet verkeerd neersit nie. Vanuit hierdie geledere is die een smeerveldtog na die ander op die boere geloods, en omdat dit uit sendeling-geledere gekom het, is dit dikwels oorsee geglo.

Hierdie situasie sou ‘n volk in wording waarvan die Christelike godsdiens nie so kernagtig gewortel was nie, se geloof laat wankel het.

Die werklikheid het ietwat anders gelyk. Louis Trichardt, byvoorbeeld, het op grond geboer wat hy van die Xhosa-hoofman, Hintsa gehuur het. Hy het eers hier verkas toe daar oorlog tussen Hintsa en die Britse regering uitgebreek het. Verder was die Trekkers geen barbare nie. Trichardt het byvoorbeeld behoorlik dagboek gehou, maar die duidelikste demonstrasie dat dit hier om beskaafde mense gehandel het, was die sentrale plek wat die Bybel ingeneem het. So skryf die reeks, Drie Eeue, oor die voorbereiding vir die Trek: “Die gereelde daaglikse huisgodsdiens is van baie groot belang en het die trekkers bewaar van verval. Dit is die grondslag van hul beskawing….In die huis neem hierdie boek die ereplek in, en op die trek sal dit ook nie minder die geval wees nie.”

Die impak van die sendelinge was egter so groot dat die eerste grondwet wat die Trekkers in 1837 aangeneem het, onder andere bepaal het dat hulle niks te doen sou hê met Engelse sendelinge nie. Piet Retief is by dieselfde geleentheid tot goewerneur verkies, en Erasmus Smit, eintlik ‘n arm en sieklike sendeling, tot predikant van die Trekkers. Met sy inhuldiging het Retief onder meer gesweer dat hy die Christelike geloof sou beskerm. Hierdie onderneming kwalifiseer ook as Gelofte, en kan in baie opsigte as voorbereidende Gelofte beskou word vir die een wat Afrikaners op 16 Desember herdenk, en ‘n bevestiging van verbintenis tot God se Verbond.

Die integrale deel van ‘n kerkleier in die Boere se vryheidstrewe het later ook geblyk toe die Vrystaatse regering op die slagveld tydens die Anglo-Boereoorlog uit ‘n driemanskap bestaan het – pres. M.T. Steyn, genl. Christiaan de Wet en Vader Kestell.

Dat die gelowige trekkers hulle in ‘n situasie van nood ‘n Gelofte sou maak, was ‘n feitlik onvermydelike. Net so belangrik is dit dat Afrikaners vandag steeds, ongeag al die aanslae, hul Christelike geloof koester en aan hul nageslag oordra – maar ook nooit die sendingtaak versaak nie.

Die Gelofte: Deel 3

Wanneer aan die slag van Bloedrivier gedink word, word aan ‘n stryd teen ‘n oormag gedink. In die Voortrekkerlaer was 468 Voortrekkers, drie Engelse onder wie Alexander Biggar wat die dood van sy seun kom wreek het, sestig swart soldate van Biggar en ‘n onbekende aantal bruin en swart bediendes. Die swart soldate is blykbaar deur die Engelse in Port Natal as skerpskutters opgelei om deur jag die nedersetting van vleis te voorsien. Die bediendes het ook ‘n noodsaaklike rol vervul omdat elkeen van die Voortrekkers ‘n paar voorlaaiers gehad het, en die bediendes kon help laai.

Aan die kant van die Zoeloes het sowat tienduisend vegters aan die aanval deelgeneem.

In die aanloop tot die slag is die Voortrekkers van verskeie van hul leiers gestroop – Piet Retief wat saam met sy afvaardiging deur Dingaan in sy hoofstat vermoor is, Piet Uys wat saam met sy seun, Dirkie, dapper teen ‘n oormag ondergegaan het, en Gerrit Maritz. Andries Pretorius het pas uit die kolonie by die Trekkers aangesluit, en is tot Hoofkommandant verkies.

Pretorius het dadelik improvisasies ingevoer, soos om ‘n aantal waens saam te neem wat as forte kon dien eerder as die kwesbare perdekommando’s. Veghekke is ook aangebring, sodat daar nie elke keer doringtakke gekap hoef te word nie. Die veghekke het dit moontlik gemaak om in ‘n oop terrein wat sonder doringbome was die finale slag te lewer, waar die Voortrekkers die vyand oor ‘n lang afstand kon sien aankom.

In die aangesig van so ‘n oormag, het die Trekkers die Gelofte afgelê.

