Internasionale druk as wapen teen rassisme en stommiteite in SA

ras-regstellende-aksie-race

Argieffoto

Burgerlike bewegings, soos die vrye media, is integrale dele van ’n goed funksionerende grondwetlike demokrasie. Die vorige regering is ook so deur ’n magdom instansies onder druk geplaas, ook instansies wat binnelands bestaan het en waarvan ’n hele rits onwettig verklaar is. Van hulle het selfs blatant die destydse terreuraanvalle goedgepraat, geregverdig en, onder meer, die plegers van nieselektiewe aanvalle gehelp en as helde voorgehou.

Met die skoen in ’n sekere sin aan die ander voet is die ANC en meelopers geneig om instansies wat nou die buiteland nader, as dislojaal teenoor die land te beskryf, of selfs hoogverraaiers te noem – selfs al is die skuldiges die aanhangers van ideologieë wat die land deur die ekonomie verwoes, lamsakkig teen korruptes optree, onbevoegdes voortrek, asook blatant rassisties optree. Binne die vollediger konteks lyk die prentjie oor wie die skuldiges is, veral as die ontevredenes volledig binne die reg (asook die internasionale reg) optree, heel anders.

Twee instansies kry op die oomblik heelwat nuusdekking, steun (en ook afkeer) oor aksies om die regering te dwing om van verskeie rasdiskriminerende en heel duidelik ongrondwetlike optredes af te sien, naamlik die Solidariteit Beweging en een van sy filiale, AfriForum. Lees onderskeidelik Flip Buys, voorsitter van Solidariteit Beweging en Kallie Kriel, hoof van AfriForum se standpunte hier en hier.

Die aksies is nie nuut nie, en dié twee instansies is lank nie die enigste wat die regering tot ander insigte probeer oorhaal nie. Die regering en meelopers van die ANC reageer dikwels heel pikant, soos om die instansies, wat die regering se nieu-apartheidsbeleidmanifestasies by die naam rassisme  noem, self as rassisties te bestempel.

Wapen in die hand 

Die verklaarde ramptoestand wat in Suid-Afrika afgekondig is om die Covid-19-pandemie die hoof te bied, is nou meer as 50 dae van krag, en veral kritiek op die grendeling, veroorsaak nou burgerlike weerstand, en veral die regsgeldigheid daarvan kom onder die loep.

As ’n mens die inhoud van die VN-Konvensie, die Internasionale Konvensie oor Ekonomiese, Maatskaplike en Kulturele Regte lees, is dit gewoon moeilik om te begryp op watter grond die regering dink hulle kan daarmee wegkom deur belangrike aspekte daarvan te oortree. Tensy hulle dieselfde houding inneem as met die destydse Omar al Basjir-saak. Hierdie verdrag is deel van ’n pakket wat die VN aanvaar het om volledig aandag aan menseregte te gee.

Die reg om te kan werk

Met die donderstorms wat losbars oor die werkverliese wat die inperking tot gevolg het, kan dit nie ’n geheim wees dat daar grootskaalse werksverliese gaan wees nie. Dit word hoofsaaklik toegeskryf aan die inperkingsregulasies – wat op hul beurt deur kenners oor bykans die hele spektrum en wêreldwyd – wat nou as onnodig of uitgedien afgemaak word. Objektief beoordeel, hoe kan die regering nie skuldig wees daaraan om die reg om te werk, te oortree nie, veral as dit volhou om die beste kundiges se advies oor inperking in die wind te slaan en eerder hul ore vir die uilskuikenadvies van hul eie adviseurs uit te leen nie? (Hierdie vraag is wel oorvereenvoudig gestel, maar is demonstratief bedoel om die probleem te belig.)

Sonsondergangklousule en verbod op kwotas

Die konvensie verbied onder andere ook rassisme en kwotas, en vereis ’n sonsondergangklousule. Beide die FW de Klerk Stigting en die Dullah Omar Instituut het die ratifikasie verwelkom, en die Instituut was deel van ’n groep instansies (meestal erg links) wat ’n veldtog gevoer het dat Suid-Afrika sy ondertekening daarvan moet eerbiedig.

