Eie Afrikaanse onderriginstellings nou noodsaaklik

Daar word vanoggend berig dat skool- en universiteitsgelde drasties met 10% in 2012 gaan styg. Volgens ʼn skatting deur een van Solidariteit se jong navorsers, Paul Joubert, kan inflasie oor die laaste 12 maande op 4,6% vasgepen word. Dus gaan onderriggelde in 2012 teen meer as dubbel die koers van die vorige jaar se gemiddelde inflasie styg. Volgens Nuus24 gaan dit ouers volgende jaar R800 kos vir hul gr. 1-kind en uiteindelik R171 000 vir die kind se totale skoolopleiding. Dit is inderdaad moeilike tye. . .

Afgesien van die geldelike aspekte, daal die gehalte en verander die aard van onderwys tans in Suid-Afrika. Eerstens is die aantal leerlinge, veral swart leerlinge, sterk aan die toeneem op die primêre, sekondêre asook tersiêre vlakke. Volgens die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsbank het die aantal swart inskrywings by universiteite vanaf 473 000 in 1993 gestyg tot 799 388 in 2011. Volgens die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) se syfers het die aantal wit studente aan universiteite in 2008 op 178 140 gestaan terwyl die aantal swart studente 515 058 was. In eenvoudige ekonomiese terme stoot dit dus die aanvraag vir onderrig op met ʼn gepaardgaande verhoging in die kostes daaraan verbonde. Die aantal hoëronderwys-instellings het nie in die ooreenstemmende tydperk gelykmatig gegroei nie en in sommige gevalle is universiteite en technikons saamgevoeg om universiteite van tegnologie te vorm. Geen wonder die klasgelde styg so geweldig nie.

Met hierdie veranderende demografie van die studentekorps beteken dit ook dat sekere aspekte van die onderwysstelsel in SA noodwendig gaan verander. Meeste van die swart leerlinge in hoër onderwys het uit swakkerige tot baie swak skole gematrikuleer waar die standaarde nie naastenby so goed soos in die hoofsaaklik wit en Indiër-skole is nie. Van die 1,44 miljoen leerlinge in die gr. 1-klas van 1998 het slegs 522 073 matriek in 2009 bereik en 334 000 het die matriekeksamen geslaag. Dus het net sowat 25% wat in 1998 begin het, skool klaar gemaak. Dit raak selfs erger. Van die 334 000 het net 109 000 toelating vir ʼn B-graad gekry – oftewel 7,6% van diegene wat aanvanklik in 1998 met skool begin het. Die samesmeltings om universiteite van tegnologie te stig, is tekenend van die daling in standaarde weens die tegemoetkoming van die groot getalle leerlinge uit swakker skole. Die kwalifikasies van baie van Suid-Afrika se hoër onderwys-instellings het uiters verdag geraak weens hierdie feit. Dus betaal ons meer en meer vir grade en kwalifikasies waarvan die gehalte gaandeweg verswak.

Daarenteen vaar die Afrikaanse skole goed. Die onderwyskenner Huw Davies vermeld dat terwyl die SA onderwysstelsel die swakste presterende onderwysstelsel in Afrika is, is die Afrikaanse skole van wêreldgehalte en van die beste in die land. Hul matriekslaagsyfer is 91,5% teenoor 60,7% landwyd. In nie een van die provinsies het minder as 85% van die Afrikaanse leerlinge (van alle rasse) in 2009 geslaag nie. In Noordwes was dit selfs ʼn bykans ongekende 98,4%.

Die ander kwessie is dat omdat Afrikaanse leerlinge ʼn kleiner proporsie van die studentekorps uitmaak, ly Afrikaans as voertaal op universiteit hieronder. Dit beteken heelwat Afrikaanse leerlinge kan sekere kursusse aan histories Afrikaanse universiteite (HAU’s) nie langer in Afrikaans doen nie, akademiese werk in Afrikaans verminder ook en baie van hierdie universiteite verloor hul tradisionele Afrikaanse karakter, soos gesien by die Universiteit van Johannesburg (UJ) en dit is ook aan’t gebeur by die Universiteite van Stellenbosch en Pretoria. Ek twyfel of ek my grade sou kon behaal as ek nie – ten minste aanvanklik – in Afrikaans klas gekry, geleer, my navorsing kon doen en eksamen kon skryf nie. Geen wonder swart leerlinge van die platteland wat nie Engels goed magtig is nie, sukkel so op universiteit nie. Prof. Hermann Giliomee het in 2010 bevind ongeveer 80% van bruin en wit Afrikaanse jeugdiges verkies Afrikaans op tersiêre vlak. Die merkwaardige groei in getalle by universiteite soos die PUK en Kovsies waar daar sekerheid oor Afrikaans is teenoor die daling by Tukkies, Maties en die UJ spreek vanself.

