Hoe die inligting-wetsontwerp daarna uitsien

Eugene Brink

‘n Man neem deel aan ‘n optog na die parlement teen die beoogde Wet op die Beskerming van Inligting. Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Die feit dat die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting deur die ANC vir parlementêre debatvoering in die Nasionale Vergadering (NV) teruggetrek is, is tekenend van die druk waaronder die ANC verkeer. Om hierdie stap deurgrondelik te verklaar, moet eers bestek van die woelinge in die ANC self, die drieparty-alliansie en ook die politieke toneel opgeneem word.

Volgens Business Day (19 September 2011) voer die ANC aan dat dit nié weens druk uit die burgerlike samelewing, deur opposisiepartye en ander eksterne rolspelers is wat hierdie besluit geneem is nie. Dit is egter nie waar nie en vertel ook nie die volle waarheid nie. Volgens ‘n anonieme ANC-bron is die ANC self verdeeld oor die wetsontwerp en wil ‘n segment dit eerder in lyn met die grondwet bring. Dus is daar interne sowel as eksterne druk op die ANC om die wetsontwerp te los.

Eerstens het Cosatu se druk heelwat gedoen om die ANC tot nuwe insigte te bring. Die ANC, en veral sekere figure binne die party, wil nie so ‘n groot vennoot die harnas injaag voor volgende jaar se Mangaung-konferensie nie. Die ANC self is redelik verdeeld oor ander kwessies, vernaam die presidensiële suksessiestryd, die appèl op die ‘Skiet die Boer’-hofsaak en Julius Malema se tugsaak, in die aanloop tot die konferensie. Die party se leierskap wil dus nie hê verdere verdeeldheid moet oor ‘n kleiner politieke aangeleentheid, wat buitendien baie ongewild is, gesaai word nie. Die party staan vas dat dit nie eksterne druk is wat tot die nuutste besluit gelei het nie, maar dit is uiters dubbelhartig om so ‘n verduideliking te lewer. Hulle het immers die media, wat die land se inligtingsbronne is, aangevat en dus ‘n groot bohaai ontketen. Prominente artikels, optogte deur die Right2know-veldtog en stemme uit opposisiegeledere het ver gegaan om hierdie wetsontwerp “in die kiem te smoor”.

Die ANC het geen aanduiding gegee wanneer hierdie wetsontwerp verder gevoer kan word nie en volgens verskeie mediabronne is dit onbepaald uitgestel. Die parlement het nou ook sy lente-reses en die ad hoc komitee getaak met die wetsontwerp het ontbind. Dit gaan dus weer spesiale parlementêre maatreëls op ‘n latere stadium verg om ‘n finale besluit hieroor te neem. Met al die ander politieke prioriteite en die interne politiek gedurende die res van die jaar en in aanloop tot die 2012 nasionale ANC-konferensie sal hierdie kwessie weinige aandag verder geniet. Die ANC het te min om hieruit te baat en te veel steun en interne kohesie om te verloor vir dit om ‘n prominente saak in die afsienbare toekoms te wees. Hoewel dit steun binne sommige kringe in die ANC geniet (Gwede Mantashe is by uitstek ‘n ondersteuner van groter mediaregulering), is dit nie ‘n gewilde kwessie binne die drieparty-alliansie, groot dele van die ANC of die res van die land nie. Dus vorm die ANC self nie ‘n verenigde front ten aansien van die wetsontwerp soos dit tans, sonder ‘n openbare verweer, daarna uitsien nie. Die wetsontwerp is boonop ook ongrondwetlik en die ANC weet dit. Terwyl hulle ‘n politieke bloedneus gekry het, wil hulle dit nie erken nie en is die tydsberekening vir die uitstel van die debat (kort voor die reses) en die tekort aan redes vir die besluit, tekenend van ‘n langerige of onbepaalde vertraging daarvan. Die ANC wil daarmee die deur ooplaat vir die latere inwerkingstelling daarvan en nie polities bloos nie terwyl die tekens daar is dat die party hoop dat die reses die politieke temperatuur sal laat afkoel. Dus kan dit weer weer opgerakel word, maar die verwagting is dat dit nie gou gaan gebeur nie en heelwat verstellings gemaak gaan word voor die volgende ronde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.