Tog is die regering bereid om blatant rassistiese wetgewing wat rassisties toegepas word, te aanvaar, en daarvoor voor die hof gesleep te word. Ongelukkig het Solidariteit en AfriForum die aanvanklike verhoor in die hooggeregshof verloor. Beide AfriForum en Solidariteit het op grond van dringendheid toestemming gevra om die konstitusionele hof regstreeks met ’n appèl te nader. Solidariteit se aansoek is reeds afgekeur op grond van redes wat yl en verdag klink.

Rassisme

Boonop volhard die regering om ook rassisme in te sleep met noodhulpvergoeding waarop landbouers weens die nasionale droogte kan aanspraak maak.

Veral artikel 2.2 is baie duidelik: “Article 2.2 The States Parties to the present Covenant undertake to guarantee that the rights enunciated in the present Covenant will be exercised without discrimination of any kind as to race, colour, sex, language, religion, political or other opinion, national or social origin, property, birth or other status.”

Ingevolge die Grondwet word ’n geratifiseerde Konvensie eers van krag nadat die Nasionale Vergadering dit ook goedgekeur het. Dit het in November 2013 gebeur, maar het eers op 12 Januarie 2015 regskrag gekry, en het oplaas op 12 April 2015 van krag geword.

Geen gekibbel oor bindingskrag

Die feit is dat daar nie meer oor die gebondenheid aan die verdrag gekibbel kan word nie. Die enigste voorbehoud wat die regering daarby geplaas het, was die bepaling van gratis verpligte onderwys, wat pres. Jacob Zuma self later aangekondig het.

Die volgende aspekte kan ingevolge die konvensie aangepak word:

  • Die reg om te werk. Die geskrewe teks van die Grondwet gun die reg om te staak, maar nie die reg om te werk nie. Met die ratifisering van die Konvensie is daardie reg egter via grondwetlike bepalings veronderstel om deel van ons volle regspakket te wees.
  • Die konvensie veronderstel die bestaan van ’n sonsondergangklousule ten opsigte van affirmative action. Ek gebruik doelbewus die Engelse begrip, omdat daar myns insiens ’n enorme verskil tussen affirmative action en regstellende aksie is, veral as daar nie ’n sonsondergangklousule is nie. Met ander woorde, daar kan onbepaald met affirmative action voortgegaan word sonder die geringste poging om enigiets reg te stel. Dit gebeur byvoorbeeld in die VSA waar mense beweer hul een oumagrootjie was ’n Indiaan, en daarom kwalifiseer dié persoon vir ’n hoë pos, veral as die persoon boonop vroulik is. Persone het al op sulke poste aanspraak gemaak, en plek-plek gekry, op grond van aansprake van een sestiende onbewese Indiaanse bloed.
  • Om onbeperk op grond van velkleur op voorkeur aanspraak te maak, druis in teen kenmerke van demokrasie, en veral ons Grondwet wat sterk op individuele regte, eerder as groep- of minderheidsregte gefokus is. Kom dit by affirmative action word gewoon van die beginsel afgewyk en bloot na die ras gekyk. Die konvensie verbied egter kwotas (en diskriminasie op grond van ras). Niemand hoef daaraan herinner te word dat die regering kwotas inspan nie.

Indien Solidariteit, AfriForum en ander se saak sou sneuwel, het die konvensie ’n baie misleidende naam. Lees gerus, Arm Amerika, in de Standaard om te demonstreer dat affirmative action en regstellende aksie nie deur diskriminerende wette oornag ondervang en opgeklaar kan word nie. Maar dit lyk inderwaarheid asof die regering vas van plan is om met juis sulke wette en ideologieë te volhard en ’n misoes te waarborg.

Kommentaar

Op die oog af lyk dit of Solidariteit en AfriForum ’n waterdigte saak het om minstens oorsee te moet slaag. Binnelands is daar skerp vrae oor beide die Grondwet en die interpretasie daarvan deur die howe, en veral die konstitusionele hof.