Ook vandag ervaar Afrikaners die sensasie van ‘n oormag. Om enkeles toe noem: Die grondwet waarborg taalregte, maar Pansat, ‘n taalwaghond ingestel ingevolge die grondwet, hou steeds vol dat die owerheid self die grootste oortreder van die taalbepalings is. Pas het ‘n groep Afrikaanse instellings waaronder Afriforum en Solidariteit aangedui dat hulle ‘n hofbesluit wat toelatingsvereistes vir skole uit die beheerrade se hande neem, op appèl gaan neem. Veral Afrikaanse skole word geteiken.

Hoewel daar Afrikaners lid van die ANC is nie, sal hulle ‘n onbeduidende invloed binne dié organisasie uitoefen. Menslik gesproke, teen so ‘n oormag en ‘n beleid van regstellende aksie is die Afrikaner tot ondergang gedoem. Vandag mag Afrikaners in politiek en staatkunde verskil oor wat in die beste belang van die volk is – maar daar moet noodwendig een gemene deler wees – die geloof en vertroue in God.

Al het Pretorius skitterende krygsvernuf aan die dag gelê, kan die Goddelike ingryp nie misgekyk word nie. Op sy eenvoudigste, toe die Voortrekkers sowat 3 000 van die tienduisend aanvallers doodgeskiet het, was hul ammunisie bykans op. Sou die aanvalsmag nie op die vlug geslaan het toe Pretorius ‘n groep ruiters uitgestuur het om hulle op die vlug te laat slaan nie, kon die laer sonder ammunisie voor ‘n oormag wat steeds groot was geval het. Die lanterns wat Pretorius aan lang stokke buite die laer laat vasmaak het, het die nag in die mistigheid ‘n spookagtige effek gehad wat die Zoeloes laat besluit het om in die dag aan te val – waar hulle oor ‘n groter afstand maklike teikens was.

Die geskiedenis leer dat Christene nie altyd kry wat hulle in daardie stadium gedink het die beste belang van God sou dien nie. Die Christene wat in Nero se tyd en ander tye van vervolging as martelaars gesterf het kon stellig nie destyds verstaan waarom dit moes gebeur nie. Vandag kan teruggekyk word en gesien word dat dit moes gebeur om Christene uit hul gemaksone te haal en die wêreld in te versprei om die evangelie te versprei.

Sonder ‘n vaste geloof in God sal enige volk wat onder druk kom in wanhoop verval. Met God kan die volk hom op sy Skepper beroep. Nie net kan nie, hy moet bid sonder ophou. Die volk kan selfs duursame Geloftes maak sonder om God te probeer afpers om te maak soos ons wil hê Hy moet maak.

Hiervoor het Christus self aan ons die voorbeeld gestel: As dit U wil is, laat hierdie beker by My verbygaan. Maar nogtans nie My wil nie, maar laat U wil geskied.

Dit beteken egter nie ons is fatalistiese passasiers op ons lewenspad nie. Met God aan my sy loop ek immers ‘n bende storm. Dan ken ons geen oormag teen ons nie.

Ons durf nie uit die oog verloor dat God ook aan ons beloftes maak nie. God bewys immers liefde tot in die duisendste geslag van die wat Hom liefhet en Sy gebooie onderhou. En soos ons uit Retief se manifes voor sy vertrek uit die Kolonie gesien het – die Voortrekkers het gedink in terme van wat hulle geglo het die beste belang van hul kinders – hul nageslag – sou wees.

Die Gelofte en vandag – Deel 4

As ‘n mens vandag na die kalender sou kyk, is daar behalwe op die kalenders van sommige kerke, geen Geloftedag meer op aangedui nie. In die plek daarvan staan Versoeningsdag.

Beteken dit dan dat Geloftedag self ook nie meer bestaan nie? Die blote feit dat ook Hemelvaartdag op die kalender van ‘n sekulêre staat verdwyn het, beteken egter nie dat daar geen Hemelvaartdag meer vir Christene is nie.

Trouens, dit is ‘n oop vraag of die Kersfees wat ons vandag in Suid-Afrika ervaar, en toenemend met ‘n Happy Holidays op TV en elders gevier word, iets met die Christene se Christusfees gemeen het. Trouens, ons hoor al meer dat om Christus aan Kersfees te koppel, aanstoot aan nie-Christene gee. So word die Christen-Afrikaner al hoe meer ‘n vreemdeling in sy eie land.

Enkele jare gelede, ingevolge ‘n gebruik in die nuwe Suid-Afrika, het Versoeningsdag se vakansiedag op die 17de geval, omdat die 16de op ‘n Sondag geval het. Die ironie is dat die opstellers van die Gelofte juis met hul siening van viering soos ‘n Sabbat, die Sondaggebruike in gedagte gehad het.

