Die ‘ware’ rede vir die gastekort

As jy nie jou vloeibare petroleum gas (VPG)-bottel kan hervul nie omdat die gas in die winkel op is, moenie die amptelike redes daarvoor glo nie. Die tekorte bestaan nie omdat dit winter is nie, ook nie omdat sommige raffinaderye gesluit is nie, ook nie vanweë tydelike probleme met vier uit die ses operasionele raffinaderye nie, ook nie weens seerowery aan die ooskus van Afrika nie, ook nie weens slegte weer en groot deinings nie.

Daar is ʼn nasionale gastekort omdat die regering net meer as ʼn jaar gelede eensklaps prysbeheer ingestel het. Sedert middel Junie 2010 geld maksimumpryse in die VPG-bedryf, wat beteken dat VPG nie verkoop mag word teen meer as die maksimumprys, soos vasgestel deur die Departement van Energie, nie. Sedertdien is pryse maandeliks aangepas, soos met petrol en diesel.

Die doel, het departementele woordvoerder Bheki Khumalo destyds gesê, is om VPG meer beskikbaar te maak vir arm mense, in plaas daarvan dat verskaffers en vervaardigers toegelaat word om sogenaamde buitensporige winste te maak.

Die VPG-tekorte dui natuurlik daarop dat presies die teenoorgestelde bereik is as wat die Departement blykbaar wou. Ten spyte van die klaarblyklik goeie bedoelings, was hierdie uitkoms heeltemal te verwagte en is daar ʼn ondubbelsinnige ekonomiese verduideliking vir die tekorte.

Die winsmarges op VPG het nie uit die niet toegeneem nie. Dit het gebeur omdat verbruikers meer vraag na VPG gehad het, onder meer heel moontlik omdat meer en meer verbruikers begin twyfel het aan die stabiliteit van Eskom se elektrisiteitsvoorsiening. In die lig van die groter vraag, skuif produsente hul VPG-pryse en produksie op. Hierdie verhoging in VPG-pryse werk as ʼn teenvoeter om te keer dat te veel mense nie oorskuif na gas nie, maar steeds ʼn balans tussen elektrisiteit- en gas-afhanklikheid handhaaf.

Veronderstel die VPG-verskaffers het nie die pryse opgestoot nie. Nou sou daar geen sein aan verbruikers wees dat VPG skaarser is omdat meer mense dit wil gebruik nie. Sonder die prysverhoging kan gebruikers nie agterkom watter balans hulle tussen gas en elektrisiteit (en sonkrag, besparing, ens.) moet handhaaf nie.

Aangesien die hele doel van die Departement van Energie se inmenging in die bedryf daarop gemik was om die prys van VPG kunsmatig laag te hou, dink verbruikers dat VPG minder skaars is as wat dit is en wil hulle meer gebruik as wat daar voorraad is. Vinnig word die bestaande voorraad uitgeput.

Omdat die VPG-verskaffers verhoed word om hulle pryse te verhoog, is daar vir hulle ook minder aansporing om nog te produseer, want hulle bereik nou vinniger hulle gelykbreekpunt tussen produksiekoste en verkoopinkomste.

Die huidige VPG-tekorte is volledig toe te skryf aan die instelling van maksimum-pryse ʼn jaar gelede. Die tekorte sal waarskynlik voortduur solank as wat die maksimum-prys vasgestel word onder die markprys. Hierdie selfde beginsel geld vir alle ander produkte, soos medisyne, kos, petrol, elektrisiteit, ens.

Die rede waarom daar gewoonlik nie petroltekorte is nie, is dat die regering se vasgestelde prys bokant die markprys is. Suid-Afrikaners betaal dus waarskynlik duurder vir petrol as wat hulle sonder owerheidsprysvasstelling sou.

*artikel met erkenning aan HumanAction.co.za, hier en hier.

Piet le Roux

Meer oor die skrywer: Piet le Roux

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie Sakeliga.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae