Europese verkiesing: Bloedneus en wins vir regs

Die grafika toon die groeperings aan op ’n vertaalde weergawe van Trouw se skets. Grafika: Herman Toerien

Die grafika toon die groeperings aan op ’n vertaalde weergawe van Trouw se skets.

Terwyl die regse Franse Front Nasionaal in die verkiesing vir die Europese Parlement, wat Sondag ten einde geloop het, as die grootste party in Frankryk na vore getree het, het die bekende Geert Wilders van Nederland se PVV, en die Vlaamse Belang in België agteruit geboer.

Die Christen-demokrate het soos verwag as die grootste groepering na vore getree, hoewel ‘n klompie setels ingeboet is. Anders as wat vooraf verwag is, het die sosialiste nie gegroei nie. Veral die Franse sosialiste van pres. François Hollande, het sleg op hul baadjie gekry.

Die regse partye, wat uit ‘n bont verskeidenheid van konserwatiewe, Euroskeptiese en “onverbonde” partye bestaan, het veral in Frankryk en Brittanje verrassend goed gevaar. In Duitsland het die regse party wat skaars ‘n jaar oud is, ook goed vertoon, en so ook in lande soos Oostenryk en Griekeland. In Griekeland het die Euroskeptiese radikaal-linkses egter die botoon gevoer. Hul groei is te wyte aan die streng maatreëls wat die EU op die luilekker Griekse ekonomie plaas.

Die Vlaamse Belang het verbysterd op sy verliese gereageer en meen sy lede het vir die Nieuw-Vlaamse Alliantie (N-VA) van Bart de Wever gestem. Die N-VA kan min of meer as die Vlaminge se Vryheidsfront Plus beskryf word met sy aandrang op groter soewereiniteit vir Vlaandere, en het onlangs konfederalisme vir België op die tafel geplaas.

Die Front Nasionaal van Marie le Pen is veel meer gematigd as toe die party onder die leiding van haar pa gestaan het. Le Pen het dedelik ’n beroep op Holalnde gedoen om die parlement te ontbind en ’n verkiesing uit te roep omdat dit duidelik is dat die parlement nie meer die kieserswil verteenwoordig nie. De Wever sal ewe-eens sy party se groei probeer gebruik om in die Belgiese koalisieregering opgeneem te word. Hoewel die party in Vlaandere reeds die grootste was, is dit in die federale konteks ’n opposisieparty.

Wilders, daartenteen, hou die PVV op ’n sterk radikale koers al vervreem hy daardeur deurlopend van sy ondersteuners.

Hoofbronne: Trouw en De Standaard

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.