Wat beteken al hierdie feite in die konteks van onderriggelde wat styg? Met die aanvraag na onderrig wat uit die swart gemeenskap toeneem en die regering se onverbiddelike pogings om transformasie ten koste van als anders toe te pas, is die idee agter ʼn private Afrikaanse universiteit en ander instellings wat tegniese rigtings aanbied, van groot belang. Universiteite regoor die land kom onder druk om Afrikaans af te skaal of weg te doen daarmee om meer toegang te skep. Hierdie druk gaan nie verdwyn nie, maar slegs toeneem. Die fooie gaan ook toeneem soos wat die toegang onhanteerbaar vergroot word.

In hierdie verband het die Solidariteit Beweging het juis klaar ʼn tegniese kollege opgerig waar die studentetalle fenomenaal gegroei het in vyf jaar se tyd. Hierdie studente word in skaars tegniese vaardighede in Afrikaans opgelei. Selfs regstellende aksie kan nie keer dat hierdie studente hoogs gesog is in die arbeidsmark nie. Baie van hulle word ook entrepreneurs wat ander mense in diens stel. Voorts is die Beweging besig met fondsinsameling om ʼn private Afrikaanse universiteit genaamd “Die Kampus” in Pretoria te bou. Die bouwerk sal na verwagting in 2013 sy aanvang neem en die kollege gaan by die universiteit geïnkorporeer word sodat tegniese en akademiese rigtings saam op een kampus aangebied word. Kleiner hoeveelhede akademiese en administratiewe personeel sal die onkoste en burokrasie beperk. Hierdie instelling sal steeds met ander instellings en universiteite vir Afrikaanse studente moet meeding en daarom sal die aanvraag en kostes laer wees as by ander mega-universiteite met Engels as primêre voertaal. Laasgenoemde bars uit hul nate en diskrimineer boonop teen uiters belowende wit studente weens hul velkleur. Die Britse ekonoom E.F Schumacher was dus in die kol met sy 1973-boek, Small is beautiful, waarin bepleit word dat alles van die ekonomie tot onderrig beter op ʼn kleiner skaal bestuur word. Daardeur kos jou gahalte-onderrig minder en kry studente meer persoonlike aandag by onderwysers en dosente.

Om af te sluit wil ek ʼn pleidooi aan mense lewer om hul kinders na Afrikaanse skole te stuur en hul instellings met Afrikaans as voertaal te ondersteun. Daardeur verseker jy dat jou kind ʼn gehalte-onderrig kry, waarskynlik universiteitsvrylating verkry, onderrig word in hul moedertaal en al die onderliggende waardes wat daarmee saamgaan en les bes, seker maak dat die kostes billik bly.

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Louis du Plessis ·

DIE FEITE ROEP

1 So gereeld preek bydraers tot die Groot Debat vir ander, vol eie ideologiese vooroordele, en meestal negatief. Dikwels word anti-ANC-sentimente verpak in breedsprakige ideologie, soos variasies van konserwatisme, wat hoog in die wolke rond sweef. Vae en min-seggende frases word soos afgeleefde rafels wol aan mekaar geryg om ‘n nuwe ou jas te maak, reg vir enige onkieskeurige boemelaar. Met plaaslike omstandighede het sulke metafisiese gebrabbel meestal min te doen. Dit kan net sowel oor Chile of Mauritanië handel!

2 Dis hoekom dit so verfrissend is as ‘n bydraer, vir ‘n verandering, konkrete feite vasvat en sy standpunte op sulke feite bou.

3 So ‘n skitterende ster is Eugene Brink se pleidooi vir Afrikaanse onderwys. Nie op niksseggende clichés nie, maar op die vaste fondament van objektiewe demografiese tendense, ontbloot hy die al kleiner wordende en emosioneel senutergende rol van Afrikaanse skoliere en studente binne die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel. Op grond van bewese data, soos die slaagsyfer van Afrikaanse skoliere, en die geldige argumente wat hy daarop bou, pleit hy dan subjektief vir onderwys in ons moedertaal.

4 So verpak hy die onvervreembare (subjektiewe) regte van ons volk in onweerlegbare (objektiewe) feite.

5 Sy oproep is só oortuigend – ons kan nie help om ons ore te spits en ons hande uit te steek nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.