Die verdrag is teen Januarie vanjaar deur 170 partye onderteken met vier lande (die VSA ingesluit) wat dit geteken het, maar nie geratifiseer het nie.

’n Soortgelyke konvensie, dié op Burgerlike en Politieke Regte, wat deur 160 lande geratifiseer is, kan moontlik ook met vrug aangewend word. Dit bevat die volgende elemente, soos beskryf deur Wikipedia: “Alle volke het die reg tot selfbeskikking, waaronder die reg om hul politieke status te bepaal en om vryelik hul ekonomiese, maatskaplike en kulturele ontwikkeling te bevorder.”

Let wel, Suid-Afrika het dié verdrag reeds in 1994 onderteken. Dus, onder die nuwe bedeling, is dit in 1998 geratifiseer, en die volgende jaar geïmplementeer. Ook hier kan ernstige vrae bestaan oor of die regering hom by sy ondernemings hou.

Voeg hierby nog talle ander verdrae wat rassediskriminasie veroordeel en eiendomsreg waarborg.

Ongeag formele regsuitsprake sal hierdie prosesse wel deeglik uitlig wie die werklike skurke in die verhaal is.

Na sowat ’n dekade wat lesers die daaglikse nuuskommentare kon lees, word die rubriek nou deur ’n nuwe weeklikse rubriek vervang, “Die wêreld onder die loep” deur Herman Toerien.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

kom ons vra die ANC om die grondwet as volg te verander: apartheid kom terug. wit mense is die slagoffers. wit mense verloor hulle stemreg vir die nasionale parlement. hulle word almal verskuif na die wes-kaap. onteiening sonder vergoeding begin dadelik in die res van SA. Die wat wag om verskuif te word, mag solank het sekere soorte werk doen. dus verdwyn wit monopoliekapitaal. In die wes-kaap kry wit mense ‘n vorm van selfregering. buitelandse belegging word ook daar toegelaat. belastings is meer as in die res van SA, om die staatsinkomste van die res van SA tevrede te hou.… Lees meer »

Wielspore

In my leeftyd is die volgende op my of ons as gesin afgedwing, 1979 word die gebied waarin ons huis staan as buffer gebied verklaar en ons moet trek binne 2 weke. Ons verhuis na ‘n ander dorp en begin ‘n nuwe lewe, ek word verplig om 2 jaar diensplig te doen in 1982, in 1985 kwalifiseer ek as ambagsman en kry nie aanstelling by die werkgewer omdat Indiers slegs in KZN mag werk. Ek word verplaas en begin weer ‘n nuwe lewe. Vandag is ek geensins ongelukkig oor my lewenspad, hierdie gebeurtenisse het my ‘n beter mens gemaak en… Lees meer »

Johan

Wens daar was ‘n webblab waar mense wat hulle werk verloor het, of besighede wat hulle deure moes toemaak kan gaan se. Ietsie soos 1. Koos Meyer/Mug & Bean/Einde April afgedank/vrou en drie kinders 2. Janneman Smit/eienaar van harde waarde winkel/maak winkel toe einde Mei na 20 jaar/50 werknemers verloor hulle werk. Die probleem is dat hier en daar hoor mens van gevalle maar dit is nie in een plek bymekaar gebring nie. Ek weet Vrouekeer en Rooi Rose en ‘n paar ander tydskrifte is nie meer nie. My skoonsuster is einde April afgedank. En soe kan ons aangaan en… Lees meer »

Kanjynoumeer

Daar is nie meer vir Afrikaners (wit mense) maklike besluite rakende die toekoms oor nie, maar dit kan juis die nodige energie opwek wat nodig is om n uitweg uit die huidige doodloopstraat te vind.
Flip Buys
Uit sy boek DIE PAD NA SELFBESTUUR

Pieter

Dit is die wereld wat die ANC gehelp het. Hoekom sal hulle nou iets wil se tot ou trump gee vir die sirkus geld