Die rol van ‘politieke spoilers’ in nasionale en internasionale politiek

(Foto: Wikimedia Commons)

’n Regering wat diskrimineer en droogmaak, maar weens ’n land se bevolkingsamestelling verskans is, kan sy grootste weerstand van die vrye pers, burgerlike organisasies en drukgroepe te wagte wees. Maar die openbare mening van die buiteland kan ook diktators lam in die knieë maak, mits “politieke spoilers” die openbare mening doeltreffend vasvang. Die kollig val al meer op die politieke spoilers wat moraliteit bo politieke korrektheid stel.

Politieke spoilers

Die vraag of daar iets soos internasionale moraliteit is, word sterk oorheers deur die feit dat internasionale moraliteit maar al te dikwels versteur word deur skynheiligheid, teenstrydigheid en die groot bepaler in internasionale verhoudinge, eiebelang. Dié teenstrydighede en skynheiligheid kan op verskillende maniere bepaal word, soos uit die samestelling van die VN se kalender van spesiale dae, indekse wat wys waar lande oor belangrike aspekte soos die stand van persvryheid, demokrasie en korrupsie staan, en ook in spesiale internasionale dae. Maar minstens kan ’n mens so vasstel wat in beginsel internasionale norme is, of behoort te wees. Al is dit nie volmaak nie, gee dit darem ’n aanduiding van watter lande in hierdie stadium die muishondlande van die wêreld is of behoort te wees.

En met so ’n maatstaf in die hand, waar sou Suid-Afrika staan? Eintlik sou die vraag moes lees – waar behoort Suid-Afrika te staan?

As jy nog nooit van politieke spoilers gehoor het nie, is jy in goeie geselskap, want dit behoort nie te bestaan nie. Maar as jy gaan Google, is dit duidelik dit bestaan – en in verskillende hoedanighede. Dit bestaan gewoonlik opportunisties, en definisies wat sin maak, is so skaars soos hoendertande. Dit word gewoonlik in die konteks van onenigheid, en selfs konflik aangetref, en dikwels waar die konflik gewelddadige eienskappe aanneem. Maar dit kan ook vreedsaam en selfs fatsoenlik wees, soos die rol van die sogenaamde derdepartykandidate in die VSA, met ander woorde mense wat in verkiesings staan, maar nie lede van die Republikeinse of Demokratiese Partye is nie. Op die oomblik belemmer die spoiler-element die vorming van ’n federale regering in België, en is daar sterk sprake van ’n minderheidsregering, waar in beginsel spoilers uiteraard ’n maak of breek-rol kan speel.

In Suid-Afrika, jammer om te sê, waar die Grondwet nie die eise van diversiteit / heterogeniteit behoorlik tegemoetkom nie, kan erkende instellings soos die vrye pers en burgerlike instellings, ’n enorme rol as spoilers speel om te verhinder dat die land se demokrasie in ’n diktatuur, of selfs tirannie, van die meerderheid ontaard.

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: AP)

Dít het oudpres. Jacob Zuma uitermate gefrustreer, en hy het meermale sy mond erg daaroor uitgespoel. Die bestaan of afwesigheid van ’n werklike onafhanklike regbank speel ’n belangrike rol.

Presies dieselfde spoilers wat as bates kan dien om moraliteit (op die politieke terrein) te bewerkstellig, kan as vyande van moraliteit dien. Die volgende lys is ver van volledig:

  • Politieke korrektheid
  • Politieke opportunisme
  • Selektiewe moraliteit
  • Magspolitiek
  • Belangepolitiek
  • Historiese sentimentaliteit
  • Rassisme na enige kant toe

Ons bespreek enkeles kortliks:

Politieke korrektheid: In Suid-Afrika manifesteer politieke korrektheid dikwels waar ’n persoon of ’n groep enersdenkende mense daarna streef om vir ’n spesifieke kategorie mense gelykheid te beding, maar waar die gelykheid in die praktyk lyk of dit beteken dat daardie groep meer gelyk moet wees as wat vir die ander beskore is. Hoewel dit byvoorbeeld sake soos vroueregte insluit, manifesteer dit dikwels as ’n vorm van rasbewustheid of selfs rassisme. Een manifestasie van politieke korrektheid is byvoorbeeld die Fanon-geskepte opvatting dat swart mense nie rassiste kan wees nie, ten spyte van ’n oorvloed van bewyse tot die teendeel.

Belangepolitiek: Ná die anneksasie van Koeweit deur Saddam Hoesein se Irak, het die VSA en bondgenote gou ingegryp om die olieryke Koeweit van Irak te bevry. Met Marokko en Mauritanië (en later net Marokko) se besetting van Wes-Sahara het die VSA in wese presies die teenoorgestelde gedoen en – minstens aanvanklik – die besetting (wat as anneksasie bedoel was) in wese ondersteun. Spanje, Wes-Sahara se voormalige koloniale moondheid, het slegs die administrasie, en nie soewereiniteit nie, van Wes-Sahara aan Marokko en Mauritanië oorgedra, maar lande soos Marokko en die pre-1994 SA het dié feite geïgnoreer. Marokko en Wes-Sahara beskik saam oor 72% van die wêreld se fosfaatreserwes.  Die verband met belangepolitiek kan moeilik misgekyk word.

Wie is SA se belangrikste spoilers?

Argieffoto

Daar bestaan min twyfel dat ’n objektiewe empiriese ondersoek aan die lig sou bring dat die regering self hier die belangrikste spoilers sou oplewer. Gaan maar geval vir geval van die VN se spesiale dae deur en kyk watter hiervan deur die ANC ondersteun word, watter geïgnoreer word of werklik teengestaan word. Of bloot lippediens aan bewys word.