Trouens, die slag van Bloedrivier het op ‘n Sondag plaasgevind ongeag die Trekkers se pogings om nie die slag op ‘n Sondag te laat plaasvind nie.

Ons keer weer vlugtig na Retief se aflegging van sy eed as verkose goewerneur van die Voortrekkers terug. Benewens sy eed dat hy die Christelike geloof sou aanhang en deel van die Voortrekkerstaat sou maak, het hy dit ook gekwalifiseer met die Kategismus en geloofsartikels van die Nederduits Gereformeerde Kerk. Om gereformeerd te wees, beteken om deurlopend die Wil van God in die lig van die Skrif te soek. Dit is ‘n onvoltooide proses. Dit is dus heel gepas dat ons elke jaar Skrifgetrou bestekopname oor hierdie belangrike dag doen. Trouens, die gebruik om dit jaarliks te gedenk het eers van 1864 af, toe die eerste volksfees op die terrein gehou is, posgevat. Wat binne gereformeerde tradisie onveranderd bly, is die afhanklikheid van en geloof in God, en daarom gehoorsaamheid aan God. Dit is niks anders nie as om met God te versoen.

Die Christen – as uitvloeisel van die opsomming van die Tien Gebooie, verstaan dat liefde vir die medemens onvolledig is as die liefde vir God ontbreek. Daarom, so glo die Christen, is nie net Versoeningsdag nie, maar elke dag en veral die Christelike dae, Versoeningsdag.

Hierdie gedagte staan ook nie in teenstelling met die Gelofte of die slag van Bloedrivier nie. In die laer het immers wit, swart, Voortrekker en Engelsman naas mekaar teen die uitdelgingsmag van Dingaan geveg. Ouer bronne dui aan dat daar ongeveer 450 swart en bruin mans in die laer was, amper net so veel as die Voortrekkers self. Hoewel die mag van hierdie moordmasjien nie met die slag van Bloedrivier vernietig is nie, het die veiligheidsituasie in Natal en elders so verbeter dat talle ander swart stamme wat daar vervolg is, uit hul skuilplekke gekom het. Een bron beskryf dit selfs as dat hulle “uit hul gate” gekruip het, so vreesbevange was hulle vir Dingaan se moordende impi’s.

Indien Geloftedag gestroop word van die politieke misbruik waaraan Geloftefeeste dikwels met ellelange politieke toesprake misbruik is, bly ‘n blink diamant vir die Afrikaner oor. Dit maak die Afrikaner een van min volke wat sy lotsbestemming met ‘n Gelofte aan God gebind het. Dit is geen las nie maar ‘n kosbare snoer.

In ‘n land waar die Oppergesag van God nie in die grondwet erken word nie, beteken dit allermins dat ‘n volk ook sy lotsbestemming volledig op menslike skeppinge moet toevertrou. Net meer as vyftig jaar gelede het Amerikaanse Christene daarin geslaag om die woorde “In God we trust” op onder meer hul geldnote te laat aanbring, iets wat nie-Christene bitter ongelukkig stem.

Die Gelofte beteken vir die Afrikaners dat hulle op hul harte geskryf het: Ons vertrou op God.

Om dapper te wees, beteken immers nie dat mens geen vrees ken nie. Dapperheid beteken om vrees te ken maar dit te oorwin. Net so beteken vaste geloof om terugslae te ervaar en selfs tot die dood toe beproef te word, maar steeds nie in geloof te wankel nie.

Die Gelofte

My broers en mede-landgenote, hier staan ons nou voor ‘n heilige God van hemel en aarde om ‘n Gelofte aan Hom te maak, as Hy met Sy beskerming met ons sal wees, en ons vyand in ons hande sal lewer sodat ons hulle oorwin; dat ons elke jaar hierdie dag as dankdag soos ‘n Sabbat sal deurbring, en dat ons ‘n tempel tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons dit ook aan ons kinders sal vertel dat hulle met ons hierin deel ter gedagtenis aan die toekomstige geslagte. Want die eer van Sy Naam sal hierdeur verheerlik word, en dat die roem en eer van die oorwinning Hom toekom.

Om die Gelofte van Bloedrivier as voertuig te gebruik om van God se Verbond met sy mense weg te beweeg, sou ‘n misbruik van die Gelofte wees. Dit was bedoel, en moet noodwendig staan in die konteks van ‘n Verbondsvolk.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

ockie ·

dankie Herman, jy het ons net opnuut laat besef waarom alles gaan.

Francois Bierman ·

Baie Herman vir ‘n puik geskrywe en uiteensetting waaromtrent dit gaan. Dis wat ons in die geskiedenisklas jare gelede moes geleer het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.