Neem maar 21 Februarie se Internasionale Moedertaaldag, en lei die regering se verbintenis hiervan af van die breedsprakige Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, se optredes en uitsprake af. Of 1 Maart se dag van zero diskriminasie, en neem nou maar die blatante diskriminerende maatreëls vir hulp met skade gelei weens die inperkings as gevolg van die ramptoestand. Dieselfde geld vir 21 Februarie, die dag vir die uitskakeling van rassediskriminasie. En 21 Mei, die dag vir Kulturele Diversiteit vir Dialoog en Ontwikkeling klink ook nie na iets wat baie entoesiasme van die ANC sal trek nie. Die dag van 9 Augustus reik na die wêreld se inheemse bevolkings uit – nie juis die ANC se gunstelingonderwerp nie, behalwe as die ANC-ondersteuners hulself verkeerdelik as sodanig reken.

Wat gebeur waar SA internasionale konvensies onderteken en geratifiseer het, met bepalings wat grondgryp verbied, wat rassekwotas verbied en ’n aandklokreël vir regstellende aksie voorskryf?

Daar is ook heelwat spoilers wat probeer voorkom dat individue en ander instansies wegkom, en op die oomblik het die regering sy hande taamlik vol met hofsake om die regering se mentaliteit in die bek te probeer ruk. Soms, met die regering se veldtog teen Afrikaans op universiteitsvlak, kry die regering steun van ’n ander soort spoiler, naamlik die “joiner spoiler”. Dit verwys na die persoon wat sy / haar eie mense uitverkoop ter wille van vrystelling van die lot van die benadeelde groep.

Spoilers wen nie altyd

(Foto: AP Photo/Alex Brandon, File)

In moontlik die eerste omvattende meningspeiling oor rassegesindhede in die VSA sedert die dood van ’n swart man, George Floyd, aan die hand van ’n wit polisieman, is daar bevind dat daar ’n skerp toename vir die Black Lives Matter-beweging is, maar dat die konsep van alle lewens maak saak, steeds sterker is as Black Lives Matter.

Die oortuiging dat swart lewens meer saak maak as alle lewens, is hoër as vyf jaar gelede, maar die meeste kiesers plaas steeds alle lewens eerste. Kiesers verkies ook steeds ’n Blue Lives Matter-wet in hul staat om die polisie te beskerm.

Die jongste Rasmussen-peiling het bevind dat 59% van die Amerikaanse kiesers glo dat alle lewens saak maak as hulle gevra word watter van die opvattings die naaste aan hul eie is. Maar dit is laer as 78% toe Rasmussen die vraag die eerste keer in Augustus 2015 gevra het. Dertig persent (30%) sê dat swart lewens belangrik is, teenoor 11% in die vorige opname. Nege persent (9%) sê nie een van die stellings weerspieël hul eie standpunt nie.

Sestig persent (60%) van die blanke respondente en 61% van die kiesers van minderhede plaas alle lewens eerste. Onder swart mense sê 44% dat swart lewens saak maak; 47% dat alle lewens maak saak. Vyftig persent (50%) van alle kiesers steun ’n sogenaamde Blue Lives Matter-wet in hul staat, soos dié in Louisiana wat aanvalle op die polisie ’n haatmisdaad maak en die boetes vir sulke aanvalle verhoog. Agt-en-twintig persent (28%) is teen so ’n wet gekant. Dit vergelyk met 58% en 24% respektiewelik van ’n peiling in die middel van 2016. ’n Merkwaardige 22% is onbeslis. Ses-en-veertig persent (46%) van swart mense verkies ’n Blue Lives Matter-wet in hul tuisstaat, in vergelyking met 51% van beide wit en ander minderheidskiesers. Agt-en-twintig persent (28%) van die swart mense – en 22% van alle Amerikaners – beskou die meeste Amerikaners as rassisties.

Verbasend genoeg vaar die polisie beter as die wit mense. Drie en twintig persent (23%) van die swart mense – en 16% van alle Amerikaners – dink die meeste polisie is rassisties. Maar 67% van die Amerikaners beskou die prestasie van hul plaaslike polisie as goed of uitstekend.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vrystater ·

Goed gestel, Herman.

Meer as tien jaar gelede al het die Civil Rights Congress of Nigeria geëis dat swart stamhoofde in Afrika, soos die Amerikaners en Britte, moet verskoning vra vir die rol van hulle voorvaders in die slawehandel. Hulle het spesifiek gesê, “We cannot continue to blame the white men, as Africans, particularly the traditional leaders, are not blameless.”

In Makolilaan in Ndola is daar nog ‘n bordjie waarop staan: “State of Zambia – Slave Tree.” Die oorspronklike ou mahonieboom het blykbaar in 2007 omgeval. Swahili handelaars het in sy skaduwee met Zambiese opperhoofde handel gedryf in slawe wat hulle uit die ander stamme in die omstreke gevang het.

Maar, nou ja, in eie geledere behoort ‘n bordjie met die woorde, “Black Lives Matter,” in die plek waar Koning Shaka se standbeeld op die Koning Shaka lughawe voorheen gestaan het, geplaas te word. Koning Shaka hou waarskynlik die rekord vir die grootste uitwissing van swart lewens.

Jacobus ·

Jippee vir ‘n meningstuk wat nie na HSM stink agv vooroordeel en “virtue signaling. Weet deesdae nie of jy die UN as maatstaf kan enigiets kan gebruik. Een van die kommiteee oor menseregte is gelaai met lande wat geen menseregte DNA het nie. WGO – hoogs bedenklik.
Muishondlande: besoedeling deur assosiasie. Suid Afrika is ‘n land met vriende wat jou pa jou teen gewaarku het. Miskien buite die teiken, maar as die Dems die verkiesing sou wen glo ek VSA kry onmiddelike muishond status.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.